#JongStemme: Staat teenoor volkstaat

Deur Maree van den Berg

Maree van den Berg.

“As jy iets gedoen wil hê, doen dit self.” Ons almal het al telkemale hierdie woorde gehoor en die meeste van ons Afrikaners kan met hierdie stelling vereenselwig. Hierdie stelling is veral handig as daar na staatsdienste verwys word.

Baie Suid-Afrikaners trek egter hul neuse op met die noem van die naam Orania, die dorp aan die buitewyke van die Noord-Kaap wat die oewer van die magtige Oranjerivier versier waar daar kliphard gebou en gewerk word. Die tuiste van selfwerksaamheid; die Afrikaner se eie plek … die volkstaat.

Baie sê dat die Orania-idee nooit sal werk nie. Dit raak tog gou baie duidelik (na ʼn besoek aan Orania) dat Orania baie dinge is, maar wanfunksioneel is beslis nie een daarvan nie. Die staat, aan die ander kant …

Orania, die volkstaat, is in verskeie opsigte baie anders as die staat; ons sogenaamde landsleiers.

Een van die dinge wat die staat gereeld doen, is krisisbestuur toepas rondom krisisse wat hulle vir hulself geskep het. Die regering is só toegewyd om mislukkende strukture – wat hulle sélf in plek gestel het – ten alle koste te behou, dat hulle die mees basiese en mees logiese oplossings opsyskuif omdat hulle te hardkoppig is om te erken dat hulle strukture en stelsels wanfunksioneel is.

Die staat herinner my aan ʼn baie onervare tuinier wat ʼn reuseboom, wat hy vir 27 jaar lank al laat skeef groei, orent probeer kry deur slegs die uitskiettakkies te snoei. Hy maak nie die hele boom reg deur die wortels reg te posisioneer (soos dit hoort) nie.

ʼn Voorbeeld hiervan is die nuwe strafpuntstelsel wat die staat vir voertuigbestuurders wil instel: in plaas daarvan dat die staat die lisensiekantore se funksionaliteit en effektiwiteit verbeter en korrupsie onder verkeerspolisie uitwis (die wortels van die kwaad!), wil hulle eerder daardie uiters problematiese aspekte in plek hou, en eerder krisisbestuur toepas deur bestuurders wat verkeersoortredings begaan, te beboet – boetes wat waarskynlik weer direk in die verkeersbeampte se gatsak gaan beland.

Die volkstaat, aan die ander kant, het van die heel begin af die saadjie reg uitgesoek, die ligging deeglik oorweeg, die saadjie diep geplant, behoorlik gevoed en daardie saadjie tot ʼn enorme, fynbeplande, funksionele boom laat groei wat oor honderde hektaar strek.

Die staat werk in verskillende rigtings en veroorsaak gevolglik dat Afrikaners ook in verskillende rigtings werk. Dit is nie noodwendig ʼn geheim dat die staat se “prestasies” nie juis vuurwerke afgee nie (tensy die parlement tydens die staatsrede tel …), maar ek wil jou, die leser, laat sien wat ʼn klomp toegewyde Afrikaners kan vermag wanneer hulle wél in dieselfde rigting werk.

Deur die staat met die volkstaat te vergelyk, skets jy vir jouself ʼn ongelooflike verbeeldingsprent wat presies verduidelik waartoe die Afrikaner in staat is. Die staat het 27 jaar gelede ʼn Eerstewêreldland op ʼn goue skinkbord ontvang, en ʼn vullishoop daarvan gemaak. Daarteenoor het die Afrikaner ongeveer 31 jaar gelede ʼn klein stukkie grond gekoop, en daarvan ʼn groeiende volkstuiste gemaak.

Opsommend dink ek dat die grootste verskil tussen die staat en die volkstaat hul fondasie is. Van kleins af word ons geleer dat die boompie gebuig moet word terwyl dit nog jonk is; nie eers wanneer hy 27 jaar oud is nie!

Ek is van mening dat die Afrikaner op ʼn absolute ander vlak is. My doel met hierdie meningstuk is om vir Afrikaners regoor Suid-Afrika ʼn ander, ingeligte mening oor Orania te bied en om my jongmensperspektief bekend te maak oor die staat teenoor die volkstaat.

Ek as jong, neutrale Afrikaner glo vas, uit my eie ervarings en gevolgtrekkings, dat Orania die heel beste langtermynoplossing vir die Afrikaner is. Ek glo dat die opoffering wat dit gaan verg – eie arbeid vir ons eie volk om ʼn tuiste vir die Afrikaner self te bou – absoluut die moeite werd is, want die staat gaan dit beslis nie vir ons doen nie. Ek glo dat elke Afrikaner Orania in al sy glorie moet ervaar, en sy diep, geankerde wortels (wat elke dag eksponensieel in daardie Karoolandskap groei) moet raaksien.

  • Maree van den Berg is ʼn eerstejaar- BSc-student aan die Universiteit van Pretoria en is passievol oor die Afrikaner en sy kultuur.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

OW ·

Daar is besig om ‘n baken opgerig te word wat geen gelyke gaan ken in SA nie.Daar gaan iets van elk wees oa plaas ook soos Rian beweer.

Nico ·

Teken in op die Orania nuusbrief om behoorlik ingelig tewees oor die groei en gebeurlikhede van Orania. Orania is n stad in wording.

Wiehan ·

Rian, klim in jou motor en gaan kyk wat daar aangaan. Jy gaan ver moet soek vir “Orania die plaas”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.