#JongStemme: Oupa en Ouma sit op die stoep… en jy?

René Krüger.

Hierdie kort storie is ʼn poging om ʼn handleiding te wees tot die skatkis van ons kultuur.

Psalm 78:4 sê: “Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het.

Psalm 78:6-7: “…sodat die volgende geslag dit kan weet en die kinders wat nog gebore sal word, dit weer aan hulle kinders kan vertel. So sal hulle dan op God vertrou…

Dit is ʼn voorreg om aan hierdie skatkis, waarvan God die middelpunt is, blootgestel te word en jy moet die handleiding aan die volgende geslag kan oordra.

Salig sit julle op die stoep se riempiemeubels. Ouma vertel hoe haar pa die riempiemeubels gemaak het, want sy oupagrootjie het weer vir hóm vertel hoe spesiaal dit is. Sien, die Voortrekkers moes meubels maak wat lig in gewig is, want die ossewa trek swaar.

Oupa haal sy boerehoed af en jy skop jou vellies uit. Daar lê dit – tradisionele Afrikaner-kleredrag wat vandag nog gedra word. Nou kan jou voete en siel asemhaal, daar waar jy op die stoep sit – die stoep wat so ʼn integrale deel van die Afrikaners se argitektuur is. Ons is mos buitemense, so ons bou graag ons huise met ʼn buitevertrek – die stoep.

Jy drink jou boeretroos en doop ʼn beskuitjie daarin. Hoe heerlik is die eg Afrikaner-versnapering nie! Ouma drink rooibostee, want dié trots Suid-Afrikaanse tee het medisinale waarde. Een van die boererate stel hoeka voor dat jy in rooibostee kan bad om jou sonbrand te laat bedaar.

Oupa sê dis kielierig wanneer Ouma voetjie-voetjie wil speel. “Kielierig”. Wat ʼn interessante woord! Die Afrikaanse taal is so uniek, vol kleurryke woorde, oorspronklike idiome en spreekwoorde. Ons moedertaal is so ryk, al is dit die jongste taal ter wêreld.

Jy sien die klein ossewa op die boekrak staan en onthou die stories van die Groot Trek. Piet Retief, Bloedrivier, die Voortrekkermonument, Andries Pretorius en “kaalvoet oor die Draak se rug” (Drakensberge) lui ʼn klokkie. Langs die klein ossewa is Jan FE Cilliers se digterlike woorde geraam: “…dis ʼn graf in die gras, dis ʼn vallende traan – dis al.”

Jy onthou jou besoek aan ʼn konsentrasiekamp, waar duisende vroue en kinders in die Anglo-Boereoorlog gesterf het. Ons geskiedenis bevestig inderdaad dat ná jare se bloed en sweet ons Suid-Afrika ons vaderland mag noem.

Ouma begin weer vertel van al die wonderwerke wat gemaak het dat julle vandag op die stoep kan sit en op die landerye uitkyk, maar jy kan al die sin namens haar voltooi: “Geloof is die hoeksteen van ons kultuur.” Net toe Oupa sy konsertina begin speel en die soet note van boeremusiek opklink, sien jy die stof op die pad.

Jou niggies en nefies is uiteindelik hier, maar eers: “Hallo Oom, hallo Tannie.” Respek vir ouer mense is selfs belangriker as die soengroet. Voor die vuur aangesteek word, is jy en jou niggies en nefies haastig om kleilat te speel en kettie te skiet. Selfs hierdie pret kom uit die kultuurskatkis – tradisies van ouds. Toe julle by die boerperde verbygaan, onderneem jy om so braaf te wees soos Wolraad Woltemade en jou niggies wil so onselfsugtig wees soos Racheltjie de Beer; rolmodelle wat Afrikaner-helde is.

Terug by die braaivleisvuur kyk almal na die son wat agter die windpomp sak. Jou oom vertel waarom die windpomp ʼn spesiale simbool in die Afrikanerkultuur is. Nou maak dit sin waarom amper elke huis waar Afrikaners woon iewers ʼn windpomp vertoon. Sonder die Westerse tegnologie van die windpomp sou hierdie Karooplaas en 30% van Suid-Afrika nie vir landbou geskik gewees het nie.

Die stof staan soos die grootmense sokkie terwyl jy nadink oor die kultuurskatkis en voel hoe jou hartklop in Afrikaans dans.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: René van der Vyver

René van der Vyver is woordvoerder van AfriForum Jeug. René het haar meestersgraad (cum laude) in Toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het haar navorsingstema, “Kreatiewe Afrikanerkultuurtoerisme”, ontwerp omdat sy passievol is oor die Afrikanerkultuur. René se passie gee egter die toon aan op verskeie gebiede, soos wanneer sy standpunt inneem oor aktuele kwessies op Twitter en YouTube (@realReneKruger).

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Volpunte! Julle moet maar Oom Paul se beeld in Pretoria gaan haal en hom maak staan op jul Kerkplein. Die uitsig sou hom meer geval. Mooi trappe daai!

FM ·

Maroela Media

Bind seblief hierdie kosbare reeks in boekvorm vir weerlees en aangee.

René is begaafd!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.