#JongStemme: ʼn Gids tot skeptisisme

Deur Rynhard van Zijl

Rynhard van Zijl.

Met al die halwe waarhede, fopnuus, botsinnigheid en alarmistiese aanvalle op rede en rasionaliteit is ek daarvan oortuig dat ons almal meer skepties behoort te wees. Hierdie eenvoudige en baie kragtige stuk uitrusting word gewoonlik negatief gebrandmerk saam met negatiwiteit en agterdog.

Dit beteken egter dat ons alle idees oor dieselfde kam moet skeer en eers behoorlik uit die boom moet kyk voor ons dit glo of voorstaan. Dis die gewillige opskorting van vertroue in ’n idee vir die toepassing van rede en kritiek daarop.

Valshede kan wissel van ligsinnige en irrelevante wit leuens tot skadelike swart kolke van dwaasheid. Ons dink noodwendig dat alle idees wat ons ondersteun waar is, anders sou ons dit nie meer voorstaan nie. Ons onwrikbare selfvertroue en trots laat ons dikwels in die steek. Skeptisisme stel egter voor dat ons daarna moet streef om so veel moontlik waarhede en so min moontlik valshede te glo. Daarvoor moet ons ten alle tye self krities wees oor alles wat ons as waar beskou. Dit vereis dus die aanval van “goeie” idees veel eerder as slegte idees.

Kritiseer idees en nie mense nie. Geen idee is vrygestel van kritiek nie omdat almal foute maak. Die idees wat vir die langste as goed beskou is, word gewoonlik die vinnigste beskerm of gerasionaliseer omdat ons ’n emosionele belegging daarin besit. Ons is net soveel slagoffers as voorstanders van hierdie misleidings. Waarheid bestaan buite emosie en aanstoot.

Let daarop dat ons almal vooroordele besit en partydig kan wees sonder dat ons bewus is daarvan. Ons moet dit identifiseer en erken. Ons standaarde van geloofwaardigheid is beduidend minder streng vir bevestigende inligting. Nuwe, kontrasterende inligting word dan nie net iets wat ons nie weet nie, maar iets wat ons nie wíl weet nie en gevolglik nie sal weet nie.

Daar is vryheid in kennis. Dit gee ons beheer oor ons gedagtes, vrese en besluite. Vrae vra en ’n opregte, oopkop nuuskierigheid is baie belangrik vir weet. Ons strewe na waarheid is ’n konstante en nodige stryd. Ons moet verantwoordelikheid neem om foute of valshede in ons eie lewe te verminder en die skade wat dalk as gevolg daarvan aangerig is, op te los. Waarheid sal enige toets oorleef, dus is twyfel niks om te vrees nie. Die bewys word vereis, maak nie saak hoe graag ons iets wil glo of hoe oortuigend iets is nie. Ons moet begin beter dink, redeneer en kritiseer.

Die sleutel tot werklike onafhanklikheid vir my lê nie in wat ons dink nie. Dit lê in hóé ons dink.

  • Rynhard van Zijl is ’n eerstejaar- BPharm-student aan die NWU. Hy is ’n inwoner van Veritas-manskoshuis.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae