#JongStemme: Twee kante van die meerderwaardigheidsmunt

Deur Wian Spies

Wian Spies.

Op 7 Maart 1900, gedurende die Britse aanmars na die Boere-hoofstede in die Anglo-Boereoorlog, het die Britte die Boere tydens die Poplar Grove-veldslag in die Oranje-Vrystaat verslaan. Die moedelose boere, onder bevel van generaal Christiaan de Wet, is gedurende die veldslag verslaan. Dit was kort ná generaal Piet Cronjé se oorgawe by Paardeberg.

Die Britse oorwinning by Poplar Grove het die weg gebaan vir die Britse besetting van Bloemfontein, ’n week later op 15 Maart 1900. In daardie tyd het Sir John Gilmour, die tweede baronet van Lundin en Montrave in Suid-Afrika aangekom om aan die Britse oorlogspoging teen die twee Boererepublieke deel te neem. In een van sy briewe wat hy daardie Desember huis toe geskryf het, het hy die volgende oor Afrikanervroue te sê gehad: “How I hate them, nasty, ugly, spiteful wretches, worse by far than the men, and no womanly ways at all.

Drie maande ná die besetting van Bloemfontein het die Britse aanvoerder, Lord Roberts, proklamasies uitgevaardig wat die weg gebaan het vir die verskroeideaardebeleid en konsentrasiekampe waar meer as 26 000 Boere-vroue en kinders omgekom het. Die onmenslike en meerderwaardige menings wat Britte uitgespreek het omtrent Afrikaners in die algemeen en Afrikanervroue in die besonder, het seer sekerlik ’n rol gespeel in die roekelose wyse waarop Britse owerhede sienderoë toegelaat het dat vroue en kinders in massas in die konsentrasiekampe omkom.

Honderd-een-en-twintig jaar ná die slag van Poplar Grove, op 7 Maart 2021 is die nou reeds oorbekende onderhoud tussen Meghan Markle, die voormalige hertogin van Sussex, en Oprah Winfrey gebeeldsend. Hierdie onderhoud het wêreldwyd geweldig baie opinies en debatte ontlok.

By sommiges was die gevoel dat die optrede van die Britse koningshuis teenoor Meghan, wie se ma ’n Afro-Amerikaner is, onregverdig en rassisties was. Die Black Lives Matter-beweging het ook toegetree, veral nadat Meghan genoem het dat sommige van die koninklikes glo bekommerd was oor hoe donker hul ongebore seun se vel sou wees.

Aan die ander kant het konserwatiewes die koningshuis oor die algemeen ondersteun. Vir dié groep het dit geblyk dat Meghan oor meeste van die inligting wat sy weergegee het, gejok het. Baie voel dat sy dit bloot kwytgeraak het om aandag te soek.

’n Konserwatiewe kommentator soos Ben Shapiro het geargumenteer dat dit belaglik is dat enige persoon in die nuwe era vrae sal vra oor hoe donker die ongebore kind se vel is. Hy het ook getwyfel oor Meghan se stellings oor haar emosionele welstand en gevoel van alleenheid. Hierop het hy gesê dat dit onmoontlik is dat die koningshuis nie oor privaat sielkundiges en beraders beskik nie.

Opsommend, is dit duidelik dat konserwatiewes oor die algemeen twyfel oor die geloofwaardigheid van Meghan se stellings.

In Suid-Afrika was daar uiteraard ook twee menings oor die saak. Uit swart geledere was die sentiment hoofsaaklik dat dit ’n rassevoorval tussen die koningshuis en Meghan was. Vir ander, veral uit konserwatiewe Afrikanergeledere, is die koningshuis weer sterk gesteun.

Die rede hiervoor is tegelyk eenvoudig en kompleks – hoogs waarskynlik weens die feit dat daar ’n element van vereenselwiging is omdat dit deesdae algemeen voorkom dat verskillende groepe mekaar vals beskuldig van rassisme.

Afrikaners is moeg daarvoor en daarom vereenselwig hulle hulself dikwels by verstek met die persoon of groep wat onregverdig as ’n rassis gebrandmerk word.

Aan die ander kant blyk dit ook uit die stukkie geskiedenis hierbo dat Afrikaners self ook al die slagoffers van Britse meerderwaardigheid was – die kwetsende brief van sir John Gilmour uit die Anglo-Boereoorlog is maar een voorbeeld daarvan. So gesien, kan Afrikaners tegelyk vereenselwig met die koningshuis in die beskuldigdebank as met Meghan, as ’n moontlike slagoffer van ’n kultuur van meerderwaardigheid.

Ons het albei kante van hierdie munt al aan eie lyf gevoel.

  • Wian Spies is ’n meestersgraadstudent in regte aan die Universiteit van Pretoria. Hy is ’n inwoner en primarius van die Sonop Christelike Tehuis.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.