#JongStemme: Sien jy ook die groeiende anti-Afrikaanse sentiment? 

Deur Ryno Bornman

Ryno Bornman.

Ek sê dit met skaamte, maar vir ʼn goeie paar jaar van my hoërskoolloopbaan was die verlies van die Afrikaanse taal nooit vir my ʼn dreigende probleem gewees nie. Gedeeltelik omdat dit nie vir my tasbaar was nie, maar moontlik ook omdat ek nie die volle waarde van ons taal en kultuur begryp het nie. As jy nie weet wie Rembrandt van Rijn is of die waarde van sy skilderye ken nie, kan jy dit selfs as ʼn vloerlap gebruik sonder ʼn skuldige gewete. Dit is met die bemagtiging van kennis waar waardering en openbaring kom, en net so is dit met ons taal. Soos wat ek meer leer, open dit my oë vir die waardes en beginsels waarby my voorvaders hul lewe gegee het om ons kultuur te beskerm.

Waardes wat sê dat kinders hul ouers moet respekteer. Dat mans hul vroue met respek moet hanteer. Waardes wat die belangrikheid van familie beklemtoon. Wat nie orde, netheid en eerlikheid minag nie. ʼn Kultuur wat vooruitstrewend en innoverend is, want ʼn boer maak ʼn plan. ʼn Kultuur waar mense omgee vir hul eiendom, dit in stand hou en opbou. ʼn Kultuur wat ʼn omgewing skep waar respek vir jou medemens voor die hand liggend is. Wanneer ek opstaan om my taal te beskerm, is dit vir die beskerming van ons waardes en kultuur. Ek beskerm die nalatenskap van my voorouers en bevorder die voortbestaan daarvan.

Daar is, alhoewel, ʼn vrees dat dit anti-transformerend is om Afrikaans te beskerm en dat jy moet skaam kry vir jou taal en kultuur. Sulke sentiment is ongrondwetlik en daardie vrees is misplaas. Indien enigiemand vir jou anders probeer oortuig, is daardie persoon nie in pas met ons land se Grondwet nie, en is dit dan ons verantwoordelikheid om iets daaromtrent te doen. Ons moet nooit toelaat dat mense ons gees breek nie, nog minder dat iemand jou onwelkom laat voel in jou eie land! Mense kan probeer, maar dit hang van jóú af hoe suksesvol hulle gaan wees.

Soms vereis dit net die bevestiging dat jy ʼn reg het om hier te wees, dat jy trots mag wees op die goeie aspekte van jou kultuur. Ons reg om te bestaan, is nie meer belangrik is as iemand anders s’n nie, maar definitief ook nie minder belangrik nie.

Dus, om my oorspronklike vraag te beantwoord, is eenvoudig. Dis nie net ʼn taal wat ek wil sien voortleef nie, maar ook die kultuur en goeie waardes wat daarmee gepaardgaan. Afrikaans bly aan die lewe in en deur dié wat dit praat, dus laat ons voortgaan en ons taal se oorlewing verseker.

  • Ryno Bornman het grootgeword, skool- en kerkgegaan in Potchefstroom, en is tans besig met sy tweede jaar van studie aan die Universiteit van Pretoria.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Althes ·

Toe ek jonger was, was Afrikaans ook nie ñ prioriteit nie, totdat mens ouer en wyser word.

Ryno ·

Lees opskrif:
Hoekom moet ek weerstand bied teen die groeiende anti-Afrikaanse sentiment?

Dit is die vraag waarvan gepraat word in die slot paragraaf

Rose ·

Die Anc en sy flanke wil alles wat met die wit Afrikaners te doen het tot stof trap want as ons kultuur, ekonomie en geskiedenis uitgewis word, het ons nie n toekoms nie.

Cherokee ·

Net een korreksie: Het Rembrandt van Rijn nie sigarette gemaak nie? Of onthou ek verkeerd?

Willem Wikkelspies ·

@Ryno dankie mater! Dit is mense soos jy wat sal verseker dat ons taal en ons kultuur, ons Afrikaans menswees bly voortleef! Dankie vir hierdie artikel! Jy maak my trots om Afrikaner te wees en ja, dit is meer as net ‘n taal! Dit is ‘n waardestelsel, dit is my nasie, my volk!

Psyggie ·

Dit doen my 72 jarige hart so goed om sulke menings uit ons jongmense se harte te lees.
Ek wil my verstout en ook se dat die skryf van ons pragtige taal, in suiwer Afrikaans, net so belangrik is as om dit te praat . Verskoon die e sonder kappie)
Ryno, doe so voort.

Tienie ·

As jy n foon oproep kry en daar word met jou Engels gepraat en jy dring nie aan op Afrikaans nie, is jy skuldig.

As jy iewers n paar Rand gaan spandeer en daar word met jou Engels gepraat en jy dring nie aan op Afrikaans nie, is jy weer skuldig.

Ek praat slegs my skewe Engels met mense wat ek n baie sterk vermoede het dat hulle nie Afrikaans kan verstaan nie.

As hulle Afrikaans verstaan maar nie kan praat nie sal ek dit nog aanvaar as hulle my in Engels antwoord.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.