#JongStemme: My bottel filosofie

Deur Esmari Marais

Esmari Marais.

Elke mens is soos ’n leë Consol-bottel wanneer hy/sy gebore word. Silwerskoon glas, deursigtig en breekbaar.

Die bottel is nie in staat tot enige iets op sy eie nie. Hy kan nie ’n bal vang nie, sy kan nie danspassies uitvoer nie. Die bottel ken nog nie sy beperkinge, afmetings of kapasiteit nie. Al wat die bottel kan doen, is ontvang.

Maar hierdie Consol-bottel het die potensiaal om ma se ingelegde vrugte in te bêre, om spaargeld bymekaar te hou vir daardie droomvakansie, om detoks-smoothies vir die oefenverslaafde van die familie vars te hou. Hierdie Consol-bottel kan ’n teekersie laat lyk soos ’n lig wanneer daar saans beurtkrag is. Die bottel kan gebruik word om verf in te meng vir die nuutste se verfprojek. Hierdie Consol-bottel kan suurdeeg in hê, wat later gebruik sal word om brood mee te laat rys; en hierdie Consol-bottel kan grond, kunsmis en ’n saadjie in kry om op jou vensterbank te staan en die kamer te laat ruik na ’n Afrikanertjie in die winter.

Ons elkeen was ’n leë Consol-bottel toe ons gebore is. Kristalhelder, deursigtig en breekbaar.
Ons was nog nie in staat om enige iets op ons eie te kon vermag nie; ons het staat gemaak op die invloede rondom ons wat met hul tyd en geduld insette in ons geplaas het. Onbewus dat daar iets mag bestaan soos beperkinge, afmetings of van kapasiteit.

Ons het ma toegelaat om ons te leer van ouma se resepte wat sy al effens aangepas het na haar eie smaak. Ons het by ons ooms en tannies geleer hoe om te droom en dit te laat waar word. Ons het ook geleer hoe belangrik dit is om te oefen (sodat ons nie skuldig voel oor die tweede skeppie wat op ’n Sondagmiddag in ons borde beland nie.)

Ons het steeds die potensiaal om die lig te wees in donker, soms ongemaklike, tye. Ons is in staat om kunstig te wees; al jok ons vir onsself wanneer ons sê: “Al wat ek kan teken, is ’n stokmannetjie”.
Ons kan die suur binne ons gebruik as ’n leerskool om dit te verander in iets wat groter kan uitrys as wat ons wildste drome ooit sou voorspel. Ons kan selfs ons eie beperkinge oorskry en iemand anders tot hul volle potensiaal laat kom; want niemand kyk vir die bottel op die vensterbank nie, maar vir die Afrikanertjie.

Die punt wat ek wil maak, is om te sê dat, alhoewel ons vir onsself sê dat ons slegs die diepte het van een liter, het ons die potensiaal van ’n duisend milliliter. Ons het soveel ruimte binne onsself vir meer dinge, emosies en vaardighede.

My tannie het een vakansie vir my gesê dat sy geleer het ’n mens kan enige iets doen as jy regtig wil. Dit was op ’n oomblik waar haar kersie helder deur die kristalhelder Consol-glas geskyn het en vir my lig gemaak het met die wete dat dit die beste raad is wat ek nog gehoor het. Daar is altyd plek vir nóg vaardighede binne jou “glas”. En sodra jy vol word, begin jy oorloop en in die bottels om jou invloei.

  • Esmari Marais is ‘n tweedejaarstudent in kommunikasie aan die NWU se Potchefstroom-kampus.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.