#JongStemme: My brief aan elke ander Suid-Afrikaner

Deur Ansie Bylsma

Ansie Bylsma. (Foto: Verskaf.)

Hierdie woorde kom uit ʼn dankbare hart. Dankie aan die groot aantal mense wat my vorige skrywe, #JongStemme: Maar wat van daai één ding, oom Cyril?, gelees en gedeel het. Ek sukkel om te verwoord hoe dit voel om te sien hoeveel ander mense hierdie kwessie net soos ek beleef.

Maar ek wil ook vra: Is dit nou dít? Is ons klaar, nadat ons ʼn keer of wat gesê het hoe ons voel oor plaasaanvalle? Is dit genoeg? Beslis nie! Ek maak my oë toe en ek sien my vyfjarige self. ʼn Regte klein rabbedoe, wat kaalvoet in die rooigrond speel. Sy het geen benul hoe kinderlik bang sy 15 jaar later sou wees, elke keer dat Blikkies in die nag blaf nie. Sy sou nooit kon raai dat hierdie stukkie aarde waarop sy leef die rede sal word vir die teiken op haar rug nie.

Ek laat my gedagtes toe om die toekoms in te gaan. Ek dink myself verby groot gebeure soos my gradeplegtigheid en troue. Ek glimlag … maar dit is van korte duur. Ek verbeel myself hoe ek plaas toe ry, ek gaan kuier seker ʼn bietjie. Iets is nie reg nie. Is dit die leë stukke grond, waar daar altyd mielies was, wat gelyk het asof hulle tot in die hemel wou groei? Is dit die boorde waarby ek altyd verbygery het, wat skaars herkenbaar is soos dit toegegroei is? Is dit die plaashuis, wat ʼn mens van die pad af kan sien, wat nou niks meer as vier mure en ʼn hartseer storie is nie? Is dit die geskreeu van ongeregtigheid wat weergalm tussen die berge? Ja, ja, ja en ja. En my oë gaan stadig oop. Dit is ons land se lot. Dít is hoe ʼn Suid-Afrika sonder boere lyk. En anders as in my verbeelding, is dit nie jare van nou af nie … dit is voor ek en jy ons oë uitvee. Dit klop-klop al aan ons voordeur.

Elke plaasmoord is ʼn dag nader aan hierdie nagmerrie. Elke aanval versnel die reis na hierdie donker gat waarheen ons op pad is. En waarom sal ons op so ʼn punt kom? Wat moet gebeur dat dít ons werklikheid word? Die antwoord is eenvoudig. Niks. NIKS moet gebeur nie. NIKS moet verander nie. Ons president moet aanhou om NIKS oor hierdie kwessie te sê nie. Ons as burgers moet NIKS doen om ʼn verskil te maak nie. Ek sê vandag vir jou wat hier lees, oom, tannie, medejongmens … my stem is dalk nie baie hard nie en hy bewe so effens, maar hy is definitief nie stil nie. Ek is moeg vir terugstaan en toekyk hoe my volk uitgemoor word. Ek is moeg om te hoor hoe dit geregverdig word om iemand se lewe te neem. Ek is klaar met wag vir iemand anders om iets te doen. Ek daag jou uit om saam met my op te staan.

Doen dit vir jou trots en liefde vir jou land. Doen dit vir die blou van onse hemel en die diepte van ons see … vir ons ewige gebergtes en die kranse wat antwoord gee. Doen dit vir jou kinders en jou kinders se kinders. Doen dit vir jouself … vandag, sodat ons hoegenaamd ʼn môre kan hê.

Jy hoef nie ʼn boer te wees om op te staan vir ons boere nie. Jy hoef nie wit te wees om op te staan vir ons boere nie. Jy hoef nie Afrikaans te wees om op te staan vir ons boere nie. Deksels, daar is glad nie ʼn boksie waarin jy moet pas, om op te staan vir ons boere nie. Hier is die waarheid; as jy kos eet, dan is jy dit aan ons boere verskuldig. Vleis, groente, pap, vrugte … noem dit!

Die groot vraag is natuurlik: Wat nou? Wat is my plan? En ek moet in alle eerlikheid sê, ek weet nie. Ek het NOG NIE een nie, maar as jy dink jy het ʼn idee of glo dat jóú plan kan werk, deel dit, asseblief. Jy het niks om te verloor nie. Iewers is daar iets wat móét werk. Iewers gaan ons iets regkry, wat niemand anders kan nie. Ek rig my skrywe aan jou, my mede-Suid-Afrikaner. Vat my hand en staan saam met my op. Deel jou plan en hou aan glo dat ons bo sál uitkom. Ek glo ons is die Dawid in hierdie stryd en hoewel daar ʼn reus voor ons staan, moet ons nie vergeet wat ons Beskermer met ʼn enkele gladde klippie kon laat gebeur nie.

Ek los jou met die woorde van Jeremia 29:11.

  • Ansie Bylsma is ʼn uitgesproke mens en ʼn trotse plaaskind wat net buitekant die pragtige dorpie Ohrigstad in Limpopo woon. Sy is tans ʼn tweedejaar-LLB-regstudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Buks ·

Eerstens moet die regering verander na n nierassige regering gebasseer op meriete nie kaderontplooïng nie tweedens moet die Kommandostelsel terug gebring word en ons moet jongmanne en vrouens in ons massas aansluit en opleiding doen. Dan moet ons plaasaanvalle tot haatmisdade verklaar kry en dan moet ons oorlog verklaar teen die terroriste wat die dade pleeg. Sê wat jy wil die dade word gepleeg met die doel om vrees en angs te wek in die boeregemeenskappe dus is dit haatmisdaad en ook tereur.. Dan ons kan dalk nou al begin deur die regering te impliseer by die dade oor hy niks doen nie en ook omdat die president dit selfs ontken het maak hulle hulself aandadig aan die slagting van sy eie land se burgers. Ons is almal ewe inheems aan Suid-Afrika en het eweveel reg op lewe en om hier te wees.

Annette ·

Ansie, jy maak my trots op ons jeug. Jy dink dalk jy is `n enkel stem in die wind, maar waarom laat jou brief my nou dink aan Rigters 5:7 “Leiers het ontbreek in Israel, ontbreek, totdat ek, Debóra, opgestaan het, ek, ‘n moeder in Israel, opgestaan het.” Moenie stilbly nie.

Vrijburger ·

Baie goeie skrywe. Maar ek het nie ‘n plan vir jou nie – dit is iets waaroor elke individu sal moet besin. Sterke en seen vir jou.

Ferdi ·

Ons moet weet dat die meerderheid mense in ons land, van alle bevolkingsgroepe en rasse, teen moorde en ook plaasmoorde is. Daarom sal ons moet handevat en nie laer trek nie. Alle gemeenskappe gaan gebuk onder geweldsmisdade. Dink maar net aan die arme mense op die Kaapse vlakte. Daarom sal ons moet handevat en van die huidige regering ontslae raak. En ja, ek dink dit is moontlik, maar dan sal ons minder apaties moet wees en betrokke raak. Ondertussen gaan ons onsself moet beveilig, want die huidige regering gaan nie help nie. Daarvoor is hulle heeltemaal te veel in die moeilikheid.

Jannie ·

Ons moet stem. Elke geleentheid wat oor ons pad kom om te gaan stem moet ons gebruik. Ek is self skuldig aan die sinnetjie ” dit gaan nie help nie, ons is te min ” . Maar wat anders het ons oor? Ek weet net eending, ons kan nie gaan lê nie, want as ons doen, dan is dit verby. En dis presies wat hulle wil hê. Ons moet aanhou terugstoot, eendag gaan hulle op dieselfde gladde terein weer beland as ons, en hulle gaan hulle vastrap plek verloor en dan moet ons net aanhou stoot. Gaan dalk nie in my leeftyd gebeur nie, maar ek bid dat ons volk weer vastrap plek kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.