#JongStemme: Politici, besef julle die gevolge van jul dade?

Deur Elisma Olivier

Elisma Olivier.

Oudergewoonte ry ek na werk om verwaarloosde honde te gaan voer. Met groot afwagting kyk hulle na my om te sien wat hulle vir aandete kry, en daarna gaan hulle opgerol in ʼn bondeltjie lê en wag vir die nag se koue om hulle te omvou. Dit was ʼn moeilike dag en toe ek opkyk na die pienk wolke en die son wat agter die graansilo’s sak, kom Gesang 114 in my gedagtes op: “My enigste troos in lewe en dood…”

Vir ʼn oomblik neem ek alles om my in waar ek langs die mielieland staan. Daar kom ʼn gevoel van kalmte oor my en ek weet: Ek hoort hier. My selfoon lui en ʼn geskokte vriendin vertel dat ʼn vrou naby hulle kleinhoewe aangerand is, skaars ʼn kilometer van waar ek nou staan. Net daar word my bietjie hoop en kalmte gesteel.

Hoort ek in ʼn land waar alles afgebrand en gesteel word? Waar moorde en plaasaanvalle alledaags in hoofopskrifte is? Moet ek regtig hier bly waar ek huis toe moet jaag voor ek vroualleen in die donker moet ry? Jy, meneer wat in jou duur staatsmotor ry, met watter kleur ook al hoedjie op jou kop en jou eie gesig wat op jou T-hemp pronk: “Weet jy wat die gevolge van jou invloed as politieke leier is?” Universiteite, inkopiesentrums, skole, noem dit maar op … Wat veronderstel is om ʼn toekoms vir ons land te bied, word deur jóú beroof en besteel.

Waarom wil jy duisende hektare afbrand? Plase vir jouself vat, mense moor en plekke beroof? Voel jy die nood en die seer van die mense daarbuite? Gesinne sonder ʼn pa; kinders sonder ouers. Ons moet met elke beweging oor ons skouer loer. Voel jy die skade wat jy aan ons menswees in so ʼn mooi land doen? Voel jy dat meer as ʼn derde van SA sonder werk sit? Jy maak dit gevaarlik, jy maak geweld meer. Jy is die oorsaak van wantroue. Jy alleen is verantwoordelik vir hierdie enorme eindelose rimpeleffek wat deur ons land spoel en wie weet waar gaan eindig. Voel jy dit wanneer jy in jou luukse staatsmotor sit terwyl jy alles laat vernietig? Monumente, KwaZulu-Natal, Senekal se strate. Jy laat woede, vrees en frustrasie in ons agter.

Ons het ʼn land van diversiteit, 11 amptelike tale, ʼn ryk geskiedenis en unieke menslikheid. Jy kies om dit mis te kyk. Jy gluur vas teen dit wat jy nie het nie, en só trek jy almal saam met jou af. Ek weet dat my familie oorsee ʼn beter toekoms as ek het, maar steeds kies ek om hier te bly. Wat gaan jy doen as jy alles het? Sal jy alles kan maak werk? Nee, want dit wat jy wil glo en dit wat jy luidkeels verkondig, is nie realiteit nie. Dit is nie hoe ʼn leier vir ʼn land ʼn hoopvolle toekoms gee nie. Jy het dalk ʼn titel, maar jy misbruik jou mag. Jy dink nie eers aan die een wat langs jou bly of vir jou werk nie. Vandag se kinders gaan eendag net standbeelde vol verfspatsels sien. Stukkende paaie, kragstasies wat bankrot is en besighede wat besteel is. Hulle gaan die benoude stem van ʼn boer hoor wie se beeste doodbrand. Hulle gaan onthou hoe hulle in vrees geleef het. Laat dit jou trots voel?

  • Elisma Olivier is ʼn aspirantonderwyser. Dis vir haar ʼn voorreg om kinders te vorm, wat óók deel van Suid-Afrika se toekoms is.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Presies wat dit is. Die werklikheid van magsvergrype, gierigheid en plundering uber als, onder die dekmantel van regstellende aksie om die agtergeblewenes te help!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.