#JongStemme: Om die fluitjie teen onreg te blaas

Deur Milda van Dyk

Milda van Dyk.

Dit is die stille oorwinnings wat die eensame stryd van ’n fluitjieblaser die moeite werd maak. Daarom hoop ek dat hierdie bydrae uit my onlangse ervaring, toe ek die fluitjie op taalongeregtigheid geblaas het, die leser hiervan hand in eie boesem sal laat steek om met dapper en durf die fluitjie te blaas op elke gebied waar onreg tier, en waar dit so broodnodig is dat dit oopgevlek word.

Totdat ’n mens nie self in die skoene van ’n fluitjieblaser beland het en jou skild moes blink vryf om die fel kritiek van dié wat getref is, af te weer nie, klink die woord fluitjieblaser maar net soos ’n sinoniem vir ’n klikkiebek. Tog is dit noodsaaklik dat die fluitjieblaser hom- of haarself moet herinner aan die fyn lyn tussen dié twee terme – juis om te onthou dat die stryd wat jy onwetend as selfaangestelde fluitjieblaser aangepak het, vir vele ander dalk die nodige moed kan gee om ongeregtighede verder te ontbloot.

Dit is kwalik in enige regdenkende en goedopgevoede jongmens se beplanning om as ’n wildvreemde nuweling in ’n nuwe tuiste in te stap met die uitsluitlike doel om onreg uit te snuffel en ’n bohaai daaroor te maak (en veral nie as dié tuiste jou voorland vir die volgende vyf jaar is nie!)  Maar moenie so ’n nuweling se perke onderskat wanneer hy of sy gekonfronteer word met onregverdige of diskriminerende reëls wat ferm afgedwing word nie. Met ervare leiding van ander wat die stryd teen onreg al jare lank voer, is dit net daar waar ’n klikkiebek genoop word om die fluitjie hard en hoorbaar te blaas.

Die sneeubaleffek wat daarop volg, is getuienis van die noodsaaklikheid om dit te doen, en om dit, indien nodig, weer ’n keer te doen en dan selfs harder te blaas. Maar soos wat die oopgevlekte onreg verder vanself uitborrel en -kook, bly die fluitjieblaser ongelukkig dikwels in die slag… die klikbekkie wat dan nou soveel onnodige onmin en lawaai veroorsaak het!

Van hier af is dit ’n roesemoes van koes en skarrel om die kritiek en teenstand wat op elke moontlike platform uitgebasuin word, te oorleef. Dit is dan wanneer die dapper besluit geneem moet word of jy jou man gaan staan tot die bitter einde, en of jy gaan hensop en jou standpunt verloën sodat die onreg maar eerder voortduur as wat jy verdere pyniging moet verduur. En glo my, daardie besluit huiwer lank op ’n mespunt, en die versoeking om weg te hardloop, word gedurig aangepor deur dié wat jou uitmaak as leuenaar, oorsensitief, stryder, samesweerder, kolonialis, arrogant, onkundig of moeilikheidmaker. Om nie eens te praat van bitsige opmerkings, agter-die-hand-fluistery, vuil kyke en sosiale marginalisering nie.

Maar te midde van hierdie nydige geboelie, kom daar die klein oorwinnings wat jou stil-stil bemoedig om jou man te bly staan. Die aanmoediging van familie, die bewondering deur vriende, die gelukwensing deur gesaghebbendes en dosente, die hoopvolle glimlagte van ander slagoffers, en die ondersteuning in mediakommentaar laat jou besef dat geregtigheid geen kans gehad het as jy nie bereid was om jou gewildheid en gemak op die spel te plaas om dit in die bek te kyk nie. En hoewel jy wens dat elkeen wat jou aanpor, self ook die stem sal dik maak, is die kloppies op die skouer genoeg om die kritiek soos water van ’n eend se rug te laat afloop.

In ’n demokrasie, waar deursigtigheid deel van ons Grondwet is, behoort fluitjies om elke hoek en draai te skril, sodat ons die knoeiers kan uitroei. Noem my ’n klikkiebek, maar die fluitjie sal ek weer blaas, al is dit om net vir eers nog fluitjieblasers aan te wakker. Hoe gaan ons reënboog lyk as almal net instem of wegkyk van die onreg?

Ek daag elkeen wat hier lees, om die fluitjie een keer op enige onreg waarmee jy gekonfronteer word, te blaas, en te beleef hoe dit voel om die ander wang te moet draai. Maar óók om te beleef hoe onreg onder die sneeubal van geregtigheid kwyn.

Soos Julius Caesar van ouds, rig ek my hiermee tot die menigte ongeërgdes wat wetend of onwetend hul messe slyp om hul moedertaal te verraai: “Et tu, Brute?”

  • Milda van Dyk is ‘n eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.