#JongStemme: ʼn Boodskap van hoop

Deur Danica Meiring

Danica Meiring.

Golwe kom, maar hulle gaan ook. So, hou vas! Ons is in die middel van die pandemie waar ʼn skrikwekkende golf besig is om oor die wêreld te spoel. Die vrees en pyn wat ons almal tans voel, ongeag van waar jy jouself mag bevind, is dieselfde tipe vrees en dieselfde angs. Ons is almal in dieselfde bootjie en ons almal gaan saam hierdeur. Ons almal ervaar die warboel van emosies en verwarring.

Ek het die hele week aan hierdie onstuimige situasie gedink. Elke wakker minuut het dit deur my kop gedwaal. Ek is te bang om die nuus aan te skakel, want ek raak omgekrap oor die pyn en vrees wat ons wêreld besmet het. Elke keer as ek na die nuus kyk, loop ek my teen ʼn eksistensiële krisis vas. In hierdie ontsaglike pyn is ekself en diegene vir wie ek lief is al wat ek sien. Net soos wat jý ook doen.

As ek dink aan die aantal mense wat hierdie planeet in bietjie meer as ʼn jaar verloor het, word ek daaraan herinner dat hierdie mense net soos ek en jy was, met dieselfde vrees, maar ook drome, ʼn gesin, hoop, gunstelingflieks en groot oë wat na dieselfde sterre in dieselfde uitspansel kon staar. Hulle lewens was nie minder belangrik as myne of joune nie. Hulle sal nie vergeet word nie en ek bid dat hulle in vrede sal rus. Ek weet ook daar is nie juis veel wat ek, wat óns, hieraan kan doen nie. Ons kan dit nie verander nie, ons kan hulle ook nie terugbring nie, máár ons kan onsself veilig hou. Dus help ek myself en fokus ek op die verantwoordelikheid wat ek vir myself en gevolglik vir die mense rondom my dra. Ek hoop dat almal in die wêreld weet dat dit vir eers genoeg is; net om veilig te bly en voorsorgmaatreëls te tref.

Hier is ʼn boodskap van hoop: Dit voel dalk tans of dit die einde is, maar dit is nie. Ons deel hierdie ervaring en pyn met almal in die geskiedenis wat ook deur die onsekerheid en ramp van pandemies en epidemies meegesleur en oorweldig is. Of dit nou griep, die swart dood of builepes was … die ding wat al hierdie kwaadwillige magte in gemeen het, is dat hulle net soos ʼn golf van die oseaan verbygegaan het, en hierdie golf wat ons tans beleef, gaan op dieselfde manier verbygaan. Ons deel hierdie vrees met mense wat so iets keer op keer deur die geskiedenis beleef en herleef het. Vind vir eers ʼn bietjie troos in die feit dat dit is wat golwe doen – hulle kom en hulle gaan. My hart gaan uit na almal in ons land en in hierdie wêreld wat vanjaar geliefdes verloor het.

Ek het hoop en ek hoop jy het ook. Hou jouself veilig, dra ʼn masker en sorg vir jouself en diegene rondom jou. Jy is nie alleen nie. En as die minimum wat jy vandag kan doen is om na jouself en jou gesin om te sien en veilig te bly, dan het jy vandag iets wonderliks ​​vir jouself én die mense rondom jou gedoen.

  • Danica Meiring is ʼn boorling van Witbank, wat haarself as ʼn aspirantskrywer en jong digter beskou.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Donene ·

Pragtig geskryf. Dankie Danica vir hoop…vir die vooruitsig van n beter more… vir die belofde van n mooi toekoms…we are not done yet!!!

Philip ·

Ek en my vrou het ons lewens geleef en deur ons 55jaar se huweliks lewe ons kinders grootgemaak tot vandag dat ons jongste kleinkind al 20 jaar ou is. Alles is vir ons gegee deur die genade van bo waarvoor ons baie dankbaar is. My wens as persoon te midde van die epidemie is net dat die daaglikse rapportering goed is maar dat die somtyds belaglike menings/dreigemente en statistieke wil end kry mens raak nou al gatvol van covid 19.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.