#JongStemme: Onafhanklike kandidate die oplossing

Deur Stefan Botha

Stefan Botha.

Reaksie op Heindrich Wyngaard se meningstuk van 5 Maart 2021: My stem voel nêrens tuis nie.

Toe Mmusi Maimane ’n paar maande ná die 2019-verkiesing noodgedwonge as DA-leier bedank het, het elke politieke ontleder voorspel dat dít die begin sal wees van ’n nuwe splinterparty saam met voormalige DA-leiers soos John Moodey en Athol Trollip, óf dat Maimane selfs saam met Herman Mashaba die nuwe Action SA sal lei.

Maimane het egter almal verbaas en respek verdien met sy stelling dat Suid-Afrika nie nóg meer politieke partye nodig het nie. Volgens hom lê ons land se oplossing eerder in meer aktiewe en betrokke inwoners wat eienaarskap van hul eie omgewing neem deur op ’n direkte wyse hul plaaslike gemeenskappe vorentoe te neem en rondom ’n gemeenskaplike doel te verenig, sonder die inmenging van mislukte politieke partye.

Hy het gevolglik die burgerlike organisasie, One SA Movement, gestig en herhaaldelik beklemtoon dat dit nié ’n politieke party sal wees nie, maar ’n burgerlike samelewingsbeweging wat die politieke misbruik van mag uitdaag en gewone inwoners aanmoedig om deur middel van verskeie inisiatiewe ’n verskil in hul gemeenskap te maak. Maimane en sy beweging het ’n diepgewortelde probleem in die huidige kiesstelsel geïdentifiseer, waar vervreemde en mislukte politieke partye steeds die enigste opsie is en waar kiesersapatie al hoe meer toeneem. Hul oplossing is onafhanklike kandidate wat geen politieke party, ideologie of radikale beleid verteenwoordig nie, maar slegs na die belange van hul kiesafdeling wil omsien om aantrekliker en voorspoedige gemeenskappe te skep waar dienslewering volle aandag geniet. Die resultaat is lojaliteit teenoor wyksinwoners, eerder as teenoor ’n politieke party.

Maimane en One SA Movement het toe hul woorde in aksie gesit en onmiddellik die Konstitusionele Hof genader om verkiesingshervorming ’n realiteit te maak. Op 11 Junie 2020 het dié hof beslis dat die huidige kieswet ongrondwetlik is omdat dit onafhanklikes daarvan uitsluit om aan provinsiale en nasionale verkiesings deel te neem. Hierdie historiese uitspraak sal uiteindelik die weg baan vir invloedryke openbare figure met politieke aspirasies om te staan vir parlementslid of ’n lid van die provinsiale wetgewer. Bekende sakemanne of selfs mense in die vermaaklikheidsbedryf soos Kanye West in die VSA wat hulself nie met ’n spesifieke party wil assosieer nie, sal dan die geleentheid hê om kiesers van hul saak te oortuig. Maar hiérdie grondwetlike wysiging sal eers oor drie jaar in werking tree tydens die volgende nasionale verkiesingseisoen. Daar is egter ’n munisipale verkiesing wat later vanjaar, waarskynlik in Oktober, gaan plaasvind waar die alternatiewe opsie van ’n onafhanklike kandidaat baie meer aantreklik en veral op plaaslike vlak meer prakties uitvoerbaar sal wees.

Selfs al is onafhanklike kandidate voorheen toegelaat om op plaaslike vlak aan munisipale verkiesings deel te neem en te staan vir wyksraadslede, het ons nog nooit werklik onafhanklike kandidate op ons stembriewe gesien verskyn nie. Dit kan wees weens die groot registrasietarief wat die OVK van ’n kandidaat vereis om uiteindelik op die stembrief te verskyn, asook die realiteit dat ’n onafhanklike sal sukkel om naby die ondersteuningsbasis van gevestigde politieke partye te kom. Maar One SA Movement het die gaping en behoefte onder kiesers raakgesien en besef dat die tyd hierdie keer ryp sal wees vir onafhanklike kandidate om met politieke partye te kan meeding na aanleiding van mense se frustrasie teenoor partye (soos bespreek in Heindrich se meningstuk).

One SA Movement het hulself daaraan toegewy om bekwame onafhanklike kandidate te endosseer en hulle gevolglik by te staan met geldinsamelings en veldtogte en selfs opleiding aan die kandidate te verskaf. Volgens Maimane sal onafhanklike raadslede ’n groot bate op plaaslike vlak wees, aangesien dit ’n meer direkte vorm van verkiesing is. Kiesers sal vooraf presies weet vir wie hulle stem. Daardie persoon sal ’n inwoner van die wyk wees en sal gevolglik direk verantwoordbaar gehou kan word wanneer dienslewering nie plaasvind soos dit moet nie. Die probleem met partye is dat hulle gewoonlik selfgesentreerd is en hul eie lojale kandidate kies waarvoor ons blindelings moet stem sonder dat ons eens weet wie daardie kandidate is. Onafhanklikes sal nie deur politieke partye teruggehou word en deur binnegevegte beïnvloed word nie. Al wie hulle sal moet dien en lojaliteit aan bewys, is hul kiesafdeling.

Op nasionale vlak is daar natuurlik belangriker ideologieë, beleide en retoriek ter sprake wanneer ons besluit vir wie om te stem, wat gevolglik die ekonomie, ons staatsinstellings en ander kwessies van nasionale belang kan beïnvloed. Maar wanneer dit by munisipale verkiesings en plaaslike regering kom, hoef ons hoegenaamd nie ons besluit op dieselfde faktore te baseer nie.

Elke inwoner soek ’n skoon en netjiese omgewing waarop hulle trots kan wees, en effektiewe dienslewering wat vir hulle werk – die basiese dinge soos netjies gesnyde gras, paaie sonder slaggate, straatligte wat werk, mooi en veilige publieke parke en doeltreffende infrastruktuurontwikkeling. Dít is dinge waaroor geen politieke party óf inwoner kan stry of debatteer nie. Al verskil tussen die moontlike partye sal dus wees wie die beste kan reageer om hierdie dinge te laat realiseer. So hoekom argumenteer en baklei ons dan met mekaar oor hiérdie party se nasionale beleid en dáárdie party se politieke ideologie en weer ’n ander party se standpunt oor aborsie, geloof of homoseksualiteit wanneer daardie faktore glad nie ’n verskil sal maak rakende die toestand van ons woonbuurte nie? Hoekom stem ons slegs uit gewoonte, tradisie en kulturele identiteit vir ’n spesifieke politieke party, ongeag of hulle hulself op plaaslike regeringsvlak bewys het of nie?

Politieke partye en hul lojale kaders wat na afloop van munisipale verkiesings na hul gewonne wyke ontplooi word, kelder dienslewering en veroorsaak dat politieke inmenging skoon en effektiewe plaaslike bestuur oorheers. Meeste raadslede doen die werk net as ’n side hustle vir ’n ekstra inkomste en woon skaars die raadsvergaderings by, terwyl meeste van hulle ook nie eens inwoners van daardie wyk (wat hulle veronderstel is om te verteenwoordig) is nie. Dus die rede vir die landwye vervalle munisipaliteite.

Onafhanklike kandidate sal op munisipale vlak ’n meer betroubare en direk verantwoordbare alternatief kan bied. Hulle sal meer vryheid hê om werklik na die inwoners se behoeftes om te sien en sodoende lojaliteit aan hulle te bewys, eerder as aan ’n party. Hulle sal ’n groter begeerte hê om ’n omgewing te skep waarop hulle kan trots wees omdat hulle ook self ’n inwoner van daardie wyk sal wees. Hulle sal ook op ’n meer gemaklike wyse saam met die privaat sektor en plaaslike besighede kan werk om infrastruktuurontwikkeling te versnel en ’n veiliger, skoner omgewing te skep, sonder enige politieke inmenging en verbintenis.

Dus, indien jy ook Heindrich Wyngaard se sentiment deel dat jou stem nêrens meer tuis voel nie, óf jy besef dat jou tradisionele stem vir party X nie op munisipale vlak in jou direkte wyk ’n verskil sal maak nie, is dit tyd dat jy ’n onafhanklike kandidaat ondersteun wat die begeerte het om sonder politieke inmenging sy/haar wyk reg te ruk en ’n omgewing te skep waarop almal kan trots wees. Indien jy nog nie weet van so ’n kandidaat in jou wyk nie, kan jy gerus jou hand opsteek en jouself beskikbaar stel.

Ek sal die ys breek en myself beskikbaar stel vir onafhanklike raadslid van Wyk 47 in die Tshwane-metro.

  • Stefan Botha het ‘n kwalifikasie in internasionale politieke studies en gaan binnekort begin met ‘n nagraadse diploma in publieke administrasie.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
OW

Interessante skrywe wat baie sin maak.Ek wens dit kon so maklik wees soos wat dit in die skrywe staan.As die politiek net verwyder kan word uit die munisipaliteite,kan die probleme omgekeer word.Die politiek het die derde vlak regering wie se hoof funksie dienslewering is so verdraai en verswak dat mens nie weet of daar enige herstel moontlik is nie.As onafhanklike kandidate hulle eie begrotings en finansies kan kry op watter maniere ookal kan daar vordering gemaak word.As politieke inmenging op plaaslike vlak net geskei kan word van die amptenary, wie se funksies dienslewering is, kan ‘n omkeer plaasvind.In praktyk dink… Lees meer »