#JongStemme: Senekal – Oppas vir ʼn Noord-Ierse geweldspiraal

Deur Frederik van Dyk

Frederik van Dyk.

Die oproer op Senekal verlede Dinsdag was ʼn belangrike keerpunt. Die tasbare woede onder Suid-Afrikaanse gemeenskappe spruit uit dieselfde vrot fontein: ʼn Afwesige, elitistiese en onbevoegde regering, wat boonop met jare se patronaatskap en korrupsie besmet is.

Dus, wat nou vorentoe? Die Senekal-kwessie is beslis bloot op die ys. Dit gaan lankal oor meer as Brendin Horner en selfs oor meer as plaasterreur en landelike geweldpleging. Politici en ander kommentators het telkens ʼn narratief ingeneem wat dit duidelik maak dat daar ʼn etniese doring in die vlees is, gepak met snellerlae soos plaasterreur, rasse-ongelykheid, grondbesit, regeringsonbevoegdheid, sistemiese korrupsie en staatsverval.

Hoewel ʼn mens daarop bedag moet wees om nie eietydse gebeure in geskiedkundige boksies te forseer nie, kon ek nie help om aan die ooreenkomste tussen post-Senekal Suid-Afrika en die Noord-Ierse Troubles (1969-1998) te dink nie.

Noord-Ierland het in 1921 ontstaan ingevolge ʼn kompromie tussen Ierse republikeine en die Britse Ryk. Noord-Ierland se bevolking het uit twee hoofgroepe bestaan. Die meerderheid was afstammelinge van protestantse Engelse setlaars en Skotte uit die Laaglande. Die minderheid was inheemse Ierse Katolieke. Teen die 1960’s was die Ierse bevolking van Noord-Ierland moeg vir wat hulle as sistemiese diskriminasie deur die Brits-Protestantse meerderheid beskou het.

Gemeenskapsleiers het die Northern Ireland Civil Rights Association (NICRA) gevorm, geïnspireer deur Dr. Martin Luther King jr. se burgerregtebeweging vir swart Amerikaners in dieselfde era. NICRA het aangedring op sistemiese veranderinge om institusionele diskriminasie te beëindig. Hulle was ook sat vir die regering se onderduimsheid en korrupte bevoordeling van ʼn klein elite. Deurlopend is hulle deur paramilitêre Britse lojaliste (skynbaar met ʼn groot invloed op die Noord-Ierse regering) uitgedaag en getart, totdat intergemeenskapsgeweld in die laat 1960’s uitgebreek het.

Ierse Katolieke buurte het hulself afgekordon en gewelddadige protes aangeteken teen die lojaliste en die regering. Die Ierse deel van Londonderry is byvoorbeeld vir polisiemagte geblokkeer en ʼn nuwe naam, “Free Derry”, gegee. Die regering se onversetlikheid, vooroordeel en laksheid om die lojaliste vas te vat, het die situasie só vererger dat die gewapende rebellegroep die Ierse Republikeinse Leër (IRA) tot die burgerlike konflik toegetree het. Die gevolg was ʼn bloedige, uitgerekte en lae-intensiteit konflik. Noodtoestande is telkens verklaar en die Britse weermag is ingeroep, wat sake verder geëskaleer het.

Duisende motorbomme is geplant, skerpskutters het burgerlikes en polisielede afgemaai, en sluipmoorde het daagliks gebeur. Die Noord-Ierse geweldspiraal het meer as 3 000 lewens geëis en eers in 1998 met die Goeie Vrydag Vredesverdrag geëindig.

Senekal het bewys dat daar ook onder die oorwegend Afrikaanse landbougemeenskap genoeg frustrasie en woedende energie is om tot verset oor te gaan. Soos in Noord-Ierland is hier ook groepe wat ideologies nader aan faksies in die regering staan, te wete die EFF. Die indruk onder baie Afrikaners is dat die EFF die ANC-regering se onregstreekse knuppel is. Vir die EFF is die wit Afrikaanse landbougemeenskap ʼn lastige minderheid wat nou boonop durf om gewelddadige protes aan te teken.

Die ANC-regering, soos die Noord-Ierse staat, trippel vervaard rond weens hul eie toedoen. Die spoke van wanbestuur, vooroordeel en korrupsie het hulle ingehaal. Gekoppel aan swak ekonomiese toestande en ʼn oormaat polariserende propaganda uit die VSA se plaaslike politiek, kan hierdie stand van sake in ʼn menslike ramp ontaard as koelkopleiers nie na vore tree nie. Politieke geweld kan nie méér ontydig wees nie: Die Valke en Nasionale Vervolgingsgesag se reeks arrestasies van korrupte politici en staatskapers is ʼn belowende teken dat Suid-Afrika besig is om homself te korrigeer. Om tot intergemeenskapsgeweld oor te gaan, kan die helende proses erg skaad.

Dit sal daadwerklike en selfs ongewilde besluitneming deur die Ramaphosa-regering verg om die hervormingspoging te red. Drastiese stappe moet swak polisiëring, plaaslike regering en haatspraak-plegers vasvat. Indien die regering sy ideologiese hubris en interne vooroordele kan laat staan, sal dit help keer dat die Noord-Ierse geweldspiraal ook ons voorland is.

  • Frederik van Dyk is ‘n LLM-kandidaat en direksielid van StudentePlein NWO, ‘n organisasie wat Afrikaanse akademiese ondersteuning aan Matie-studente bied.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Spook ·

‘n Interessante feit insake die Noord-Ierse “troubles”. Op die hoogtepunt van die die geweld, motorbomme en ander aksies, was die totale sterkte van die IRA se gewapende magte slegs sowat 90(negentig) mense. Hulle het die hele Britse Lëer vir die hele tydperk besig gehou, want die verskillende selle het nie geweet van die ander nie. Daar was wel samewerking, maar die lede was onbekend aan mekaar. Die Britte het nie ‘n idee gehad wat op die grond aangaan nie, en het eers baie later agter die kap van die byl begin kom.

Fritz ·

Genade
n Paar boere hoes effens en die land is in rep en roer, en elke 2de ou lewer kommentaar. Binnekort sal die kerke ook seker iets te sê hê. Wat gaan gebeur as die boere regtig hulle spiere bult?

Leonard ·

Dit is naïef om Iers-Britse probleme van mense met ooreenstemmende kulture en basiese lewensingesteldheid te vergelyk met die problematiek van en in Afrika, en dit nog voor die uniekheid van die Afrikaner se wording en bestaan en Westerse bestaan en disproporsionele bydrae binne ‘n Afrika-kultuurmeerderheid in berekening gebring word.

Danny ·

Dankie Maroela Media vir die nuutjie an #JongStemme. Dit is inspirerend en lekker om te sien dat jonges betrek word en belangrik geag word – ons is immers die toekoms. Insiggewend, maar tog realisties en sinies, genoeg om die lees aan die gang te hou, maar ook die brein en hart te prikkel. Welgedaan @ Solidariteit !

Vrijburger ·

Goeie stuk. Ek stem saam oor die geweld ding – moet nie die ANC ‘n verskoning gee nie.

Andrew ·

Koelkop leierskap ? Van wie af? Laaste wat ek gekyk het is die Afrikaaner sonder n leier. Die ANC? jammer maar die ANC is die vyand.

modiglianigirl ·

Die Senekal knelpunt is ‘n benoude saak en ‘n baie duidelike aanduiding van hoeveel opgekropte frustrasie in die hart van ELKE Suid Afrikaner druk en keelwaards opstoot.
Die hartseer van die saak is dat die waarheid verlore raak.
Dit is waarop Frederik van Dyk ons probeer attend maak deur ‘n geskiedkundige voorbeeld aan te haal in die hoop dat die skille van ons oe sal val.
Die waarheid is : Ons is almal een.
Ons is nie ons fisiese liggaam – ras, geslag of ouderdom nie –
Hoe hartseer dat al wat ons kan sien die fisiese voorkoms is.

ALMAL voel dat die gebrekkige regstelsel, geweld, swak staatsbestuur, korupsie en alles wat negatief is onaanvaarbaar is, maar instede daarvan om saam te staan en die werklike kwessies te takel wat ons lewensgehalte en sielsvrede benadeel wat doen ons? . . . . .
dis reg ons raak gefrustreerd, soek sondebokke en takel mekaar –
God se skepsels raak emosioneel onnosel en roei onsself uit.
Laat my dink aan die skerpioen wat homself doodsteek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.