#JongStemme: Mooi genoeg of genoeg mooi?

Deur Lezahne Nel

Lezahne Nel.

ʼn Medeklasmaat het eendag ʼn belangrike klas gemis. Tot my verbasing was die rede hiervoor dat sy, volgens haar, nie mooi genoeg gelyk het om dié klas by te woon nie.

My oorheersende gedagtes was dat sy tog beter moet weet, dat intelligente vroue vandag beter weet. Statistieke toon dat agt uit 10 vroue sosiale geleenthede, klasse en selfs onderhoude nie bywoon nie, omdat hul nie mooi genoeg vir hulself lyk nie. Hierdie is selfs van toepassing op die hoeveelheid vroue wat nie eens vrae in ’n klas wil beantwoord nie.

Daar is geen probleem daarmee om mooi te wil lyk nie, inteendeel, glo ek dit is ʼn vorm van bemagtiging. Die werklike kwessie is dat spesifiek vroue meer tyd en geld spandeer op hul voorkoms as op hul toekoms, onderrig en persoonlike groei. Waarom praat niemand oor die invloed van ʼn slegte liggaamsbeeld op die geletterdheid- en geleerdheidsvlak van vroue nie? Hoeveel tyd in ʼn dag spandeer jy aan hoe jy lyk, eerder as tyd op persoonlike groei, onderrig en jou toekoms?

Daar is wel waarheid in die stelling dat vroue van beter weet. Vroue weet dat die skoonheidsbedryf onrealistiese doelwitte stel en dat omtrent alle skoonheidverwante advertensies gedokter word. Alhoewel so, sal 54% van vroue steeds eerder deur ʼn vragmotor getref word as om vet te wees. In plaas daarvan dat vroue verontwaardig hierop reageer, debatteer ons oor presies hoe seer die ongeluk gaan wees. ʼn Slegte liggaamsbeeld het ʼn direkte invloed op jou selfbeeld, so ook het ʼn slegte selfbeeld ʼn direkte invloed op jou geestestoestand. Met ander woorde, ʼn slegte liggaamsbeeld kan lei tot depressie, eetversteurings en angs. Die kommerwekkende deel is dat slegs 4% van vroue wêreldwyd hulself as mooi ag.

Konstant word daar spesifiek oor vroue se voorkoms opmerkings gemaak deur familie, vriende en selfs vreemdelinge. Watter “voorbeeld” is hierdie, veral vir jonger meisies as daar daagliks gepreek word dat “jou fisieke voorkoms nie saak maak nie?” Die meerderheid van komplimente wat veral aan jong meisies gegee word, is gebaseer op hul fisieke voorkoms, in plaas van enige van hul ander vele goeie eienskappe of talente. Daar word eerder gesê “Jy is mooi,” as “Jy is slim.” Alhoewel vroue op verskillende ouderdomme uniek mooi is, bereik almal ʼn hoogtepunt in hul skoonheid. Dus word jong meisies opgesit vir teleurstelling wanneer die klem op hul voorkoms gelê word, in plaas van ander eienskappe wat hul gevolglik glo nie so belangrik is nie. Al is dié kwessie iets waarmee talle vroue daagliks sukkel, word hierdie bose kringloop steeds nie beëindig nie.

Dove het ʼn radioadvertensie gemaak wat die boodskap wil oordra dat hoe meer iemand jou laat dink oor jou liggaam, hoe meer sal jy gevolglik en onvermydelik dink daaraan. Dit lui so: “Dink byvoorbeeld aan jou tong… gewoonlik kom jy skaars agter dat dit daar is. Noudat ek dit noem, kan jy voel hoe jou tong teen jou onderste voortande stamp. Jy kom nou agter dat jou tong ʼn bietjie te lank vir jou mond is…” Hiermee wil Dove uitbeeld dat hierdie kort boodskap oor jou tong jou onvermydelik bewus gemaak het daarvan. Dink dan jouself in oor die gevolge van honderde boodskappe wat vroue daagliks oor hul voorkoms ontvang en die impak hiervan.

Alhoewel hierdie boodskappe giftig is, is dit belangrik om te begryp dat jy steeds self kies wat jou as persoon definieer. Jy kies of individue wat negatiewe kommentaar lewer oor jou voorkoms, jou definieer as persoon. Of jy kies dat al jou ander goeie eienskappe jou eerder definieer.

Hoe om mooi te wees as ʼn geheel: Spandeer minder tyd aan jou fisieke voorkoms en meer tyd daaraan om iets van jouself te maak.

  • Lezahne Nel (21) is ʼn finalejaarstudent in BA kommunikasie aan die NWU se Potchefstroom-kampus.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.