#JongStemme – ʼn Jaar weg van Suid-Afrika

Deur Maria van Dyk

Maria van Dyk.

Ek staar uit oor die eindelose kanale en regop huise. My vingers is taai van stroopwafels en gedagtes vol herinneringe. Ek kan nie glo dis al amper ’n jaar wat ek hier in Nederland werk nie. Was dit die moeite werd om vir een jaar my tasse te pak en na ’n volksvreemde land te vlug waar ek kinders sou oppas?

Agt maande later en ek dink ek weet nou wat dit beteken om regtig te lewe, om jou vlerke te sprei en te vlieg. Reeds die eerste naweek moes ek leer om op my eie twee bene te staan, want daar is niemand wat my hand sou vashou nie. Dit het ’n paar probeerslae gevat voor ek dit reg gekry het en voor ek weet is ek op pad na België sonder ’n enkele bekende siel. Die droombrekers en teenstanders se woorde ver agter my, en ʼn pad vol avontuur voor my. Elke dag het my selfvertroue gegroei, weg was my dae van agter selftwyfel wegkruip, dit was tyd dat die muurblom weg van die muur na die son beweeg.

Ek het geleer om met my eie geldjies te werk en te begroot. Wie het geweet seep is so duur? Dit is die wêreld waar ek geleer het dat ’n mens nie oor elke fout wat jy maak, ’n traan moet stort nie – jy moet leer en sterker word daaruit. Ek weet nou hoe dit voel om alleen in die donker te loop sonder om bang te wees en tussen mense te lewe wat nie weet wat beurtkrag is nie. My ore en my tong raak al hoe beter vriende met my moedertaal se ouma. Die beste van die jaar was egter om oor grense te kon gaan en die wêreld te ervaar wat nie deur die media gefiltreer is nie; om dinge te ervaar wat jy nie deur ’n skerm in 2D kan ervaar nie. Daar is net een probleem. Dit is nie mý land nie…

Elke oggend as ek wakker word, soek my ore nog steeds na die skaterlag van ’n hadida. My oë soek altyd entoesiasties na die warboel kulture in die skare en my ore voel leeg sonder ’n gemeng van verskillende tale. Die mense ken nie die kleurespel van basaarpoeding of die smelt van kaneelsuiker op pannekoek nie. Wanneer sal iemand my weer Ouma-beskuit en rooibostee aanbied? My tong verlang na die smaak van Afrikaans. My ore mis die rol van ’n “r” oor “rooi ribbokram” en die sleep van ’n “s” met “Sannie sal sewe sakke sout sleep”. Waarom mag ek niemand oom en tannie noem nie? Hier weet niemand wat dit beteken as jy sê, “Ek is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie”. En hulle weet nie hoe om te sokkie op Afrikaanse treffers nie.

Waar is die reuk van braaivleis en die lag van familie om die vuur? Ek mis my vriende waarmee ek al jare ’n pad stap en wat my beter ken as wat ek myself ken. Waar is die berge waaragter die son slaap en die helderblou branders met wilde spierwit maanhare. My hart wil weer deur die kanolalande dans en die volkslied sing…

Was dit die moeite werd gewees om Suid-Afrika en my familie ’n jaar agter te los vir die land van tulpe en oranje? Die antwoord is ’n definitiewe ja. Ek het in die mens verander wie ek nog altyd wou wees en voel reg en positief vir die lewe vorentoe. Maar wat dit regtig die moeite werd gemaak het, is die feit dat ek nuwe waardering vir ons land gekry het. Vir die eerste keer in ’n lang tyd sien ek weer die mooi in Suid-Afrika en nie net die lelik nie.

  • Maria van Dyk is 19 jaar oud en van Stilbaai in die Wes-Kaap. Sy het ná sy haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Langenhoven in Riversdal (Wes-Kaap) voltooi het, vir ʼn jaar in Nederland gaan woon en werk.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Luister ·

Ja nee! As jy die politiek vermy en ‘n werkie kan kry en regkry om misdaad vry te spring hier in Suid-Afrika, dan kan dit amper mooi wees. Maar ek moet sê, as die Afrikaanse taal en kultuur nie meer daar is nie, sal ek dit ook terdee mis.

saggiespraat ·

Baie het verander na die jaar…Bly maar net daar waar jy is en leer hulle alles van Ons kultuur…

Vrijburger ·

Kudos vir jou moed om jou vlerke te sprei. Dit hoef nie net ‘n eenmalige ervaring te wees nie, daar is ‘n wye wye wereld om te sien en te ervaar. En Skulpiesbaai en Lappiesbaai sal altyd daar wees.
Texas groete.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.