#JongStemme: ʼn Ander soort pandemie in 2022

Deur Liza Buys

Liza Buys

Suid-Afrikaners het sedert die Covid-19-uitbreking in 2020 streng regulasies gevolg wat deur die krisis-komitee (die Covid-19-bevelsraad) uitgedink is. Ons het paranoïes met maskers rondgeloop en elke dag van die skokkende statistiek in die media gehoor – alles terwyl daar ʼn groter krisis is. Maar ons kyk anderpad…

Ek word dikwels as “groen” bestempel en word gereeld op die skouer geklop omdat die wêreld kwansuis meer “sulkes” benodig. Ek drink nie groen tee nie. Ek steek nie lekkerruik-kerse in my kamer aan nie. Ek skree nie: “Save the turtles!” nie. Ek is bloot iemand wat erken dat die manier waarop die mensdom die aarde bewoon, die natuur se dood en uiteindelik lewe se dood kan beteken. Iemand wat dink oor die goed in my trollie. Ek is ook iemand wat erken dat ék ʼn verantwoordelikheid het.

As verbruiker het ek die vryheid om keuses te maak (byvoorbeeld plastieksak of lapsak of geen sak).  Ons is so gewoond aan die gerief van ʼn plastieksak, dat twee brode te swaar is om sonder een te dra. Ek kan ook kies of ek die komplementêre, nuttelose, plastiek Checkers-speelding gaan huis toe neem of nie. Ek kan sekere vissoorte in die winkels vermy omdat ek weet dat dit nie op ʼn volhoubare manier op die rakke is nie. Ek kan eerder verby die een-vir-een verpakte piesangs hou. Ek kan erken dat die plastieksakkie waarin ek my twee uie in die winkel sit om geweeg te word, onnodige enkelgebruik-plastiek is en dit bloot nie gebruik nie.

“Wat help dit?”

“Hoe sal ék ʼn verskil kan maak?”

As almal in Suid-Afrika byvoorbeeld plastiekinkopiesakke die koue skouer gee, sal die plastieksakke wat in bome inwaai en in die see opeindig iets van die verlede wees!

Nou vra ek – waar is die krisiskomitee vir die plastiekpandemie? Waar is die daaglikse nuusberigte oor plastiekstatistiek? Waar is die wetgewing wat die aarde sal beskerm?

In Rwanda is dit teen die wet om plastieksakke te gebruik, in te voer of te produseer. Tronkstraf of groot boetes word aan oortreders opgelê. Hulle besef dat Jan Alleman verantwoordelik is vir oorvol stortingsterreine, verstopte waterafvoersisteme en natuurlik verswakte waterkwaliteit.

Hoe durf mense beweer dat ons nie ʼn verskil kan maak nie? Dat die toestand van die aarde slegs te wyte aan groot fabrieke en myne is? Hoor niemand die skreeuende alarms nie?

Ek dink ons, as verbruikers, moet net ʼn bietjie begin dink. Dink oor dit wat ons koop. Dink oor die mense wat die produkte gemaak het. Dink oor die prosesse wat gevolg is om die produk op die rakke te kry. Dink oor waar dít wat ons koop gaan opeindig.

Doen navorsing en erken jou verantwoordelikheid voordat die plastiekpandemie ons wurg. Dit is nié net die sogenaamde “groenes” wat ʼn rol kan speel nie, maar inderdaad elkeen van ons.

  • Liza Buys is ʼn matriekleerling aan die Hoërskool Nelspruit en ʼn omgewingsentoesias.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie ·

Kom ons voeg sommer nog ‘n produk wat wat meer plastiek in het as die plastiek sak: Slimfone (smartphone). Die gemiddelde slimfoon bestaan uit ten minste 40% plastiek. En dit is hoë digtheid plastiek wat baie moeilik afbreek. Hou daardie foon 4/ 6 jaar in plaas van 2 jaar.

Treurwilger ·

Skitterende skrywe, Liza Buys!
Die plastiek-tsunami kan egter slegs gekeer word as die vervaardiging daarvan onmiddellik gestaak word.
Glo nie dit gaan gebeur nie.
Die mensdom met sy luukse oordadige verbruikerskultuur is grootliks verby die punt van geen omkeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.