#JongStemme: StudentePlein gaan Afrikaanse slimkampus bou

Deur Tian Alberts

Tian Alberts.

In sy boek The Sovereign Individual: Mastering the Transition to the Information Age, skryf James Dale Davidson op die vooraand van die jaar 2000 dat dit nie politieke meerderhede sal wees nie, maar eerder markte wat samelewings in die inligtingsera op ’n wyse sal saamstel wat die wyer publiek nóg sal verstaan nóg sal verwelkom. Met ander woorde, die wil van politieke meerderhede wie se mag spruit uit die oënskynlike legitimiteit wat aan die idee van demografiese meerderheid kleef, sal nie sonder meer op die res afgedwing kan word nie; ten minste nie waar beter oplossings in die kuberruimte gerealiseer word nie.

Hierdie vooruitsig is belangrik in Suid-Afrika waar die idee dat die meerderheid altyd moet regeer, té dikwels tot die normalisering van lae standaarde lei, byvoorbeeld dat daar slegs een taal moet wees of slegs een kulturele regime wat ten alle koste nie die meerderheid moet uitsluit nie. Die laasgenoemde idee kristalliseer selfs in ’n globale konteks, waarin Engels as globale meerderheidstaal en lingua franca as ’n gepaste plaasvervanger vir globale minderheidstale soos Duits, Frans, Zulu, Xhosa, Afrikaans en selfs Maori aanvaar word.

Geen-grootte-pas-almal

Dit was dalk tot onlangs nog die geval dat onderworpenes (soos individue, kulturele groeperings en taalgemeenskappe) goedsmoeds die inwerkingstelling van ’n een-grootte-pas-almal-oplossing deur ’n politieke meerderheidsbewind moet aanvaar. Met die aanbreek van die inligtingsera waaroor Davidson skryf, is “sterkte in getalle” egter allermins die belangrikste kriterium wat bevredig moet word voordat die grense kan verskuif.

Maatskappye en individue in beide Venezuela en Zimbabwe het, te midde van hiperinflasie, parallelle ekonomieë in hierdie lande tot stand gebring wat relatief onaangeraak bly deur die mislukkings wat die regerings van dag tot dag teweegbring. Het hierdie regerings die keuse gehad om ’n stokkie voor hierdie parallelle instellings te steek? Gelukkig nie. Die inligtingsera maak voorsiening vir die totstandkoming van gemeenskappe en hul kritieke funksies, hoofsaaklik in die kuberruimte en grootliks verskans teen die dreigende moontlikheid van staatsinmenging.

Afrikaans en die inligtingsera

Nou wonder jy: Wat het al hierdie verskynsels met taal en Afrikaans te doen? Veel meer as wat op die oog af blyk. Kom ons begin by die digitalisering van leeromgewings – ’n verskynsel waarmee studente en skoliere wêreldwyd tydens inperkings in die Covid-19-tydperk kennis gemaak het. Skielik vind kennisoordrag nie meer in fisieke ruimtes plaas nie, maar eerder aanlyn. Selfs eksamens en mondelinge word aanlyn afgelê. Die ontstaan van die digitale kampus word egter steeds aan ’n sentrale owerheid gekoppel wat besluite neem oor sowel die manier waarop digitale inhoud oorgedra en verwerk word, as in watter taal dit oorgedra word.

StudentePlein neem die verskynsel van ’n digitale kampus ’n stappie verder. Ons bou ’n slimkampus.

Proaktiewe innovasie

In reaksie op tradisionele universiteite se afskaffing van Afrikaans – die enigste inheemse taal in Suid-Afrika met ’n status as wetenskapstaal – gaan ons dit vir die Afrikaanse student moontlik maak om in Afrikaans te studeer, ongeag die bereidwilligheid van laasgenoemdes om Afrikaans tot aanvaarbare mate as taalopsie te akkommodeer.

Die totstandkoming van StudentePlein verteenwoordig egter veel meer as bloot ’n reaksie op die verwaarlosing van Afrikaans en moedertaalonderrig in die algemeen. Dit is proaktief om enige taal met die tegnologiese eise van die inligtingsera te versoen. Dit is innoverend en ongekend om die moontlikhede van die inligtingsera aan te wend om ’n inheemse taal se status as tersiêre akademiese taal te verseker.

Ons hoop dat ander taalgemeenskappe saam met ons sal staan. StudentePlein se model is vatbaar vir implementering deur enige taalgemeenskap en kan met die oog op ’n veeltalige Suid-Afrika universeel nagevolg word. Met ander woorde, geen sentrale owerheid besluit watter tale bevorder word en watter nie.

Hoe gaan StudentePlein se slimkampus lyk?

StudentePlein se slimkampus gebruik moderne tegnologiese oplossings om op ’n koste-effektiewe en gedesentraliseerde wyse Afrikaanse studente en akademici binne bestaande akademiese omgewings in ’n bepaalde kubergemeenskap bymekaar te trek en aansporings in werking te stel ten einde die mees optimale verspreiding van Afrikaanse akademiese hulpbronne te verseker.

Studente aan die Universiteit Stellenbosch sal, byvoorbeeld, Afrikaanse akademiese hulpbronne onder mekaar kan deel en fisieke byeenkomste na gelang van voorkeur kan reël. Aansporings sal topstudente aanmoedig om e-klasse voor eksamens aan te bied, bestaande akademiese hulpbronne te verbeter en selfs nuwe hulpbronne te skep of in Afrikaans te vertaal. Sodoende skep ons ’n dinamiese markplek vir die verspreiding van Afrikaanse akademiese hulpbronne en kennis, gekarteer op ’n bestaande universiteitskampus soos Stellenbosch.

Met verdere iterasies sal maatskappye – werkgewers – by die StudentePlein-netwerk kan inskakel om aanstellings vanuit die geledere van ons slimgemeenskappe te maak. Ons stel in die vooruitsig dat elke lid vrymoedige toegang tot akademiese hulpbronne, sosiale geleenthede en eksterne beroepsgeleenthede sal hê. Aangesien sosiale interaksie in fisieke ruimtes ook belangrik is, sal talle sosiale geleenthede geskied. Lidmaatskap is gratis.

StudentePlein se verhouding met bestaande universiteite en organisasies

As ’n niewinsgewende organisasie, is StudentePlein nie geaffilieer met enige universiteit of organisasie nie. Ons geniet finansiële steun van persone wat by ons visie aanklank vind en ons glo dat hierdie steun in die toekoms skerp sal toeneem na gelang van ons uitbreidingskapasiteit. Ons werk graag saam met universiteite asook ander taalorganisasies- en gemeenskappe wat ons model wil benut of daarby wil inskakel. Ons infrastruktuur sal uiteindelik tot die publiek se beskikking wees.

Sal universiteite ’n stokkie voor ons planne kan steek? Gelukkig nie. ’n Gedesentraliseerde slimkampus wat sy bestaan aan rekenaars in die kuberruimte te danke het, kan nie “afgeskakel” of “geblok” word nie. Dit sal in elk geval vreemd (en veelseggend) wees indien enige universiteit daarin sou belangstel om die bevordering van taaldiversiteit te kniehalter. Ons verwag egter teenkanting van instellings wat onder die vaandel van “inklusiwiteit” daarop ingestel is om die Engelstalige hegemonie te beskerm en koloniale opvattings van sukses in ’n gestandaardiseerde, Engelstalige wêreld te verskans.

Die taal van handel en geleenthede in die inligtingsera sal beslis nie Engels of selfs Mandaryns wees nie. Diegene wat die meganika waarop die naderende inligtingsrevolusie aangedrewe is, ten beste verstaan en aanwend, sal die oorwinnaars van die dag wees.

StudentePlein vergestalt ’n moderne poging om die kulturele- en ontwikkelingsbelang in Afrikaans as moedertaal te vervleg met die belang daarin om by die inligtingsera aan te pas. Ons gebruik ontluikende tegnologiese oplossings om Afrikaans as taal van onderrig te bevorder met die oog daarop dat ander taalgemeenskappe dieselfde kan doen. Diegene wat slegs vasklou aan tradisionele kennisoordrag en veral die idee dat toekomsgeleenthede hulself in een taal – Engels – sal voordoen, gaan ver agter raak. Diegene wat egter tred hou met die wegbeweeg van die standaardisering van die wêreld van werk en kennis, wat reeds onderweg is aan die hand van tegnologiese verskuiwings, sal as die oorwinnaars van die dag wegstap.

Skoliere wat beoog om te gaan studeer en daarin belangstel om die toekoms saam met StudentePlein aan te pak, kan nou by www.studenteplein.co.za/skoliere registreer.

  • Tian Alberts is ’n medestigterslid van StudentePlein.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mad Mike die Rhodesiër ·

Dis hoogtyd dat onderwys digitaal gaan. Die virus het net die begin daarvan verhaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.