#JongStemme: Om aan ʼn gemeenskap te behoort

Deur Myrtle Endley

Myrtle Endley

Behoort? Behoort ek? Behoort jy? Waar behoort ons? Hoe behoort ons? Kan ons behoort?

Die paar jaar wat ek nou al verstandig is, het ek besef ons het elkeen ʼn begeerte om te behoort; ʼn diep begeerte wat alles in my en jou lewe beïnvloed: verhoudings, finansies, studierigtings, vriende.

Elkeen van ons doen wat ons dink nodig is om te voel ons behoort. Fietsryers, skaakspelers, kerkgangers, kinders … dis ʼn gemeenskap. My gemeenskap en jou gemeenskap.

Is dit moontlik dat ons werklik sáám ʼn gemeenskap kan skep en op die koop toe ʼn wêreld waar ons veilig kan voel?

Ek moet myself die vraag afvra: Voel ek werklik veilig? Ek praat nie van ʼn verbrokkelende land of ʼn dalende ekonomie nie, want dit is dinge wat ek sal kan hanteer wanneer ek weet dat ek geliefdes het wat my ondersteun. Maar wat van mense wat dit nie het nie?

My ouma het tydens die Tweede Wêreldoorlog grootgeword. Die stories wat ek van haar kindertyd hoor, gaan nie oor hoe skaars kos was nie. Ja, ek het miskien al een of twee stories van die rye waarin hulle moes staan om te kon kos kry, gehoor. Wat ek wel weet (en gereeld hoor), is hoe goed haar ma en pa was, hoe hulle haar grootgemaak het, die appels wat hulle gedeel het en die tyd wat hulle saam spandeer het. Behoort … dit het ʼn tydjie geneem, maar sy het daar behoort en dit is wat sy oordra.

Elke generasie het ʼn geveg om te veg. Hoekom is dit vir my so belangrik om te behoort? Dan besef ek, dit is menslik. Dit prop die filmteaters vol – daardie begeerte wat onbeantwoord in elke kyker woed. In ʼn onlangse film wat ek gekyk het, verloor die held alles en dan verander hy die toekoms van ʼn nasie in die vorm van ʼn slaaf. Wat vir ons generasie voorlê, is nie noodwendig ʼn “Victoria Cross” vir dapperheid nie, en ons gaan ook nie noodwendig die toekoms wat ons kan verander, sien nie. Is jy steeds bereid om jou lewe vir die alledaagse neer te lê?

Wat as ons dit ons missie maak om gemeenskappe te skep waar mense kan voel hulle behoort? Dit is nie so opwindend soos om ʼn vegvlieënier te word nie, maar dalk, in plaas van ʼn generasie van ouers wat êrens op ʼn oorlogsveld verlore gegaan het, kan ons ʼn generasie van ouers word wat werklik in ons kinders se lewens teenwoordig is. Nie in die vorm van die regte reëls en die regte manier hoe om hulle groot te maak nie, maar om onvoorwaardelike liefde oor hulle uit te stort; om hulle daarvan bewus te maak dat hulle behoort. Wat daarvan as ons dit aan ons gemeenskap kan oordra?

Wat daarvan as ons ʼn omgewing kan skep waar mense veilig voel? Waar liefde gekultiveer kan word en die gemeenskap daarin gesond kan word? Ons kan hier en nou ʼn verskil maak. Die kern lê in die klein aksies. Luister régtig wanneer jy met iemand gesels. Moenie luister om ʼn antwoord te gee nie, maar luister omdat luister lúister is. Probeer die fokus van jouself af verskuif! Daardie slaaf kon ʼn nasie verander omdat hy gekiés het om nie in sy omstandighede vas te kyk nie. Ons kan ander mense se omstandighede verbeter – ons het daardie mag. Is jy bereid om bietjie van jouself op te offer, om ʼn werklike verandering te bring en ʼn vol, gesonde gemeenskap te skep?

ʼn Gemeenskap waar ek en jy kan behoort.

  • Myrtle Endley studeer BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie) by Akademia.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.