#JongStemme: ’n Jakkals wat slaap, tel hoenders in sy drome

Deur Henlo Swart

Henlo Swart.

Soos vele van ons het ek die oggend van 24 Februarie tot die kennis gekom dat die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, die name van verskeie dorpe en stede, onder meer dié van Port Elizabeth, verander het.

Buiten die feit dat hierdie jare se geskiedenis by die drein afgooi is, is dit werklik iets om ons oor te bekommer. Voor ek my redes neerlê, wil ek ook net noem dat ek bewus is van die sogenaamde “deskundiges” wat redeneer dat transformasie ‘n gegewe is in 2021, oftewel dat transformasie ’n nodige middel is om reparasies aan te spoor.

Ons as burgers hoef glad nie verbaas te wees met die ANC se aksies en waar hul belange lê nie. Onthou, hierdie is dieselfde ANC wat miljarde rande van die Covid-19-hulpfondse soos mis voor die son laat verdwyn het. Dit, terwyl die nasie op hulle staatgemaak het. Amper 12 maande ná ons eerste grendeltydperk is derduisende burgers letterlik deur Covid-19 getref, en die ekonomie kruppel gelaat. Gevolglik het die ANC se dapper dade sonder twyfel sy emosionele tol van ons almal geëis.

Die vraag bly staan, is die verandering van name soos Port Elizabeth na Gqeberha net nóg een van die ANC se sirkustoertjies om vir sy lede te bewys hoe hulle hul lewens “bevorder” en sodoende die aandag van hul magdom mislukkings aflei? So blyk dit. En ongelukkig, dames en here, is dit ’n bose kringloop wat nie binnekort ’n einde sal kry nie.

Verskeie van ons ministers, onder andere, Nathi Mthethwa, is onbevoeg om hul huidige posisies te beklee. Dit is vanselfsprekend dat Mnr. Mthethwa nie ’n benul het wat aangaan in die kuns- en kultuurbedryf nie, gegewe verlede maand se twiet waar hy beweer het dat die Suid-Afrikaanse teaterbedryf in ʼn goeie toestand is. G’n wonder daar doen petisies soos #NathiMustGo op sosiale media die rondes, wat van hom vereis om te bedank of vervang te word nie.

Jy sien, die probleem is dat terwyl Suid-Afrika bietjies-bietjies vermoor word deur die “hoogs aangeslane” ANC-kaders se korrupsie te midde ’n ekonomiese fiasko en miljoene burgers terselfdertyd van die vloer af eet, neem die verandering van dorpe en stede se name prioriteit.

Ek vra myself nou af: Hoe dra hierdie enigsins by tot transformasie en waar vind die reparasies plaas? Die Oos-Kaap bly ʼn gemors en sy inwoners bly steeds in ʼn varkhok. ANC-munisipaliteite misluk daagliks om dorpe te bestuur terwyl slaggate, korrupsie en ministers soos Mthethwa se beursie by die dag groei.

Die ANC is die perfekte voorbeeld van ʼn slapende jakkals wat hoenders tel in sy drome. Kom Augustus, dan deel hulle landwyd geel hempies, kospakkies en leë beloftes uit – net genoeg om sy stemme te behou. En wie weet, in hul volgende vier jaar in bewind sal hulle dalk nog ʼn paar historiese name verander terwyl miljoene in krotte voortsukkel met hul geel hempies.

  • Henlo Swart is ‘n 22-jarige CIMA/GIBR-klerk (Geoktrooieerde Instituut vir Bestuursrekenmeesters) en het verlede jaar sy BcomHons-graad in bestuursrekeningkunde verwerf.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pompies ·

Baie mooi gestel jongman bly om te sien daar is nog jong mense wat n “spade” n ‘Spade” noem.

Eclectus ·

Die ANC is nie die probleem nie, die kiesers is. En in ‘n land met ‘n gemiddelde IK van 70 wat in die ketegorie van matige verstandelike gestremdheid sorteer, is die toekoms maar net so dof soos die volk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.