Van die Transvaalse Universiteitskollege (TUK) na die Universiteit van Pretoria (UP). Vir langer as ʼn eeu het dié instansie jonger generasies geleer om nie net die wêreld aan te pak nie, maar te bou – en ons hét gebou.
In die tyd wat ek aan die UP studeer het, moes ek vrede maak met veranderinge waarmee ek nie saamgestem het nie. Ek het gevoel ek hoort nie in die plek wat my voorvaders gebou het nie.
Hoe langer ek studeer het, hoe meer vervreemd het ek gevoel. Elke maand is ʼn ander koshuis, lesingsaal of gebou se naam verander. Maar, wat die seerste gemaak het, is hoe ons alombekende naam, Tuks/Tukkies, van al wat ʼn amptelike dokument, plakkaat en bordjie afgehaal is.
Boonop is ons borrelende gees met die verwydering van Tuks Jool, en ons gelukbringer, oom Gert, onderdruk, bloot oor die feit dat dit Afrikaans is en nie meer ʼn plek in vandag se samelewing het nie. Natuurlik is dit nie die amptelike rede wat die universiteit aan die publiek deurgegee het nie.
Daar is indirek aan my gesê my taal is nie meer welkom by die instelling wat waarskynlik die meeste gedoen het om dit te bevorder nie. Ek, en soos baie voor my, maar niemand na my nie, het die voorreg gehad om die laaste bietjie van Tuks se studentelewe te beleef – daarvoor sal ek ewig dankbaar wees!
Tuks is nie meer Tuks nie, en ek dink dis beter so, want oom Gert is as ʼn ware legende oorlede! As diegene wat deesdae die oorspronklike houtbeeld van sy edelagbare oom Gert bewaak dalk dié skrywe sien, wil ek graag formeel die eer vra om hom persoonlik in sy nuwe tuiste te kom besoek. Soos die mite lui, is hy op ʼn veilige plek.
Maar … Alles waardeur ek tydens my studentelewe aan die Universiteit van Pretoria is, het tot iets groter gelei. ʼn Fakkel het in my vlamgevat waar ek, ten spyte van konstante diskriminering, ʼn waardering en passie – soos nog nooit tevore nie – vir my volk en taal ontwikkel het. Dis ʼn fakkel wat nie uitgeblaas kan word nie. Dis ʼn lig vir die donker tonnels waarin ons onsself tans bevind.
Ek sal vir altyd na myself as ʼn oud-Tukkie verwys, want ek is trots op die universiteit wat my volk help bou het, die universiteit wat my taal bevorder het, die universiteit wat my geïnspireer het om die verandering te wees wat ek graag in die wêreld wil sien. Dit is werklik … Tuks of niks!
Ek is ʼn volbloed Boer, trots Afrikaans, en die meeste van als ʼn Afrikaner wat nie voor enigiemand behalwe God sal kniel nie.
Dankie, Tukkies – dit was ʼn voorreg! Rus in vrede.
Groete
Conrad Pitzer
#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.
Goed geskryf! Baie inspirerend.
Conrad, jy kan vir Tuks gaan groet daar by die RAU-grafsteen. Albei plotjies is nou gevul. Kovsies kom en Maties is besig om sy eie graf te grawe.
Dit is die mooiste en hartseerste skrywe wat ek lanklaas gelees het. Dit is so mooi om so jong man te sien trots wees op sy herkoms, dat hy ‘n trotse Boer is en sal bly en dat hy trots is om AFRIKAANS te wees. Jy is ‘n pragtige voorbeeld en ek wens baie van ons jeug vandag wat alles net oorboord gooi en alles vreemd aanvaar as reg, wil jou voorbeeld volg.
Jou ouers kan opreg trots op jou wees seun.
Bou so voort.
SALUUT Conrad Pitzer! Jy is n Boerseun na aan my hart!
‘n Mens kan net huil in jou hart!!
My Alma Mater. Ek snik en stik