#JongStemme: Ons sal self, wie anders?

Deur Frans de Klerk

“Als wij niets doen?
Wie dan?
We zien toch dat dit niet kan
‘T is nu aan jou en mij
Onze enige hoop zijn wij…”

ʼn Mens hoef nie hierdie lirieke uit die musiekblyspel, Soldaat van Oranje, te herken om daarmee saam te stem nie. ʼn Eenvoudige vertaling lewer die volgende op: “As ons niks doen nie, wie dan? Ons sien tog dat dit nie moontlik is nie. Dit is nou ek en jy. Ons enigste hoop is ons…”

In Suid-Afrika hou ons daarvan om te kla – en ons is meer as geregtig daarop. Dinge gebeur nie soos wat dit veronderstel is om te gebeur nie. Ons het ampsdraers sonder ampte. Ons het verteenwoordigers sonder verantwoordbaarheid. Ons het leiers wat nie kan lei nie en ons ministers is mislukkings. Diegene wat in beheer van Suid-Afrika is, het ʼn direkte invloed op ons “gewone” mense se lewenskwaliteit. As hulle nie hul verantwoordelikhede nakom nie, het ons mos die volle reg om daaroor te kla.

Suid-Afrika het beslis nie ʼn tekort aan klagtes nie. Inteendeel, dit is abnormaal as jy nié iets het om oor te kla nie en selfs dán kan jy nie met veel oortuiging sê dat dit danksy die owerheid is nie. Maar wat nou gemaak as jou klagtes op dowe ore val? Wel, daar is tog prosedures hiervoor. Neem jou klag na die volgende persoon in bevel en as jy nie regkom nie, is daar iemand wat bo die een aangestel, en iemand bo hom. Voor jy jouself kan kry, skryf jy ʼn brief direk aan die president, waarin jy vra dat iemand asseblief net na die slaggat in jou straat moet kom kyk.

Frans de Klerk (Foto: Verskaf)

Ek het in ʼn huis grootgeword waar kla nie ʼn opsie was nie. “As jy nie iets aan die situasie kan doen nie, moenie daaroor kla nie, want dit gaan nie help nie. As jy wel iets aan die situasie kan doen, moenie daaroor kla nie – doen dit,” het my pa vir ons geleer.

Dit beteken nie dat jy moet stilbly nie. Dit beteken bloot dat om te kla nie gaan help nie. Dit beteken dat jy jou slegte omstandighede moet aanvaar vir wat dit is en daarom dubbel so hard moet werk om daaruit te kom.

Ja, ek betaal my belasting sowel as my elektrisiteitsrekening, maar ek het steeds nie krag nie. Ek kan ʼn brief aan Eskom skryf om die regverdigheid hiervan aan my te verduidelik óf ek kan begin spaar. Ek werk oortyd en ek neem minder verlof. Ek doen moeite en gebruik my tyd en geld om in ʼn sonkragstelsel vir my huis te belê. Ek werk dubbel so hard (en betaal meer) as wat ek moet vir hierdie basiese behoefte van elektrisiteit, maar nou het ek in my eie behoefte voorsien. Dit gaan nou nie nét ʼn bietjie beter met my as met my buurman wat steeds briewe skryf nie, maar ek word ook ʼn bietjie minder deur Suid-Afrika, of eerder die ANC, se onbevoegdheid beïnvloed.

Ek sê weereens: ons het die volste reg om te kla. Ons mág maar; dit word selfs van ons verwag en aangemoedig. Sê presies vir Suid-Afrika en vir die wêreld wat verkeerd is, maar wat het jy al meer gedoen as om te kla?

Ons sal self, want wie anders?

  • Frans de Klerk doen tans ʼn internskap by Solidariteit. Na sy skoolloopbaan op Orania trek hy in by Sonop Christelike Tehuis waar hy dien op die Huiskomitee en sy studies voltooi by die Universiteit van Pretoria. Frans is ʼn Afrikaner-aktivis wat graag standpunt inneem en dit gereeld openbaar op sy Facebook- en Twitter-blaaie (@FransdeKlerk77).

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

groenboer ·

Ons groot probleem op die oomblik is nie soseer dat die regering niks doen nie as dat hy te veel probeer doen, insluitende om mense te probeer verheod om hulself te help. Nou ja, soos dinge nou gaan is die staat besig om in duie te stort, en binnekort sal daar geen struikelblokke meer in die pad wees van selfbestuur nie.

Johan ·

Ek het die voorreg gehad om ‘n opvoering van die Blyspel, Soldaat van Oranje by te woon. Dit was so ‘n verruklike ervaring dat ons ‘n tweede opvoering bygewoon het omdat ons nie kon glo wat ons ervaar het nie. Ek kan dit nou nog glo nie! Erik Hazelhoff Roelfzema het ook tot die slotsom gekom: “In het leven van ieder mens kome ogenblikken voor waarop hij tot zichzelf zecht: ‘Tja, dat kan niet.’ En dan dóét hij iets.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.