#JongStemme: Stille stryders

Deur Juan-Pierre Rootman

Juan-Pierre Rootman.

Niemand sou ooit kon dink dat daar ’n supervirus soos Covid-19 die wêreld op sy knieë sou dwing nie. Maar dis tyd om die “nuwe normaal” in die oë te kyk…

Die matrieks van 2020 het uitgesien na hierdie groot, opwindende gedeelte van hul skoolloopbaan. Maar nou blyk die toekoms bleek en vaag vorentoe te wees. Gevoelens soos wanhoop, moedeloosheid, en selfs depressie dreig om my te oorweldig.

Geen matriekafskeid?! Meisies (en kom ons erken ook, seuns) sien hul hele skoolloopbaan uit na hierdie hoogtepunt! Geen foto’s om ons aan die spesiale geleentheid te herinner nie, net ’n storie aan ons kinders oor waarom ons nie een kon hê nie.

Wat gaan ons maak, wat gaan van ons word? En wat maak ’n mens as jy nie eens vir jou maats ’n helpende hand kan gee as hulle struikel nie?

My voorneme vir my matriekjaar sou gewees het om vyf onderskeidings te behaal. Maar vanaf die eerste dag van inperking, voel ek… huiwerig. Ek het elke dag wanneer ek alleen in my kamer was, net oor die toekoms gedink. Vrae waaroor ek die heeltyd aan gedink het, was: “Waarom nou?” en “Hoekom?”

Daardie vrae kan net God beantwoord! Elke struikelblok wat die wêreld nog ooit moes oorkom het, was ’n boodskap. Hiérdie is inderdaad ’n boodskap van God om reg te maak vir ’n groot aanpassing. Hoe ons daarop reageer, is egter ons eie keuse.

Met daardie insig, kan ek met hoop sê om saam met ander “stryders” te wees teen die onsigbare vyand. Ons is in die voorste linies om te stry –  ook teen negatiewe gevoelens

Aan al my medematrikulante sowel as enigiemand wat na my wil luister: moet nie jul koppe of knieë in nederlaag laat sak nie, want ons is nie gemaak om neer te sak nie, maar om na bo te kyk en te juig!

Voorwaarts, stryders! Ons sal met God se hulp ook hierdie onsigbare stryd oorwin!

  • Juan-Pierre Rootman is ʼn matriekleerling aan die Hoërskool Middelburg.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae