#JongStemme: Ons mense raak siek, so sonder musiek

Deur Edané Combrink

Edané Combrink. (Foto: Verskaf.)

Kom ons draai vir ’n oomblik nie doekies om nie: Covid-19 het ons almal in meeste fasette van ons lewe negatief beïnvloed. Die ruskans wat ons vir die eerste vyf weke kon kry, was vir meeste mense soos manna uit die hemel, maar ná vyf maande is dié storie nie meer ’n grappie nie.

Musiek en kunste vorm deel van ons land se ryk geskiedenis en erfenis. Wie sou nou ooit kon dink dat Die Bult sal stil wees sonder die miernes van bedrywighede wat Aardklop jaarliks na Potchefstroom toe lok? Of dat daar geen Liefde langs enige Damme sal wees nie? Daar word telkemale verwys na die ekonomiese impak wat die gebrek aan hierdie feestelikhede het op ons land, maar vir die alledaagse Jan Rap en sy maat is die impak baie nader aan die huis.

Musiek is die hartklop van ons mense. Of jy nou wil kopskud en saam skree op Francois van Coke se “Dagdrome in Suburbia” en of jy eerder wil skoffel op die Klipwerf Orkes se “Lekker ou Jan”, musiek maak ’n groot deel uit van wie ons is.

Die gebrek aan vermaak lei tot ’n oorhoofse gevoel van frustrasie in die landsburgers. Alhoewel die gemiddelde landsburger op die huidige oomblik die rieme stywer moet trek wanneer dit by finansies kom, sal daar steeds geweldige hoeveelhede mense wees wat stroom na kunstefeeste wanneer dit weer toegelaat word. Die mens is ’n sosiale wese, dus word een van ons basiese behoeftes nie bevredig deur die verbod op sosiale samekomste nie.

Die Atterbury-teater in Pretoria is in rooi gehul. Foto: Verskaf

Die vermaaklikheidsbedryf is tans besig met ’n veldtog om Suid-Afrika met rooi ligte te verhelder met die hoop dat die nodige rolspelers hul noodkreet sal hoor en daarop sal ag slaan. Sedert die begin van die grendeltydperk is die inkomste wat die mense in die vermaaklikheidsbedryf kon kry, uiters beperk, aangesien geen sosiale byeenkomste toegelaat is (en steeds word) nie. Die gemoedstoestand van die mense in dié bedryf word ook aangetas, nie net as gevolg van die finansiële impak nie, maar omdat die mense in die vermaaklikheidsbedryf werklik lewe vir dít wat hulle doen. Ons as buitestaanders sien nie die harde werk wat hierdie mense doen, of die uitgerekte ure wat hulle werk nie. Kunste is werklik hul passie.

Ek wil ’n beroep doen op ons regering en die nasionale Covid-19bevelsraad (NCCC) om Suid-Afrikaners weer die vryheid te gee wat die kunste ons bied. Ek wil elke Suid-Afrikaner vra om sy litte los te skud en uit volle bors saam te sing en skree. Ek wil vir die mense in die vermaaklikheidsbedryf smeek om vas te byt in hierdie moeilike tyd – ek verseker julle, elke liewe Suid-Afrikaner staan gereed om julle te dra wanneer ons die groen lig kry.

Kom ons maak Suid-Afrika rooi vir elke liewe een van ons wat daarna smag om weer te gaan sokkie, maar kom ons maak Suid-Afrika bloedrooi vir die vermaaklikheidsbedryf wat daarna hunker om weer hulle passie te kan uitleef.

  • Edané Combrink is ’n oud-Puk-student en eerstejaar taalonderwyser. Sy is mal daaroor om stories en gedigte te skryf en het eens op ‘n tyd gereeld vir Foto Verhaal Vrydag geskryf. Deesdae het sy haar eie Instagram-blad waarvoor sy skryf. 

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae