#JongStemme: ’n Ope brief aan Bheki Cele en Cyril Ramaphosa

Deur Vincent Geldenhuys

Vincent Geldenhuys.

Brendin Horner. Sê sy naam. Sê sy naam as jy die nuus lees oor nog ’n plaasaanval. Sê sy naam as Bheki Cele weier om te erken dat daar ’n stille oorlog teen die boere van Suid-Afrika van stapel gestuur is. Sê sy naam as president Cyril Ramaphosa eerder wil praat oor die Jerusalema-dans as oor die plaasmoordramp wat besig is om (onder sý beheer) in die land te ontvou.

Hy was ’n plaasvoorman gewees.

Minister Cele, wat besiel u? Wat besiel u om te dink dat ’n paar beeste wat geskut word, dit kan regverdig dat ’n boer se lewe geëis mag word? Dat die boer wat sorg dat u kos op die tafel het om te eet, se lewe elke aand minder werd is as ’n bees wat sonder toestemming op sy grond loop wei? Het u ooit die vaagste benul oor wat boerdery als betref, dat daai bees moontlik siektes kan oordra na die boer se eie kudde? Seker nie, dit is dalk te moeilik om verby u groot breërandhoed te sien…

Raymond Gregory Papapavlou. Sê sy naam. Sê sy naam elke keer wanneer jy ’n jagtog beplan saam met jou vriende. Sê sy naam elke keer wat jy deur die wildtuin ry en ’n koedoe of ’n sebra sien. Sê sy naam elke keer wat jy ’n stukkie droëwors eet of aan ’n stukkie biltong knaag. Hy was ’n wildboer gewees.

Meneer Ramaphosa, het u vanoggend geëet? Het u die koerantartikels vanoggend gelees? U wat onder president Nelson Mandela gewerk het, saam met hom sy droom gedroom het vir ’n reënboognasie… Dink u Madiba sou trots gewees het op u?

In u weeklikse presidensiële nuusbrief van verlede week fokus u slegs op grondonteiening, niks oor plaasmoorde nie. Nie ’n woord nie, maar tog, tog het u oor die landbousektor gepraat. Maar nie oor die dinge wat werklik saakmaak nie. U weier om te erken dat daar tans ’n oorlog in u land aan die gang is. Hoekom? U praat oor die Jerusalema-dans, ’n dans en liedjie met die doel vir die beëindiging van geslagsgebaseerde geweld. Weet u dat vroue en kinders ook op plase vermoor word? Of tel dit nie as geslagsgebaseerde geweld as dit by plaasboere kom nie?

Sê ook die name van elke boer, boervrou, boerkind, plaaswag of plaaswerker wat in jou dorp of omgewing vermoor is. Elkeen wat in die oggend opstaan om na hul kuddes om te sien, elke dag bid dat die Vader hulle sal seën met reën sodat ek en jy kos op die tafels het, ’n vleisie het om op die kole te braai terwyl jy rugby kyk. Sê die naam van elkeen wat weet wat die risiko is om op die plaas te bly sodat niemand in die land by leë winkelrakke hoef te staan nie.

Die tyd vir stilbly is verby. Die tyd om te ontken dat daar ’n onnodige oorlog tussen boere en plaasaanvallers is, is agter ons. Dis tyd dat ons moet besef dat die einste regering wat aan bewind is, hulle nie wil bemoei om ons te beskerm nie. Dis tyd dat ons onsself beveilig.

Hulle sal nie die Afrikaner uit Suid-Afrika dryf nie, want “Ons vir jou, Suid-Afrika!”

  • Vincent Geldenhuys is ’n derdejaarstudent in BCom menslike hulpbronnebestuur aan die Universiteit van die Vrystaat.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cecilia ·

Ek stem saam Vincent.
Oppas net. Jy mag dalk d volgende teiken vd ANC en EFF word vir belaglike aanklagte.

Riaana ·

Goed gese Vincent… Die tyd het aangebreek om die regering te dwing om raak te sien wat in hierdie land gebeur.. Jy maak ons trots vandag ons het meer mense soos jy nodig om n stelling te maak en te laat gebeur in hierdie land,

Ratel ·

Mense, ek dink om vir die eenogige regering te wag is tydmors. Ons moet bly druk op hulle sit en internasionale bewusmaking volhou want dit is ons plig. Maar, ons is besig met ‘n oorlog teen terrorisme met diefstal as bonus. Ons sal deeglik moet besin oor ons eie strategie om elke liewe boer te beveilig en dit uit te voer en te verfyn. Dit is ook ons plig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.