#JongStemme: Ons vrees vir donkerte EsKom-en-Gaan

Deur Ansie Bylsma

Ansie Bylsma (Foto: Verskaf)

As klein dogtertjie was ek bang vir min dinge. Om op die plaas groot te word verg mos ʼn ander tipe moed. Van slange vang tot bytplekke met veldplante dokter kan jy my niks vertel nie. Donderweer was nie so erg nie, want dit beteken mos reën en selfs hoogtevrees kon oorwin word deur die nuuskierigheid vir wat bo in die boom wag.

Een ding waarvoor ek wel bang was, was die donker.

Daar is mos niks so bloedstollend soos iets wat vir jou terugkyk in die donker nie. Selfs al skakel jy die lig aan en sien dit was net jou pet wat skuins gelê het… jou hartklop bedaar maar moeilik. Die donker en alles (wat my verbeelding kon uitdink) wat daar skuil, het maar altyd gesorg vir angstigheid as ek alleen of sonder ʼn lig was.

As ʼn jong volwassene het hierdie kleintyd-vrees vir die donker ʼn ander baadjie aangetrek. Ek is nou bang… nee, banger as ooit, vir ʼn tipe donker wat ons eers later leer ken het.

Volgens my vlugtige Google-soektog het beurtkrag al tussen ons kom voelers uitsteek in 2007, maar dit was van korte duur en kort voor lank het ons weer normaal aangegaan. In 2014 het hy weer probeer huis opsit in ons midde, maar weereens het dit end gekry voordat ons te veel daardeur geraak is. In 2019, 2020 en 2021 het ons dan en wan te make gekry met hierdie berugte krag-reëling en in 2022 moes ons op ʼn nuwe vlak gewoond raak aan die absurde situasie. Beurtkrag het noodgedwonge deel geraak van ons alledaagse lewens.

Ek lees in verlede week die opskrif van ʼn artikel, vlugtig tydens middagete, maar ek verstik omtrent aan my broodjie. Vanaf 1 Januarie tot 22 Februarie 2023 (± 7 weke) is die aantal ure beurtkrag wat ons ervaar het, meer as die hoeveelheid ure beurtkrag wat ons in die héle jaar van 2021 ervaar het.

Woorde ontbreek my. En my vrees? Dié groei by die dag.

Elke week word daar ʼn nuwe kennisgewing uitgereik en elke week moet ons maar ons beplanning rondom dit aanpas. Dit het op ʼn punt gekom waar ons dankbaar is as die krag net vir ʼn paar ure ʼn dag af is. Ek sit en lag terwyl ek hierdie skryf. Ons is dankbaar as die krag net vir ʼn paar ure ʼn dag af is.

Ek het rede om bang te wees… ons nuwe realiteit is angswekkend.

Ek kom van ʼn piepklein dorpie in Limpopo af. Ons het nie groot inkopiesentrums of vreeslik baie bedrywighede op die dorp nie. Ons het wel ʼn skool, ʼn kerk en ʼn handjie vol besighede. Ek het rondgevra hoe die beurtkrag van die afgelope paar maande sy merk gemaak het en weereens raak ek bang.

“As gevolg van beurtkrag is daar min of geen selfoonsein nie. Die skool se normale werksaamhede word gekniehalter omdat geen kommunikasie tussen die departement, ouers en ander belanghebbendes van die skool kan plaasvind nie. In geval van nood gaan dit vir ons groot probleme veroorsaak.

Geen elektriese hulpmiddels, byvoorbeeld dataprojektors of rekenaars kan effektief gebruik word nie. Klaskamers is donker en kinders kan nie behoorlik sien in hulle boeke nie,” vertel meneer Johan Pieterse, die skoolhoof.

ʼn Werksdag het net soveel ure en ʼn plaaslike besigheidseienaar, Maritsa Steyn, ken beurtkrag se knou al goed.

“Beurtkrag maak beplanning moeilik, want die fases verander soms sonder waarskuwing. Ek kan party dae vir vier ure lank glad nie werk nie.”

Dit is ʼn halwe dag se produktiwiteit wat jy verloor – ʼn halwe dag se inkomste.

Selfs ons kerk gaan gebuk onder die donker invloed van beurtkrag. Dominee Johan Burger vertel soos volg: “As die krag 09:00 moet aangaan, moet ál die apparate (soos die dataprojektor) afgeskakel wees. Kom die krag stiptelik aan, kan ons binne enkele senutergende oomblikke die hele bedryf op dreef kry.

Die aanskakel is egter uiters min op tyd. Dit kan enigiets van 09:00 tot 10:15 aankom.

Ma’s wil nie met nat hare kerk toe kom nie, so gesinne bly by die huis en ons kan selde na die erediens saamkuier, want daar is nie warm water vir koffie of tee nie.

Beurtkrag het ook soveel ekstras meegebring om elke huisgesin én selfs die pakhuise toe te rus met noodsaaklike alternatiewe kraglewering, dat daar ook nie meer los geld in die huis was vir die offergawes of dankoffers nie.”

Ook ons boere, die mense wat kos op ons tafels sit, trek swaar onder Eskom se donker straf. Nie net meng dit in met die daaglikse bedrywighede soos om water te pomp of toerusting te laat hardloop of pak-fasiliteite aan die gang te hou nie, maar sonder krag werk die elektriese heinings nie. Sonder krag kan die twee-rigting radio’s nie laai nie.

Sonder krag is ons boere meer kwesbaar as ooit.

“Kliënte ry van ver af om hare te kom doen en soms moet ek hulle met nat hare huis toe stuur. Dit voel so verkeerd, maar wat kan ons doen?!

Daar is absoluut geen sein tydens beurtkrag nie, so die kaartmasjien werk nie en dit veroorsaak ʼn verdere klomp probleme.

My toerusting hou dit nie, want as die krag wel aan is, is die elektriese spanning nie dadelik reg nie en is die krag of te sterk of te swak. Een haardroër na die ander brand uit. Dis ʼn absolute gemors!” So vertel ons plaaslike haarkapper, Michelle van Heerden moedeloos.

Hierdie mense en organisasies is die hartklop van ons gemeenskap. Ons skool en kerk, so klein soos hulle is, is die fondasie waarop ons hele gemeenskap gebou is. Ten spyte van die tientalle ander uitdagings wat hulle in die gesig staar, is beurtkrag besig om ons asem al hoe vinniger uit te druk. Dít maak my bang.

De Ruyter het gepraat, ons vermoede bevestig, en ʼn vlammetjie van hoop aangesteek. Hoop dat daar nog mense is wat dapper genoeg sal wees om na vore te kom om hierdie kragkrisis te help hokslaan. Hoop dat nie almal korrup is nie. Hoop dat die donker gáán einde kry. Hoop dat ek hierdie vrees wat ek het, dalk, ook sal kan ontgroei.

Ek is steeds bang. Fase 8-beurtkrag wink nader… en wie weet of dit daar gaan stop? Ek is bang. Ons kinders se onderrig ly daaronder en ek is bang. Ons boere sukkel, ons besigheidseienaars sukkel, ons kerke sukkel. Ek is bang.

En ja, dit is moeilik om hoopvol te bly in ʼn hopelose situasie soos die een waarin ons is, maar dis nie onmoontlik nie. Ek is bang vir die Eskom-donker en ek is bang vir wat dit vir ons beteken, maar ons het nie krag nodig om op ons knieë te bly nie en wie weet, dalk is daar tog ʼn lig aan die einde van die tonnel.

  • Ansie Bylsma werk tans as ‘n kandidaatprokureur in Nelspruit na voltooiing van haar LLB-graad aan die NWU.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Truman Burbank ·

As jy tussen 18 en 26 is, beteken dit jou ouers is selfde ouderdom as ek of dalk bietjie jonger. My generasie bestaan uit drie. Die wat verandering aangemoeding het, die wat dit teengestaan het, en ek van in die “told you so” groepie. Klein groepie. Beide ander groepe lag gereeld vir ons. En kom dan agter ons was tog reg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.