#JongStemme: Ons wag vir jou, Suid-Afrika

Deur Louis Spershott

Louis Spershott.

Ná vyf jaar se studeer het ek besluit om ʼn een jaar (betaalde) vakansie te vat. My doel vir die een jaar se weggaan, was om nuwe dinge te leer wat ek weer in die toekoms kan gebruik op ons eie plaas.

So begin die reis na die land van melk en heuning, Amerika! Ek het op 31 Januarie 2020 gevlieg na die volksvreemde land met baie uitdagings wat voorlê. Ná ʼn vlug van 21 uur en drie uur se ry, het ek uiteindelik op die plaas aangekom waar ek moes wees. Die uitdagings het van dag een af al begin en ek moes vinnig aanpas anders gaan die 365 dae lank raak.

Soos wat die tyd verloop, sien en leer mens baie nuwe dinge aangesien Amerika seker vyf jaar voor Suid-Afrika is as dit by tegnologie kom.

Ek maak ʼn vinnige en kort opsomming van al die nuwe goed wat ek hier geleer het sover. Eerstens boer die boere hier op ʼn baie groter skaal as ons boere in Suid-Afrika, die regering hier sorg vir hul boere want hulle besef dat die land nie kan funksioneer sonder hul boere nie. As ek net ʼn paar voorbeelde kan noem: die skraap van grondpaaie en veral as dit gesneeu het, sodat die boere kan beweeg; die sny van gras langs die grond-/teerpaaie. Daar is droogte-inspeksies en die regering betaal ook uit vir die hoeveelheid voer wat benodig gaan word vir die wintermaande.

In Amerika praat hulle van ʼn “game fence” – dit is ʼn vierlyndraad wat die boere op hul plase span waarvan die hoofdoel is om die wild te beskerm en ook om jou diere binne-in kampe te hou. As die boere die drade span, betaal die regering die geld aan hulle terug. Die boere kry ook ʼn spesiale, baie goedkoper diesel wat hulle vir die trekkers moet gebruik. Die regering het ook “game wardens” in elke streek wat die wild in die omgewing beheer/kontroleer sodat daar geen stropery plaasvind nie en sodoende ook die wild te beskerm vir die toekoms. Hierdie is vinnig net ’n paar punte wat ek kan noem wat die regering vir die boere doen.

Op die plaas self het ek nie al veel nuwe goed geleer nie, want dit stem baie ooreen met wat ons in Suid-Afrika op die plase doen – al verskil is dat hulle regdeur die winter elke dag voer omdat die sneeustorms hier baie erg is. Ek het in dié tyd wel gesien die manier hoe hulle hul beeste bestuur, werk goed om van die volgende kalfseisoen ʼn sukses te maak.

Iets wat my hier die meeste opgeval het, naamlik die betaal van belasting en die gebruik van belastinggeld – veral as ek dit vergelyk met Suid-Afrika – maak my hart sommer seer. Die Amerikaanse regering gebruik die geld vir die regte doel en dít is waarom die infrastruktuur wêreldklasgehalte is en hulle sorg vir die boere, want die boere sorg weer vir die land. Die een ding wat ek sal mis van Amerika, is dat jy nie die deure van die plaashuis of enige voertuig hoef te sluit nie en as jy terugkom, dan is alles nog net soos wat jy dit gelos het.

Dit is lekker om in ʼn Eerste Wêreldland te werk, maar steeds mis ek Suid-Afrika, en dan vra ek myself hoekom? Suid-Afrikaners is net ʼn ander tipe mens met ʼn ander tipe hart. Tog, jy mis jou familie en vriende, jy mis om gesellig om die vuur te sit, met lekker Afrikaanse musiek en ʼn vleisie om te braai. Jy mis dit om langs die dam saam met jou vriende te sit en visvang. Jy mis die mense wat jou taal praat en verstaan, jy mis pannekoek en jou ma se varsgebakte beskuit.

Suid-Afrika het baie probleme, maar tog bly dit die mooiste land in die wêreld. My hart bly in Suid-Afrika en ek sien jou binne 125 dae weer.

My droom vir Suid-Afrika is dat ons as een nasie onder God sal staan, dat daar ʼn nuwe regering aan bewind sal kom wat die belange van sy mense eerste stel en die ekonomie tot sy volle potensiaal sal bestuur en dat boere in ons land as belangrik geag sal word. Afrika het ons nie nodig nie, ons het vir Afrika nodig.

Ons vir jou, Suid-Afrika!

  • Louis Spershott is 24 jaar oud en ’n boerseun van die Oos-Vrystaat. Hy het vir vyf jaar studeer aan die NWU se Potchefstroom-kampus en in dié tyd sy graad in landbouekonomie en risikobestuur verwerf. Hy het ook ʼn nagraadse kwalifikasie in bestuur en ʼn honneursgraad in risikobestuur voltooi.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Interessante skrywe en jou ervarings in ‘n Eerste Wêreldland.Suid-Afrika was natuurlik jare gelede self oppad na ‘n Eerste Wêreldland en het geleidelik na 1994 teruggesak na ‘n Derde Wêreldland.Jare gelede kon mens SA vergelyk met van die bestes, maar ek is bevrees daardie dae is verby.Enige probleme kan omgekeer word met goeie regering en goeie bestuur en solank dit nie gaan gebeur nie sal SA sit met hierdie huidige probleme.Jou laaste paragraaf spreek boekdele en ek vertrou dat dit sal realiseer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.