#JongStemme: Regering se slagoffermentaliteit

Deur Pieter-Ben Roos

Pieter-Ben Roos.

Geagte mnr. Ramaphosa

Vra nie wat die wêreld vir jou kan doen nie, maar wat jy vir jou land kan doen.

Identiteitspolitiek is die rookskerm vir die ANC se onbevoegdheid gedurende ’n krisis. Gevaarliker as enige pandemie is ’n onbekwame verlinkse beroepspolitikus. Deur die geskiedenis heen én deur ons eie presidensie word dít baie duidelik bewys.

Sentraal aan die identiteit van die ANC is die idee dat voorafgaande ongelykhede, tot watter mate toe ook al, hul kwansuis die reg gee om skaamteloos te plunder en te verwoes vir eie gewin terwyl hulle voorgee dat dit tot voordeel van die meerderheid is.

Die kern van ’n individu se identiteit wat aan hom-/haarself toegeëien word, is kardinaal tot die vorming van groepsidentiteit en, by wyse, optrede van die groep in geheel, veral wanneer die individu ’n platform soos ’n presidensiële amp tot sy beskikking het. Hierdie hipotese kan óf groot positiewe effekte meebring óf soos in ons geval, katastrofiese wanorde.

’n Baie goeie voorbeeld van ’n geëiende slagoffermentaliteit is dié van ons regering. Hierdie mentaliteit vorm ’n groot deel van hul identiteit wat op sy beurt hul gedrag absoluut regeer. Onse ANC het vir hulself ’n slagoffermentaliteit toegeëien en dít gee hulle (blykbaar) die vryheid om sonder skaamte hulpeloos te wees.

By die Wêreld Ekonomiese Forum, virtueel by Davos, kla mnr. Ramaphosa oor die sogenaamde nasionalisering van entstowwe en vereis hy dat lande wat beter af is, die ANC (wat al weer bakhand staan) tog net tegemoet moet kom met ’n eenheid of twee van die entstof. Ons regering vereis – nadat hulle alle moontlike hulpbronne tot hul beskikking (waarvan daar miljarde was) verkwis het – dat die Wêreldbank asseblief net weer moet instaan sodat hulle verder kan verkwis. Die identiteit wat gevorm is deur ’n slagoffer van sy eie make, word hier ten toon gestel.

Aan die ander kant is daar opregte burgers van die land wat getrou hul belasting betaal en niks behalwe marginalisering daarvoor kry nie. Die minderheid word blatant uitgesluit van die regering se hulpskemas en as ons belange as bykomende prioriteit beklemtoon word, gebruik u en u makkers die verlede as verweer.

Ek vra, wie is nou suinig, mnr. die President? Die “welaf”-lande wat nie hul staatsinkomste plunder nie en na hul eie nasie omsien? Of u party wat met SA hulpbronne weier aan sommiges gebaseer op velkleur. Mnr. Ramaphosa, ons vra nie redding van die pandemie nie. Ons vra vir verlossing van die onbevoegdes wat ons in armoede dwing.

Die verskil is egter, ons gaan nie bakhand staan en wag vir u om ’n verskil te maak nie. Ons sal self die verskil maak, want dít mnr. die President, is ons identiteit!

  • Pieter-Ben Roos is ’n opleidings- en kontrolebeampte by Solidariteit se Dienssentrum.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

pompies ·

Baie goed gestel, die piesang republiek waarvan selfs die konstitisie nou in die gedrang kom weens hulle gestelery en staats kaping.

maria ·

Hy is nou wel nie meer ‘n kleuter nie maar ek sou graag wil se “uit die mond van die suigeling kom die waarheid” ANC sukkel om van splinter op die skouer ontslae ontslae te raak want dit is so ‘n gerieflike skuiwergat

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.