#JongStemme: Tradisies in skole, koshuise en universiteite

Deur Erasmus Esterhuizen

Erasmus Esterhuizen

Die HAT omskryf ʼn tradisie as die “oordra van geslag aan geslag, mondelings of in geskrif, van geestelike besittings en kultuurgoedere”. ʼn Mens kan seker redeneer dat ons is wie ons is as gevolg van hoe ons grootgemaak is, en dit is as gevolg van hoe ons ouers se ouers húlle grootgemaak het; alles natuurlik onderhewig aan die evolusie van ʼn moderne samelewing. Hierdie meningstuk gaan wel nie oor of jy in wit moet trou en of jou oumagrootjie se beskuitresep steeds ʼn familiegeheim moet wees of nie. Ek wil spesifiek in hierdie meningstuk op tradisies in skole, koshuise en universiteite fokus.

Ek is tans in ʼn baie tradisieryke koshuis aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Ek vra myself gereeld die vraag af: Hoekom het ons al hierdie tradisies (waarvan sekeres vir geen persoon met ʼn gesonde verstand sin maak nie)? Sekere van hierdie tradisies is nutteloos, maar dis oukei. Dis blerrie lekker om iets te doen wat vir geen persoon sin maak nie. Dit hoef nie altyd sin te maak of ʼn direkte doel te hê nie. Ek is van mening dat tradisies ʼn spesifieke omgewing identiteit moet gee, ʼn trots onder die belanghebbendes moet kweek en ʼn algemene samehorigheid vir elke individu bewerkstellig wat deel van daardie spesifieke omgewing vorm. Tradisies moet ook die skakel tussen die verlede, hede en toekoms wees. Wat ek hiermee bedoel, is dat dit lekker is om te weet jy is deel van iets groter as jouself. Daar was al mense wat daarvan deel was, en daar is nog mense wat daarvan deel gaan word. Dit skep ook ʼn geleentheid om verhoudings te vorm – ek is ʼn groot voorstander van “dit is nie wie jy is nie, maar wie jy ken”.

Hier volg ʼn paar toepaslike vrae oor tradisies:

Hoe word ʼn tradisie bepaal?

ʼn Tradisie word nie noodwendig bepaal nie, maar ontwikkel. Ek is van mening dat ʼn mens nie tradisies moet forseer nie. Dit moet natuurlik ontwikkel in iets wat oor ʼn tydperk strek. Vir my is dit lekker om deel te wees van iets wat vir my betekenis het, maar wat vir geen ander persoon buite die spesifieke omgewing betekenis het nie. Om ʼn tradisie ʼn tradisie te maak, moet dit ʼn naam kry en bemagtig word. Sodra dit bemagtig word, sal dit in ʼn volhoubare identiteit ontwikkel wat aan die spesifieke omgewing karakter gee.

Hoe word ʼn tradisie onderhou?

ʼn Tradisie word onderhou deur om, punt nommer een, dit te laat plaasvind. As die tradisie nie volgens die behoefte plaasvind nie, gaan die tradisie uitsterf. Dit moenie iets wees wat net oornag opgemaak is nie (dit kan seker ook gebeur, maar dit is net soveel meer moeite om dit volhoubaar te laat bly). ʼn Tradisie is soos ʼn bonsai-boom. Vir die boom om te groei, moet jy hom volgens die behoeftes van die spesifieke omgewing snoei, water gee en onderhou. As jy dit nie doen nie, sal die boom doodgaan.

Hoe streef ʼn tradisie vooruit?

ʼn Tradisie streef vooruit soos wat die belanghebbendes se behoeftes verander. Dit is belangrik dat ʼn tradisie nie die heeltyd moet verander nie, maar wel die belanghebbendes se behoeftes in ag neem. Daar is niks fout met verandering nie. Ek verstaan nie hoekom ons dit by uitstek so vrees nie. Ons móét tradisies vooruit laat streef, anders stagneer die omgewing. As ʼn omgewing presies dieselfde is as wat dit tien jaar gelede was, voel ek jammer vir daardie spesifieke omgewing, want dit beteken daar was geen groei en ontwikkeling nie.

Moet daar ʼn rede vir ʼn tradisie wees?

Nee. Ek voel nie dat daar noodwendig ʼn rede of motief moet wees nie, maar die tradisie moet wel volhoubaar wees.

Moet ʼn tradisie inklusief wees?

Ja! Tradisies moet daarna streef om almal wat belanghebbendes is te akkommodeer. ʼn Tradisie moet soos enige ding in Suid-Afrika aan die Grondwet onderhewig wees. Indien ʼn tradisie nie op die meerderheid van die belanghebbendes van toepassing is nie, misluk die tradisie en voel ek dat die tradisie ʼn negatiewe uitkoms op die omgewing sal hê.

Die kultuur en tradisies van ʼn spesifieke omgewing is wat daardie spesifieke omgewing identiteit gee. Dit maak dit anders as enige ander omgewing. Dit gee betekenis aan daardie belanghebbendes. Dit kweek trots en samehorigheid. As ons dit nie gehad het nie sou ons almal Squid Game-sweetpakke gedra het en nie die geleentheid gehad het om van iets groter deel te wees nie. Tradisies moet beskerm word. Dit moenie weggevat word nie, maar eerder gewysig word sodat dit toepaslik is en vooruit kan streef.

  • Erasmus Esterhuizen is ʼn HK-lid van Veritas manskoshuis aan die NWU in Potchefstroom.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.