#JongStemme: Onthou Soweto ’76 en los my moedertaal uit!

Deur Jandré du Plessis

Jandré du Plessis.

Amper 45 jaar gelede, op 16 Junie 1976, trek die polisie los op ’n groep skoliere wat beswaar aanteken oor verpligte onderrig in ’n taal wat nie hul moedertaal is nie. Dit eindig in ’n tragedie. Nou, soveel dekades later, is daar weer pogings om skoliere van hul moedertaalonderrig te ontneem. Dit is tyd dat ons ’n les uit die geskiedenisboeke neem en nie die foute van die verlede herhaal nie.

Historiese konteks

Die skoliere in Soweto het protes aangeteken teen die Afrikaans Medium Decree. Hierdie bevel het skole gedwing om meeste van hul onderrig in Afrikaans en Engels aan te bied. Hierdie minagting van hul eie tale het swart studente aangemoedig om in ’n optog na Orlando-stadion hul misnoeë te kenne te gee. Met die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) is daar vertel dat die Suid-Afrikaanse polisie ’n opgeleide hond onder die skoliere losgelaat het. Die skoliere het die hond uit woede doodgemaak en die polisie het begin losbrand op die skare en meer as 170 mense is in die spervuur dood.

Taal: ’n politieke speelbal

Taal is krities vir die identiteit van die individu sowel as die gemeenskap. Die mens dink, kuier, droom, dryf handel, bid en treur in die taal van sy geboorte. Dit is dus krities vir die groei van ’n student om ook onderrig in sy moedertaal te ontvang. Juis omdat taal só belangrik is, word dit deur die politiek gebruik as ’n speelbal. Dit was ’n speelbal sedert die vorming van Suid-Afrika en is steeds ’n teiken vir politici. Die studenteorganisasie Cosas het in Augustus vanjaar gevra vir die skrap van Afrikaans as onderrigmedium. Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het die afgelope paar jaar sterk aanvalle teen Afrikaans as onderrigmedium van stapel gestuur.

Soweto ’76 het juis plaasgevind omdat die regering en politiek skoliere van onderrig in hul moedertaal ontneem het.

Taal, die wet en die onvermoë van die regering om moedertaalonderwys te verskaf

Die reg tot onderrig in jou moedertaal word in die Grondwet verskans:

“Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.”

Dit is dienooreenkomstig die plig van die regering en die departement van basiese onderwys om hierdie reg vir die jeug van Suid-Afrika moontlik te maak. As my moedertaal Zoeloe, Afrikaans, Engels of Setswana is, moet ek daarin kan skoolgaan. Ongelukkig is hierdie ’n droomwêreld, want daar is nie naastenby genoeg skole in Suid-Afrika om nuwe skoliere te akkommodeer nie ten spyte daarvan dat die departement van basiese onderwys R25,3 miljard in die 2020/’21-begroting ontvang het. Op 29 November 2020 verklaar dieselfde mnr. Lesufi dat nog 41 000 skoliere (18%) in Gauteng steeds wag op plasings in die skole.  Die huidige status quo is die gevolg van wanadministrasie en die onvermoë om genoeg skole te bou.

Ten slotte

Moedertaalonderrig het in 1976 ’n kruitvat aangesteek. Alhoewel ons sedertdien ongelooflik ver gevorder het, word moedertaal steeds uitgebuit vir politieke doelwitte en agendas. Dit is juis ook hierdie politieke rolspelers en instellings wat die skoliere van 1976 gefaal het omdat daar steeds te min skole gebou word sodat opvoeding in moedertaal aangebied kan word.

Geagte departement van basiese onderwys, mnr. Lesufi, Cosas en ander rolspelers – kom ons onthou Soweto ’76 en gee my medeskoliere kans om hul opvoeding in hul moedertaal te kan ontvang.

  • Jandré du Plessis is ’n matriekleerder aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley. Hy is redakteur van die skoolkoerant (Aitsa!) en is as provinsiale wenner van die 2020 ATKV Afrikaanse olimpiade aangewys. Twee van Jandré se gedigte is ook in die 2019- en 2020- uitgawe van die Poort-digbundel (’n projek van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) gepubliseer. Hy is ’n ywerige amateur historikus, militêre versamelaar en gaan LLB in 2021 aan Akademia studeer.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rentia ·

Ek stem saam. Derduisende het eerlik gewerk, geskryf. Ek weet ook van heelwat wat reeds hulle boeke weggegooi het, jy is mos klaar met matriek, hoekom dan nou alles wegpak.
Angie, vraestelle lek ELKE JAAR UIT – JARE LANK AL. Nooit het enige iemand ‘n dooie duit gesteur daaraan nie. Hoekom is hierdie soesifieke eksamen se “integriteit” so belangrik dat alles oorgedoen moet word? Bitter min glo julle weergawe van integriteit, so teken net die goed af, straf die wat oneerlik was en los tog die res uit. Was die jaar nie al erg genoeg nie?

Pieter ·

Die stuk kort nou die oe van die waarna hier verwys word, as hulle sal verstaan, want ek dink hulle rassisme van wortel is so diep dat die nie eens sal sin maak nie. Die lesufi en eff en anc gardes.

Vrijburger ·

Mmmm interessante artikel. Veral die bytrek van die Soweto ’76 insident.

Heinrich ·

Baie goeie toespraak Jandré, net jammer Lesufi sal dit nie deur sy politieke bril kan insien nie. Die goot verskil is: in 1976 het hulle geskree “Ons sal nie in Afrikaans leer nie”, nou skree hulle “Julle sal nie in Afrikaans leer nie”. Politieke meerderheids geboelie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.