#Jongstemme: Ons land se voedingsbron word uitgewis

Deur Zanèl Burger

Zanèl Burger.

Ons land se voedingsbron word uitgewis … en nie deur die droogte nie.

As jy vandag geëet het, sê dankie vir ʼn boer. Om te boer word vandag as die gevaarlikste beroep in Suid-Afrika beskou. Covid-19 is op almal se lippe, maar die toenemende epidemie van plaasmoorde is eintlik die pandemie sedert 1994 wat te maklik geïgnoreer word.

Hierdie land is op pad na ʼn pandemie van hongersnood weens die uitwissing en verdrywing van ons land se voedingsbron deur die skending van ons boere se menseregte en die ontneming van ons boere se eiendom. Daar is ʼn daadwerklike noodkreet om hulp sodat dit tot ʼn einde gebring kan word en ons in hierdie land kan voortbou op ʼn toekoms en drome waarvan ons voorgeslagte reeds die fondamente gelê het.

Die reusestyging in plaasaanvalle wys dat die polisie nie die vermoë of mannekrag het om geweldsmisdaad op plase te keer nie. Dit beteken dat jy tydens ʼn plaasaanval heel moontlik op jouself aangewese gaan wees. Daar word beweer dat die omstandighede van plaasmoorde, waarvan boere die slagoffers is, ook weens onderliggende rassespanning veroorsaak is. Is dit nie maar net nog ʼn poging om ons Suid-Afrikaanse boere só van hul plase te verdryf nie?

Plaasmoorde het sodoende ʼn hoogs emosionele saak geword wat in sommige kringe as doelbewuste volksmoord beskou word. Rassisme en onverantwoordelike politieke uitlatings dra by dat ʼn klimaat van brutaliteit in die plattelandse gemeenskappe geskep word. Die uitwerking van die toename in plaasmoorde word nie net in die plaaslike dorpe, gemeenskappe of land gevoel nie, maar ook in die nasionale voedselsekerheid, omdat daar ʼn groot afname in boere is wat bereid is om nog te boer. Hulle verhuis dus eerder na stede.

In ons land se huidige omstandighede waar die nood onder gemeenskappe geweldig hoog is, is die landboubedryf die grootste uitreikingsbron om hierdie behoefte aan te raak! Dit is ook dieselfde bedryf waaroor daar kort-kort ʼn berig verskyn – nog ʼn plaasaanval, net nog ʼn plaasmoord … ja, dit was een van die hande en harte wat aan diegene in nood uitgedeel het.

Ná elke plaasaanval of plaasmoord dink ons die lewe gaan ongesiens voort, maar stukkie vir stukkie is ons land se voedingsbron aan’t verklein en ons land verarm aan selfvoorsiening.

Ons beskou die rolprent Treurgrond as ʼn “fliek”, maar dit is ons daaglikse werklikheid. Ek haal graag die treffende beeldspraak daaruit aan: “Die natuur is stiller op ʼn Sondag, so ʼn gewyde stilte amper asof die voëls en die wind weet dat Sondag ʼn rusdag is. So is dit ook op elke slagoffer van ʼn plaasmoord se begrafnis op die plaas – soos die kis in die grond afsak, so treur die grond oor sy eienaar. Indien al die trane opgevang sou word, sou dit ʼn oseaan kon vorm.”

Plaas jouself in hierdie mense se skoene wat daagliks in vrees moet leef, daardie toegewyde grondbewerkers wie se enigste doel is om kos aan my en jou en ons land te voorsien. Te midde van hierdie vrees bly hy steeds op die plaas, ja, want dit is sy liefde, sy lewe, sy grond, sy trots en sy hoop dat dit sal verander.

Elke keer dat daar ʼn boer weens ʼn plaasaanval sterf, verloor hierdie land iets. Eers wanneer die laaste boer sterf, sal ons besef dat melk nie net van ʼn melkbottel kom nie.

Ek haal weer uit Treurgrond aan: “Soms lug ons net ons kop na die Hemel toe en vra: Here, hoe het dit gebeur?”

  • Zanèl Burger is ‘n matriekleerder aan die Hoërskool Outeniqua.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Indien ‘n skoolkind dit kan raaksien hoekom gooi die regering ‘n blinde oog oor hierdie uiters belangrike saak. O ek vergeet, kos val mos volgens hulle uit die lug en beland sommer so op die winkelrakke.

Boksombende ·

Sy het te min melanien, so niemand gaan na haar luister nie.

Benjamin ·

Pragtige reguit woorde sonder om doekies om te draai. Waar is ons politieke leiers wat so moet praat in die Parlement? Dryf dinge nou na n punt en hou op koekies eet en tee drink. Ons soek n besluit van die regering “wil julle ons hier he of nie”. Ons is moeg agteroor gebuig en aan n lyntjie gehou terwyl ons bietjie bietjie doodgemaak en verarm word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.