#JongStemme: Staan vir iets, of val vir alles

Deur Gerhard Maré

Gerhard Maré.

Ek is ’n Suid-Afrikaner. Ek is Afrikaans. Ek is ’n man. En nee, ek is nie jammer oor een van voorgenoemde nie. In dié volgorde lê die grein van my bestaan: Die erns van my omgee val van links na regs in die vlakke van my etnisiteit.

In ’n tyd van beskuldiging en vinger wys, staan ek en my medebroers in die spervuur. Ons lewe in ’n tyd waar dit verkeerd is om ’n man te wees, verkeerd is om trots te wees op jou taal en verkeerd is om wit te wees. Gesegdes soos: “Wees ’n man” en “Staan jou man” word afgeskiet en teengestaan in ons “brose” samelewing omdat dit as onsensitief en onderdrukkend beskou word.

So waar staan ons nou? In die middel van twee teenoorgestelde ideologieë. Die een skreeu beledigings: Rassis! Seksis! Onderdrukker! Skaam jou, val op jou knieë en bely hierdie verkeerde perspektiewe!

Die ander een troos weer: Wys jou gevoelens. Huil maar, al is jy ’n man (maar net nie te veel nie). Die interessantste feit van die saak is dat die twee benaderings meer as net dikwels vanuit dieselfde mond kom. Daar is ’n slang in die gras, maar wie gaan hom vang? Waar is al die regte mans nou heen? ’n Huilende man gaan mos nie op ’n slang se kop trap nie…

Die dae van houtkap, jou baard laat groei, rugby en vasbyt is vir die voëls. “Tradisionele” manlike eienskappe en “tradisionele” familieleefwyse word een ná die ander verwaarloos en op getrap in die konglomerasie van dubbele standaarde. Jong seuns (soos ek) word grootgemaak met ’n skooltas en ’n skuldlas van die hele wêreld se probleme. Gooi dit af! Mans was lank genoeg die slaansakke vir die ontlaai van blaam en woede vir wêreldprobleme wat eintlik meer komplekse wortels het as geslag!

’n Alomteenwoordige neiging wêreldwyd poog om biologiese verskille te elimineer en ʼn universele benadering te volg. Die onvermydelike realiteit is dat ons almal nie gelyk en dieselfde is nie en ook nooit kan wees nie. Net soos in die diereryk, waarvan ons prehistories deel vorm, is almal met verskillende vermoëns en gedrag geskape. Mans teenoor mans, mans teenoor vroue, vroue teenoor mans, en vroue teenoor mekaar. Ons is onderworpe aan oeroue stelsels van natuurlike seleksie en bevoegdheidshiërargieë, of ons daarvan hou of nie – dit is in ons natuur. Leeus bly die jagters en bokke die prooi. Om hierdie stelsels te wil beveg, is ’n norm vir soveel beweegredes in die moderne era. Die ekstremistiese feminis beveel parmantig: “Ek kan alles doen wat jy kan… en nog meer!” Of, kamstig te nagekom: “Hoekom? Omdat ek ’n vrou is?” toe ek aanbied om haar tas te dra. Net so ook vir rassekwessies kom die veralgemening gereeld na vore, soos: “Hoekom, omdat ek swart is?”

In my blootgestelde en kwesbare generasie is dit nie ongehoord vir tieners om uitermatig ontvanklik te wees vir ideologiese sienings nie. Wêreldberoemde kunstenaars, sportsterre en akteurs produseer video’s in hul kapitalistiese sitkamers oor hoe hulle te na gekom en onderdruk is deur die teenoorgestelde ras of geslag wat, volgens my mening, omstrede is. Die slagofferkaart word weer en weer op die tafel gegooi en word desnieteenstaande aanvaar deur ’n beïnvloedbare tiener of student. Siya Kolisi kniel met ’n gebalde vuis in die lug teen ongelyke geleenthede en onderdrukking van swartmense in ’n land waar nasionale sportspanne onderworpe is aan 50% rassekwotas wat uitsluitlik ’n sekere gedeelte van die bevolking bevoordeel.

In ’n land waar klein besighede nie deur die regering tydens inperking ondersteun was nie, is hierdie oneffektiewe en omstrede benadering ekonomies nie vatbaar nie, bloot omdat hulle nie voldoen aan swart ekonomiese bemagtiging (SEB)-vereistes nie.

Wie is die onderdrukte hier? Siya? Hy wat met ’n skoolbeurs, geborgde rugbystewels en ’n kwotastelsel in sy guns die hoogste louere behaal het? Of die 19-jarige seun met ’n droom, wat nie vir sy land mag rugby speel nie omdat hy aan die verkeerde Suid-Afrikaanse etniese groep behoort? Ek maak my stelling nie as aanvallende nie. Siya se geval is net ’n vanselfsprekende voorbeeld.

Ons is mans. Ons is vroue. Ons is, onder meer, Zoeloes, Vendas, Pedi’s, Afrikaners en ander etniese groepe. Ons is die liriek in Danie Niehaus se liedjie “Vir wat?”.

Wanneer begin ons hierdie etniese verskille omhels, in plaas daarvan om die verskille tussen ons as beledigings en verkeerde veralgemenings te sien? Ons blameer mekaar vir ons voorvaders se foute en die verkeerde generasie is die produk van hierdie foute. Dit is tyd dat ons verantwoordelikheid neem – eerstens vir onsself – voordat ons ander blameer vir probleme wat aktueel aan ons omstandighede is.

Ons staan op ’n fondament van oorlog, bloed, sweet en trane. Dit is ons plig om voort te bou op die diverse nasie wat ons is en in ons diversiteit verenig.

Staan jou man, tel jou ken op en sing jou volkslied, doen dit vir Suid-Afrika!

  • Gerhard Maré is van die Hoërskool Pietersburg in die platteland van Limpopo. Hy het ʼn groot liefde vir sy kultuur en gaan volgende jaar aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

OW ·

Uitstekende skrywe.Ons leef vandag in ‘n wêreld waar die leuen as die waarheid beskou word.Sterkte met jou studies, waar jou moedertaal ook afgeskaf is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.