#JongStemme: Onderwysers is die ware helde

Adriaan Dekker. (Foto: Verskaf.)

Deur Adriaan Dekker

Onderwys is net ’n halfdagwerk. My kind druip Afrikaans as gevolg van daardie min wetende staatswerker. My skoolfonds betaal haar salaris”

Dit is die woorde wat in ’n onderwyser se kop tuimel terwyl sy tot halfeen in die môre moet sit en jou kind se vraestel vir die derde keer oormerk om seker te maak hy maak mamma en pappa trots.

Liewe Onnie, terwyl jy daar sit en merk en voorberei vir môre se agt periodes, onthou net dat dit die antagonis is wat die protagonis se rol op die verhoog van die lewe uitlig.

Laat my toe om ’n frase van Charlie Chaplin aan te haal:

“My pyn mag dalk die rede vir iemand se lag wees, maar my lag moet nooit die rede vir iemand se pyn wees nie”.

Charlie Chaplin was ‘n Engelse akteur, komediant en rolprentvervaardiger gedurende die stil era. Met sy tipiese hoed, sy piramidale snor en lang skoene, het hy die mense luidkeels laat lag met sy komiese optrede in ’n rolprent. Baie keer moes hy die dwase akteur wees… Ja, liewe gehoor, vandag vier ek hierdie mense wat baie keer eers verag moes word voordat hul werklike bydrae tot die samelewing erken moes word.

Liewe Onnie, dit is vandag my eer om julle, die stil maar wyse helde en heldinne te vier, veral hierdie moeë onderwysers wat agter die skerms ploeg om jou kind se A+ te verseker! Julle is nie op die verhoog nie, maar julle bied die beligting, musiek, woorde en die algehele ambiance op die verhoog van die lewe.

Wat nou by my opkom, is die televisieprogram van die Rock-Afrikaanse sangeres, Karen Zoid. Sy het op kanaal 144 ‘n program aangebied waar sy onderhoude met diverse persoonlikhede gevoer het.  By elke geleentheid vereer sy elke gas met ’n medalje waar sy hulle “ministers” van hul nisse, vaardighede of waardes van uitnemendheid noem.

Vandag wil ek graag vir elke verskuilde onderwyser op die verhoog van die wêreld ‘n medalje gee vir luister, want om met aandag te luister het die afgelope tyd ’n kuns geword. Ons wil almal praat, ons menings uitspreek en ander oorreed om net óns weë te glo. Aan die ander kant kry jy die stil en nederige luisteraars wat rustig hul beurt afwag. Hulle is die luisteraars wat “verag” word, nes Charlie Chaplin met sy groot hoed, piramidale snor en lang skoene, nes daardie moeë onderwyser wat laataand nog wakker is en sit en merk.

Liewe Onnie, aan die einde van my diskoers om erkenning te gee aan die agter-die-skerms-helde en -heldinne, moet nooit vergeet dat elke persoon erkenning verdien nie – dit sluit jou, as die verskuilde werker op die verhoog van die lewe, in.

  •  Adriaan Dekker is ’n finale jaar onderwysstudent in lewenswetenskappe en geografie aan die NWU se Potchefstroom-kampus. Hy dien ook as die fakulteit se ondervoorsitter vir die Akademiese Studentevereniging (ASV).

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.