#JongStemme: ‘Positiewe dinge gebeur met positiewe mense’

Elsmari Grobler. (Foto: Verskaf.)

Deur Elsmari Grobler

“Matriek”, so ’n groot woord wat belaai is met soveel emosie.

Ons droom almal al van graad agt af om eendag hier uit te kom, die matriekbaadjie te dra en die “Groottes” van die skool te wees. En nou, nou is ons hier, maar wat nou?

Met die skielike koms van Covid-19 het alles verander. Nie net die manier hoe ons lewe nie, maar ook die manier oor hoe ons dinge sien, en dink oor wat om ons aangaan. Matriek gaan nou nie meer oor pret en herinneringe maak wat ’n ewigheid moes hou nie. Dit gaan nou net oor drie goed: akademie, akademie en – ja, jy is reg – akademie. Die pretgoed, soos netbal, Meneer en Mejuffrou Vossie, ons matriekafskeid, en so baie ander dinge, is – soos sake nou lyk – net weg.

Op 8 Junie, toe ons uiteindelik kon teruggaan skool toe, het vir my gevoel soos hoe ek in graad een gevoel het – om vir die eerste keer skool toe te gaan.

Ek was so opgewonde, maar tog so bang omdat ek onseker was oor wat ek moet verwag. Die onderwysers se glimlagte het my die krag gegee om die dag aan te pak.

Ons groet mekaar met die voet en loer mekaar aan oor maskers. Min het ons geweet dat ons planne vir matriek só sou uit draai. Alles het verander. Skinder en klets in groepies is nou deel van die verlede, want al wat ons die heeltyd hoor is “sosiale afstand”.

Ons sien dinge nou anders en fokus nou op heeltemal ander goed as in die begin van die jaar. Op ‘n manier is dit nie alles net sleg nie, want ons is nou meer gefokus op ons akademie. Ek glo, soos so veel ander matrieks van 2020, dat ons besig is om geskiedenis te maak.

Ons is die matriekgroep wat vir altyd onthou sal word, wat onder omstandighede sal uitstaan en ’n sukses sal maak van ons matriekjaar. Ons gaan aan die einde van ons matriek jaar ‘n storie vertel wat anders is as enige matriekgroep voor ons. Ons unieke stories van aanlynkoffies, maskers en hande was, sal ons in die geskiedenisboeke plaas as legendaries.

Ek weet matriek is oorweldigend en verskriklik baie werk en dat ons tydjie by die skool met nóg twee maande verkort is, maar, ons sal hier deurkom. As mense gaan ons sterker word, en die karakterontwikkeling wat ons nou ondergaan, sal ons vorm vir die res van ons lewe.  Ons gaan besef dat ons alles kan doen as daar net ‘n wil is.

Die Here het altyd ‘n plan en is altyd saam met ons. Ons moet herinneringe bou terwyl ons nog kan. Ons moenie vaskyk in koronastruikelblokke nie, want matriek gaan in ‘n oogwink verby wees. Daar is nog hoop en ons kan nog ons drome bereik.

Ek glo vas dat ’n mens altyd kan kies: Jy kan of vashou aan die verlede en niks bereik nie, of aanpas by die nuwe normaal en sukses bereik. Jy het altyd ‘n keuse. My gunstelingmeneer sê altyd: “Positiewe dinge gebeur met positiewe mense”.

  • Elsmari Grobler is ’n matriekleerling aan die Hoërskool John Vorster in Nigel, en beplan om in 2021 te begin met onderwysstudies by Aros.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AmY

Wat ‘n pragtige kind.
Elsmari; ek gaan jou naam onthou, want jy gaan nog groot hoogtes bereik.
So net dat jy ná jou graad voltooi is, aansoek doen by die beste skool. (indien moontlik)