#JongStemme: Studente weer vry na Covid-19-inent-beleid

Michelle Hammann

Michelle Hammann het dié opvolgstuk geskryf in reaksie op haar vorige skrywe #JongStemme: Verpligte inentings is teen almal se menseregte.

Na ʼn jaar van bloed en sweet om te veg vir ons studente se menseregte, is ons uiteindelik weer vry.

Aan die begin van verlede jaar het die Noordwes-Universiteit (NWU) ʼn beleid ingestel wat ons as studente gedwing het om teen Covid-19 ingeënt te word. Ons kon kies om aansoek vir vrystelling te doen, maar sou steeds met vrystelling ingeperk word van studentelewe en toegang tot klasse.

Ek het hierdie nie aanvaar nie en wou net my menseregte, veral om te kan kies, uitleef. Ek het dus ʼn petisie teen die NWU se beleid begin, wat meer as 3 000 handtekeninge gekry het, en ek het ʼn optog met die gesegde “I am free” gehou in samewerking met ander gedrewe studente en organisasies. Ek is baie dankbaar vir almal wat hierdie veldtog ondersteun het, want deur ons almal wat saamgestaan het, het ons uiteindelik weer ʼn normale studentelewe.

Die NWU het finaal sy inentingsbeleid aangepas en dit bepaal nou dat niemand meer aansoek hoef te doen vir vrystelling van die inenting teen Covid-19 nie. As deel van hulle nie-verpligte-inentingsbeleid gaan niemand dus beperk word van studentelewe of enige klasse nie.

Uiteindelik kon ons almal aanbeweeg en nie meer bekommerd wees oor of ons kan aangaan met ons studies sonder om ons waardes te verruil nie.

Ek wens dit was nooit nodig vir my om sulke drastiese stappe te neem om net eenvoudig my menseregte en waardes te kan behou nie, maar ek het baie uit die hele proses geleer. Ek het bande met mense gebou wat ek andersins glad nie sou ken nie en die geleentheid gehad om saam met verskeie organisasies en maatskappye te werk. Ons het teenstand ervaar, maar ek was en sal nooit bang wees om op te staan vir dit waarin ek glo nie.

Hierdie ervaring is iets wat my help groei het as mens en dit het reeds vir my deure vorentoe oopgemaak. Dit maak my hart so bly wanneer ek nou nog met studente praat wat so dankbaar is dat hulle by die universiteit van hul keuse kan studeer sonder enige inperkings.

Ek hoop dat ons almal vanjaar van die begin af die studentelewe ten volle kan geniet.

  • Michelle Hammann is ʼn BA Kommunikasie-student aan die NWU.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elma ·

Well done meisiekind! My dogter is baie dankbaar vir mense soos jy.

Christelle ·

Wel gedaan. Jong mense soos jy, maak my trots en gee my hoop, dat ons waardes en integriteit nie helemal verdwyn nie.
Mag jy n wonderlike jaar he wat voorle vir jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.