#JongStemme: ʼn Afrikaner in die VSA

Deur Christian Opperman

Christian Opperman.

Dit is inderdaad waar dat as jy ʼn trotse Afrikaner van ʼn boerseun wil maak, jy hom tussen die Engelse moet ingooi! ʼn Mens besef eers hoe kosbaar jou herkoms is as jy verwyderd daarvan lewe, en wanneer dit nie meer daar is nie – hier waar ek sit en skryf, in ʼn vreemde hotelkamer in Chicago ná my vlug huis toe gekanselleer is. Ek is net weer daaraan herinner hoe ek uitgesien het om terug te keer na my mense toe, en hoe teleurgesteld ek is dat ek nog een dag langer moet wag.

My tyd in die VSA was tot dusver ʼn ongelooflike ervaring. Dit het inderdaad my oë oopgemaak vir wat werklik moontlik is. Die Amerikaners dink en doen groot, die skaal waarop hulle presteer is indrukwekkend, en soos ek al meer blootstelling kry aan die enormiteit van die Amerikaanse verbruikersmark, hul koopkrag, en kapitaal in omloop, besef ek watter potensiaal daar opgesluit lê in Suid-Afrika en in Afrika. Ons kan maar gerus ʼn les of twee leer oor hul kultuur van “venture capitalism”.

Hier is ’n enorme energie wat voorspoed najaag waar sakemanne waaghalsig bereid is om geld in verskeie projekte in te stoot soos geleenthede hul voordoen. My universiteit alleen spog met ’n studente Venture Capital Fund wat ʼn paar honderd duisend dollar sterk is en beskikbaar is vir enige student wat sy idee kan verkoop en wie se konsep die moeite werd is! Dit is so ʼn kultuur wat die momentum vir voorspoed kweek en ek sal graag hierdie energie en entrepreneuriese gees in Suid-Afrika wil toepas wanneer ek eendag terugkeer.

Ek was aanvanklik ietwat oorweldig deur die uitdaging om by ʼn topuniversiteit in die VSA te studeer. Die kommer was of ek uit my diepte sou wees by so ʼn instelling. Maar ons kan werklik trots wees op Suid-Afrika se akademiese standaarde. Ek het gevind dat my hoërskoolopleiding my uiters goed voorberei het en het gevind dat ek in verskeie velde beter voorberei was as ander eerstejaars. Dit was ʼn belangrike les om te leer, dat ons Afrikaners meer vertroue moet hê in ons land en sy instellings. Ek vind dat ons geneig is om terug te staan vir die “buiteland”, want ons ly onder die valse veronderstelling dat as iets of iemand van die buiteland afkom, dit juis per definisie beter moet wees. Dit is nonsens. Ons kan en moet met selfvertroue die wêreld in die oë kyk, want ons is op verskeie terreine wêreldleiers en wêreldklas!

ʼn Mens besef watter waarde opgesluit lê in jou kultuur wanneer jy jou in die vreemde bevind. Dit is ʼn absolute voorreg om ʼn tuiste te hê waarna ek kan terugkeer. ʼn Plek waar mense soos ek is, waar ek my taal kan praat, waar ek inpas en ek my kan uitleef in my eie besonderse Afrikanerkultuur. Hier word grappe gemaak in vreemde aksente, gesprekke word gevoer oor vreemde sportsoorte, en selfs die koffie, die eiers, en die vleis, proe nie eens soos dit moet nie! ʼn Mens raak dit naderhand gewoond, en jy leer om aan te pas en om selfs by die nuwe en byderwetse gewoontes in te val en dit te geniet, maar ek het besef dat dit ʼn uiterste ramp sou wees as ek my tuiste permanent sou verloor, en ek vir altyd in die vreemde moet wees. En so het ek besef dat ons moet vasstaan en dat ons iets het om te red en te bevorder, naamlik ons land en ons besonderse Afrikanerkultuur.

  • Christian Opperman is 21 jaar oud. Hy het in Pretoria grootgeword en was vir ’n paar jaar in Tanzanië waar hy by die International School of Tanganyika skoolgegaan het voor hy aan Michaelhouse in KwaZulu-Natal gematrikuleer het. Hy studeer tans finansies aan die Mendoza College of Business aan die Universiteit van Notre Dame in Indiana.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chantel

Indrukwekkende artikel, probleem is net, dat hierdie seun nie deur die normale SA skoolkurrikulum gegaan het nie. Michaelhouse in KwaZulu-Natal is ‘n Privaat skool wat op VSA se skoolkurrikulum, andersyds het ek dit baie geniet.

Groen Ghoen

Ek sekondeer die stelling oor die Amerikaners se siening m.b.t. waagkapitaal en by implikasie ook sakerisiko’s (Faal vinnig en staan weer vinnig op). Suid-Afrika se uiterste rentekoerse (bedoel om buitelandse beleggings te lok) en onmenslike regulasies vir ondernemings wat misluk, versmoor entrepreneurs. Dan vra almal waarom S.A. se werkloosheidskoers +30% is? Ons banke en finansierders suig hul klante leeg met elke denkbare koste, heffing en rente. Skandelik!

Marthinus

Wat is n Amerikaanse Universiteit?n Plek waar Chinese studente opgelei word deur Russiese professors.
Die Amerikaners praat van n geheime epidemie: een vroulike studente uit elke vier sal gedurende haar kursustydperk aann universiteit verkrag word. Gewoonlik deur ryk seuns, of voetbal of basketbalspelers, met Notre Dame as een van die berugste universiteite daarvoor. Dit word stil gehou, omdat die verkragter invloedryke ouers het, of self is weens hul sportsukses.