#JongStemme: Plase – die jagvelde van Suid-Afrika

Deur Janel du Preez

Janel du Preez.

See. Sit. Staar. Dink. My gedagtes hardloop vinnig en opgewonde terug na die plaaskuiers by Oupa en Ouma as ʼn klein dogtertjie. Die soet herinneringe van Oupa wat ons sleep met die trekker terwyl ons op die buitebande sit; vleiswerkdae as Pappa ʼn bok in die jagveld platgetrek het; ure lange swemsessies in die groot plaasdam; Oupa wat bestuurlesse aanbied in Beertjie (die ou staatmaker Toyota-bakkie); perdryritte en teikenskiet met die haelgeweer.

Die mooi en kosbare herinneringe is nog vars in my geheue…

Maar skielik verhard die hele prentjie. Ek wil regtig net die mooi van daardie stukkie aarde onthou, maar die realiteit van die laaste kuiertjie op daardie stuk grond, voordat dié pragtige stuk land verkoop is, hou my gedagtes met ʼn ysterhand vas. Die greep word net al stywer by die sekonde.

Die laaste paar dae op die plaas, veral saans, was daar ʼn onderliggende lagie vrees wat swaar oor ons almal se koppe gehang het. Die vuur se geknetter en die bosveldstilte kon nie my onrustige hart laat bedaar nie. Ek weet dat ons almal daardie mooi sterreaand soos ʼn trop bokke gevoel het wat gehoop het dat geen jagter vanaand sy verskyning gaan maak nie. Elke geritsel agter ʼn bos het my hare laat rys en my hart laat bokspring. Die nabyheid van die honde en Oupa se rewolwer weggesteek langs sy sy, het die vrees effens in bedwang gehou.

Die realiteit het my só hard geskop terwyl ek langs die see gesit het, dat ek na my asem begin snak het. Trane het nou vrylik oor my wange gerol voordat dit later begin vloei het. Dit wat ek elke paar maande ervaar het as ek op ʼn plaas gekuier het by vriende of familie, moet duisende boere en hul gesinne daagliks vierkantig in die oë staar. Ek kan myself nie indink hoe die onsekerheid, afwagting en angs ʼn mens dag vir dag en stukkie vir stukkie van binne af opvreet nie.

Hoe bly ons boere nog staande?

Ek het daardie aand langs die gesellige hitte van die bosveldvuur myself afgevra of dit vanaand ons beurt is? Is dit ons beurt om vanaand gejag te word? Is dit ons beurt om vanaand soos diere geslag te word? My hart breek vir elke boer en die res van die gesin wat elke dag teen daardie gedagtes moet veg.

Ek het begin introspeksie doen toe ek nie meer die see voor my sien nie, maar duisende boere wat om hulp roep in my geestesoog. Die boere se desperate gesigsuitdrukkings en noodkrete het my binnenste tot stilstand geruk. Ek het weer opnuut besef hoe die kwessie my aanraak. Ja, jy woon dalk in ʼn stad of jy ken nie boere nie, maar of jy dit nou wil glo of nie, die kwessie affekteer jóú ook. As jy nie saamstem nie, word dan asseblief wakker, en sommer vinnig ook!

Die introspeksie het my soos ʼn koeël tussen die oë getref. Ek is nie aktief besig om effektief by te dra tot ons geliefde boere se beskerming nie. Teleurgesteld in myself, het ek net daar en dan besluit om ʼn lid van ʼn organisasie te word wat alles in hul vermoë doen om plaasmoorde in die kiem te smoor en om ons land bewus te maak van dié ontstellende euwel.

Daarom vra ek nou alle oumas, oupas, ooms, tannies, vriende en vriendinne om van vandag af te begin deel raak van die oplossing. Ons boere het ons broodnodig. Die kommentaar wat jy lewer oor ʼn nuusberig wat handel oor nóg ʼn plaasmoord, gaan definitief nie die volgende boer wat geteiken word, red nie. Ons is nou ingeperk en dra wel maskers, maar dit beteken dit nie dat ons moet stilbly en stilsit nie. Begin aktief en luidkeels vir ons boere opstaan. Elke dag wat verbygaan en jy nie deel is van die oplossing nie, is ʼn dag te laat om boere en hul gesinne te red.

Raak nóú deel van die oplossing!

  • Janel du Preez woon in Stilbaai en is ’n tweedejaar-LLB-regstudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus. Sy is passievol oor die waarheid en geregtigheid.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Schalk ·

Jy som die situasie so mooi op! Dit is asof ons almal wil help om die plaasboere se lot te verlig met die nie net slegte van die wreedhede van plaasaanvalle nie maar ook die druk van onsekerheid oor grondbesetting , besoedeling en droogtes. Maar waar kry jy die lys van mense en hulle behoeftes? Daar is wonderlike mense wat groot pogings van stapel stuur om te help met droogtes , plaasbeveiliging ens. Dit is asof mens bid vir ” ‘n Neem ‘n Boer aan” skema waar gekonsentreerde hulp aangebied kan word ! Ongelukkig is daar uitbuiters en vertrouens probleme wat eers oorbrug moet word. Trots keer ook die meeste boere om net te vra! Ek help waar ek kan maar dit is meesal met skenkings wat so onpersoonlik voel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.