#JongStemme: Taal is die suurstof wat ’n kultuur aan die lewe hou

Deur Ruan Goosen

Ruan Goosen.

Dit het my nog altyd gefassineer hoe mense die belangrikste aspekte van die lewe as vanselfsprekend aanvaar. Kyk byvoorbeeld na suurstof. Dit is ’n kosbare kommoditeit waarsonder geen mens kan klaarkom nie, tog gaan daar soms maande verby sonder dat ons eers vir een oomblik sit en dink hoe waardevol suurstof werklik is. Ek sien hoe hierdie tendens rondom taal uitspeel.

Taal is ’n middel wat ons op ’n daaglikse basis gebruik. Dit stel ons in staat om ons gevoelens en denke in die wêreld te manifesteer. As ons dit nie praat nie, dan lees ons dit. As ons dit nie lees nie, dan luister ons dit. En as ons dit nie luister nie, dan dink ons dit. Sonder taal sou ons nie met ons geliefdes kon kommunikeer nie, ons sou nie ons planne kon koördineer om geboue en infrastruktuur te bou nie, en ons sou nie liedjies of gedigte of boeke kon skryf nie.

Hoewel taal ’n kommunikasiemiddel is, is dit ook die drywer van kultuur. Kulturele diversiteit kan nie in ’n stelsel voorkom waar ’n homogene taal heers nie. Kyk byvoorbeeld na die Patagoniese Afrikaners wat gedurende die Tweede Vryheidsoorlog na Argentinië verhuis het. Elke nuwe generasie het minder waarde aan Afrikaans geheg teenoor die vorige een, en die jongste generasie kan nie meer ’n woord Afrikaans praat nie. Buiten die boeresportbyeenkoms wat ’n handjievol families jaarliks vier, blyk dit of die Afrikanerkultuur op die suidelike punt van Suid-Amerika geheel en al aan’t uitsterf is.

Dieselfde het met die Franse Hugenote in die 17de eeu gebeur: Daar is ’n rede hoekom Flip Buys (Franse spelling Du Buis) nie vandag Frans praat nie, naamlik dat sy voorvaders met die dominante Hollandse kultuur van daardie tyd geassimileer het. Natuurlik het ’n paar elemente van die Franse kultuur in die Afrikanerkultuur behoue gebly, maar die unieke kulturele identiteit van “Die Franse Hugenoot” het uitgesterf. ’n Mens kan dus nie oor kulturele vooruitgang of volhoubaarheid praat sonder om klem op die belangrikheid van taal te lê nie.

Metafories gesproke is taal die “suurstof” wat ’n kultuur aan die lewe hou, want ons besef eers hoe waardevol taal werklik is wanneer ons daarvan ontneem word. Tog is daar vandag ’n groep Afrikanerouers wat doelbewus hul kinders van hul “suurstof” wil ontneem deur aan te dring dat “die toekoms nie Afrikaans is nie”. Ons het al almal die argumente gehoor: “Ek plaas my kinders in ’n Engelse skool, want die wêreldtaal is Engels”. “Ons maak ons kinders in Engels groot sodat hulle eendag in die besigheidswêreld kan floreer”. “Indien ons kinders eendag gaan immigreer, moet hulle goeie Engels kan praat”.

Hierdie soort denke het algemeen aanvaarbaar geword in die kontemporêre Afrikanerkultuur en baie mense beskou dit as “die rasionele ding om te doen”. Maar van wanneer af is kulturele selfdood ’n rasionele uitweg? Indien ons almal net aanvaar dat Engels tans die heersende wêreldtaal is en ons ewe skielik besluit om Afrikaans met Engels te vervang, dan gaan ons kultuur dieselfde lot hê as dié van die Franse Hugenote en die Patagoniese Afrikaners.

Die enigste rede waarom die bogenoemde redenasie as “rasioneel” beskou kan word, is wanneer ’n mens aanvaar dat kulturele diversiteit en volhoubaarheid nie belangrik is nie. Dit is dieselfde soort denkwyse wat die Britse kolonialiste gehad het toe hulle lande soos Indië en die Boererepublieke gekoloniseer het. Hulle het geredeneer dat Brittanje die mees gesofistikeerde nasie op aarde is, en die lande wat hulle oorgeneem het, was barbaars of “untermenschlich” (minderwaardig). Die Britte het die intrinsieke korrelasie tussen kultuur en taal baie goed verstaan, en daarom het hulle altyd eers die inheemse tale met Engels probeer vervang om sodoende makliker beheer oor hul kolonies uit te oefen.

Hierdie koloniale denkwyse is steeds vandag teenwoordig, maar dit het die vorm van “globalisme” aangeneem. Globalisme bevat al die elemente van kolonialisme en het selfs dieselfde talige voorkeur, naamlik Engels. In stede van “Britse identiteit” is daar pogings om die “Globale identiteit” op ander kulture af te dwing.

Jy moet jouself dus afvra: Wil jy jou kinders Engels grootmaak en sodoende hulle met die waardes en identiteit van ’n kunsmatige wêreldkultuur inskerp? Of wil jy jou kinders in Afrikaans grootmaak en verseker dat hulle met die waardes, norme en kulturele identiteit ingeskerp word wat jou voorouers gevorm het en oor talle millennia uitgeleef het?

Dit is tyd dat ons hierdie valse “Afrikaans of Engels” digotomie laat vaar, want geskiedenis leer ons dat mense meertalig kan wees sonder om hul etniese taal af te skeep. Jou kinders hoef nie na ’n Engelse skool te gaan om goeie Engels te kan praat nie. Inteendeel, verskeie studies het bewys dat meertalige individue beter kognitiewe vaardighede het teenoor diegene wat eentalig is.

Daarbenewens het talle studies al bewys dat leerders begrippe beter verstaan indien hulle in hul moedertaal onderrig ontvang. Jou kinders kán in Afrikaans studeer, want daar is steeds ’n groot aanvraag na Afrikaanssprekende werknemers in Suid-Afrika. En as jou kinders besluit om volgende jaar by die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer, maak seker hulle sluit aan by die StudentePlein (www.studenteplein.co.za), ’n moderne taalorganisasie wat vir Afrikaanse studente topgehalte akademiese, kulturele en sosiale bystand bied.

Die toekoms is in jou hande, dus, gaan jy kyk hoe ’n kultuur en ’n taal uitsterf, of gaan jy aan ’n beter toekoms vir jou erfenis bou?

  • Ruan Goosen is ’n MSC-student aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is een van die stigterslede van StudentePlein, en hy is baie passievol oor Afrikaans.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Janine

Uitstekend gestel!

Marius

Goed gestel Ruan. Solank daar jong Afrikaners soos jy is sal hul sukkel om ons ondergespit te kry. Soos onkruid sal ons net meer verwoed uitslaan al is dit op arm grond. Dankie vir die groot werk wat jy daar op US doen. Solank die kersie brand slaan die donker nie totaal toe nie. Blaas hoog die Afrikaanse vlam.