#JongStemme: Sport is ‘n basiese mensereg

Deur Edané Combrinck

Edané Combrinck.

Vandat Pappa die dag gehoor het dat hy ‘n seuntjie gaan kry, het hy al Springbok Rugby-drome vir die jong man gedroom. Sport was ‘n deel van die klein bulletjie se lewe nog voordat hy sy eerste asemteug gevat het, soos dit enige Suid-Afrikaanse kind betaam. Sport het ‘n onvervangbare deel van kinders se ontwikkeling geword, en moet dus beskou word as ‘n basiese mensereg, eerder as ‘n luuksheid.

In die jaar 2020 is die wêreld tot stilstand geruk. Skole is gesluit. Kerkdienste is aanlyn gehou. Sport is gekanselleer vir die groter deel van die jaar. Dit is juis hier waar ons besef het hoe ‘n groot rol sport in die daaglikse lewe van veral ons kinders speel.

Die grendeltydperk van 2020 het depressie in kinders aangewakker. Hoekom? Doodeenvoudig omdat kinders nie meer buite kon kom en aktief raak nie. Natuurlik speel die sosiale aspek van sport ook ’n rol in ons kinders se emosionele toestand. Selfone en rekenaars kan sosiale interaksie ook net tot op ‘n punt vervang.

In die jaar 2020 het ons ‘n skerp styging in die aantal kinderselfdoodgevalle gesien. Sport, onder meer, gee kinders die geleentheid om uiting te gee aan emosies wat andersins moeilik verwerk kan word. Dit gee kinders ook die geleentheid om vir ‘n kort tydperk te ontsnap van die realiteit van akademiese druk en te ontspan.

Die sosiale impak van die gebrek aan sport is nie net beperk tot kinders nie. Gesinne het ook die impak van die gebrek aan sport gevoel omdat kosbare gesinstyd en byeenkomste saam met ander gesinne met dieselfde belangstellings, in die slag gebly het. Ouers word in die proses ook ontneem om hul kinders op dié manier te ondersteun.

Buiten die emosionele impak wat die gebrek aan sport in 2020 gehad het, is daar ook talle kinders wat die vermoë om sport te beoefen, afgeleer het te wyte aan ‘n jaar van sit en eet. Kinders het onfiks, ongemotiveerd en oorgewig geraak in die jaar 2020 omdat daar geen vooruitsig van sportgeleenthede was nie. Hoe gaan ons kinders weer fiks genoeg raak om nie net te kan deelneem nie, maar ook hul sport werklik te geniet?

Ons het tydens die pandemie besef dat sport nie net as vermaak beskou kan word nie. Sport is belangrik vir groei in elke faset van ons kinders se lewens om te verseker dat hulle in gebalanseerde volwassenes ontwikkel. Om balans tussen akademie en sport te handhaaf in 2021, gaan ‘n vaardigheid wees wat kinders van voor af sal moet aanleer.

Die jaar 2020 was een van inperkings, afsondering, verandering en onvervangbare lewenslesse. Pappa, hou vas aan jou bulletjie se rugbydrome. Stop sy eerste rugbybal in sy hand kort ná geboorte, want in 2020 het ons geleer dat sport nie net ’n buitemuurse aktiwiteit is nie, maar eerder as ‘n basiese mensereg beskou moet word.

  • Edané is ’n onderwyser aan die Hoërskool Jeugland. Sy geniet dit om in haar vrye tyd te skryf en is tans betrokke by Noord-Gauteng se binnenshuise hokkie.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andrew ·

Nou daar gaan ek verskil. Sport is vir ontspanning en in elk geval van korte duur. Alhoewel n punt of twee gemaak word is dit moelik om selfmoord direk aan sport deelname, of geen deelname in die geval, te koppel. Hoe beinvloed geen sport kinders wat tuis ondderig word of in skole is wat nie sport aanbied nie? Onder vlak 3 word fietsry, draf en stap toegelaat so daar is maniere rondom fiksheid. Ek is nie so seker oor skole sport vehemeling nie, is dit pappa of bulletjie se rugby drome? Maar ek is nie n reg kenner nie dalk kan iemand wat meer weet lig werp op die punt van “skole sport as n basiese mensereg”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.