#JongStemme: Ons plig om lewende monumente te bou

Deur Jandré du Plessis

Jandré du Plessis

Diep in die Suid-Angolese bos lê ʼn Suid-Afrikaanse Ratel Infanteriegevegsvoertuig. Mielie se Ratel. Aan die een kant, ʼn swart uitgebrande ysterkarkas. Maar aan die ander kant, ʼn tasbare simbool van vrede, hoop en die hoogste offer. Deur dít te onthou word dit ʼn lewende monument van ʼn duur prys.

Die Suid-Afrikaanse Grensoorlog, ook bekend as die Bosoorlog, het vanaf 1966 tot 1989 gewoed. Dit was ʼn konflik waar die seuns van die Sowjetunie, Kuba, Angola, Suidwes-Afrika (Namibië) en Suid-Afrika as deel van die Koue Oorlog moes veg. Hierdie Suid-Afrikaanse seuns van 18 is nou ons pa’s, oupas en grootoupas. Hulle was verplig om na skool hul land te gaan verdedig op plekke vêr van hulle huis waar hul geskiedenis beleef, gemaak en ook verander het.

Ek was uiters bevoorreg om onlangs daardie plekke in Namibië en Angola saam met ʼn groep veterane te kon besoek. Die besoek aan Angola is die derde van sy soort. Dit staan bekend as “UNIDADE e AMIZADE” (Eenheid deur Vriendskap). Dit is ʼn inisiatief van die 61 Gemeganiseerde Bataljongroep Veteraneverenging om bande te smee tussen voormalige vyande, wat nou as vriende kan saamkom.

As deel van hierdie inisiatief is ons onthaal deur die Angolese administrateur van Cahama in die Cunene-provinsie. Die toergroep van ongeveer 40 is met ope arms verwelkom. In sy openingsrede het die administrateur benadruk: “Dit is wonderlik dat julle besluit het om Angola te besoek as veterane omdat julle verdedig het wat julle geglo het reg was, en ons moet saamwerk vir ʼn beter toekoms vir ons kinders.”

Die prys betaal 

Die administrateur is heeltemal korrek. Daar is egter ʼn ontsagwekkende duur prys betaal ter verdediging van hierdie geloof in ʼn ideaal. Ses ure vanaf enige beskawing het die toergroep op 10 Julie 2022 ʼn monument onthul vir 13 seuns wat in 1980 gesterf het as deel van Operasie Smokeshell. Dit was die eerste keer in 42 jaar waar die makkers van daardie 13 kon terugkeer na die afgeleë sterfplek.

Tydens die onthulling is die wyse waarop elkeen gesterf het deur hul vriende uitgelees en elke doodsberig is afgesluit met die woorde: “Hy was 19”.

In daardie oomblik is ek tot in my wese geruk, want ek self is 20. Ek het drome, ideale, plekke om te besoek, en mylpale wat ek wil bereik. Maar vir daardie 13, asook duisende seuns van die Sowjetunie, Kuba, Angola, Suidwes-Afrika (Namibië) en Suid-Afrika was dit nooit moontlik nie…

Ons het ons toer in Angola afgesluit by die Ratel Infanteriegevegsvoertuig van tweede luitenant Muller (Mielie) Meiring. Hy het gesterf op 27 Junie 1988 in ʼn offensief om die Kubaanse 59ste Brigade se inval na Namibië te stuit. Ook hy was maar net 19.

Die offensief is afgeweer en vrede is kort daarna gesluit tussen Suid-Afrika, Angola, Kuba, Namibië en die Sowjetunie. Mielie Meiring se uitgebrande swart ysterkolos staan as simbool van vrede, hoop en die hoogste offer.

Volgens oorlewering sterf ʼn mens nie totdat die laaste persoon jou naam vergeet nie. Ons het ʼn plig om die verhale van hierdie ongelooflike Grensoorlog-generasie wat geskiedenis beleef, gemaak en ook verander het, te vertel. Só bou ons, dié wat nog kan droom, lewende monumente sodat daardie 13 seuns en die Mielie Meirings vir ewig sal leef.

  • Jandré du Plessis is die algemene bestuurder vir die nuut gestigte Pro Patria Museum MSW, wat hul beywer vir die geskiedkundige rol wat Suid-Afrikaanse Veiligheidsmagte gespeel het in die skep van ʼn vreedsame Suider-Afrika. Hy studeer regte aan Akademia.

Die Pro Patria Museum beoog ook ʼn jeugtoer na Angola in 2022. Belangstellendes kan hulle kontak by [email protected].

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

krodedil ·

Dankie Jan, Kon dit nie beter gestel het nie. 61 MEG Rules. My eie twee seuns sal dit ook nooit verstaan nie.

Spook ·

Jan, korrek.
Ons het opgehou om seuns te wees toe ons by die kamphekke ingestap het.

annie ·

In plaas dat die destydse regering die geld wat vir die dwase doellose stryd om die Weste te help om Afrika te bly oorheers, gebruik het om die jongmanne geleerdheid te gee, is vir jare aangehou om eerder siek veglustige leiers se hubris lewendig te hou. Terug moes ou jongmanne sukkel om weer hul voete te vind. Lelike stories oor wat aangegaan het word in die kiem gesmoor. Die VSA se missie het onlangs onverrigtersake moes terugkeer omdat swart Afrika nie ok wil skrik vir kamma-dreigende Russiese magte nie.

Groen Ghoen ·

In die elf maande wat ek in Owamboland se wit sand deurgeworstel het, het ek van geen politikus, wapenvervaardiger of generaal van Kuba, Angola, Unita, Oos-Duitsland, Rusland of S.A. verneem wat in konflik gesneuwel het nie. Ek het wel by vele begrafnisse van jong “manne” se begrafnis die stadige pas mars gedoen en die geweer gepresenteer terwyl die kis in die grond wegsak. Lees asb. Chester Crocker se High Noon in Southern Africa: Making Peace in a Rough Neighborhood. Daar vertel hy eerstehands oor die S.A. gesante se veragtelike optrede tydens die vredesonderandelinge. Suid-Afrika was maar net weer ‘n pion in ‘n groot magspel. En, net soos met die Anglo-Boere oorlog, het kosbare bloed van die Afrikaner die hoogste prys betaal.

Marthinus W ·

My pa se broer, Paul Willemse, is in 1965 in Clarens begrawe met volle militere eerbewys (ek was 3), maar sy naam verskyn nie op die muur van herinnering by die Voortrekkermonument nie. Dalk is die feit dat hy deur sy eie offisiere gedood is, die rede. Ek het diensplig gedoen en het nie eens ‘n eenvoudige ou medalje gekry as dankie nie, maar vir Umkhonto-hulle is spesiaal medaljes gemaak.

Persoonlik voel ek “Pro Patria” en die naam “grensoorlog” moet herbesin word. Nie almal was op die grens nie, baie is aangewend in die res van die land, omdat dit n totale aanslag was. En die polisie het hule eie medaljes gehad. [tegnies gesproke, het die polisie meer terrs gedood as die weermag]

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.