#JongStemme: Val, opstaan en weer probeer

Deur Ela Meiring 

Ela Meiring.

My gunsteling-Bybelvers is uit Hebreërs 12:1 “Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop hardloop wat voor ons lê.”

Hoekom is dit my gunstelingvers? Heel eenvoudig, ek is ‘n langafstandatleet. En ‘n kind van die Here.

Ek woon in die Wes-Kaap in die sprokiesmooie Robertson. Ons is bekend as die klein dorpie, met die groot hart. Ek is ‘n matriekleerder aan die Robertson Logos Christian School en Engels is ons onderrigtaal. Matriek is die jaar van baie laastes, kleure-atletiek, sottekonsert, kampe, 40 Days en matriekafskeid. Vir my sou dit ook die jaar wees wat ek 2019 se hardlooptye wil verbeter – Twee Oseane (21km), FNB Cape Town 12 Onerun, en nog vele meer. En iewers, weet ek, sal ek ook my leerdery moet inpas so tussen die gehardlopery deur.

2020 het egter vinnig verander in ‘n jaar van eerstes. Covid-19 het soos ‘n dief in die nag aan Suid-Afrika se deur kom klop. Die lewe van almal is vinnig op sy kop gedraai. Dinge waarna ons as matriekleerders uitgesien het, was skielik verbode.

President Cyril Ramaphosa het op 15 Maart ‘n 21 dae streng inperking aangekondig, skole is gesluit en almal is huis toe gestuur. My familie kon gelukkig aanhou werk, dus het hul lewe so normaal as moontlik voortgegaan, behalwe vir die lappe op hul gesigte en die baie handewas.

Ons kinders, wat rekenaars of slimfone gehad het, het vinnig gewoond geraak aan die nuwe normaal van Google Classroom en Zoom-klasse.

Dit was egter baie moeilik vir my, want skielik is hardloop van my weggevat. Al die groot padwedlope is gekanselleer. Hardloop buite jou erf was nou iets van die verlede. Gelukkig is ons Suid-Afrikaners baie vindingryk en vinnig het almal begin om op en af in hul tuine te hardloop. Dit was ‘n bietjie moeiliker as gewone hardloop, ek het kort-kort my knieë nerfaf geval.

In hierdie tyd het die Comrades-marathon ‘n visuele padwedren beplan en ná twee maande het die president aangekondig dat ons weer kon begin hardloop. Uiteindelik het ek weer iets gehad om voor te oefen en na uit te sien. Die donker wolk van mismoedigheid het onmiddellik gelig en die Kaap was weer Hollands vir my.

Baie het gemor oor die tydgleuf van 6:00 tot 9:00 want ons het al gehap-hap aan wintertyd. Ek was egter so dankbaar, as die president gesê het 00:00 in die nag sou ek nog steeds gaan hardloop het.

Die oggend van 16 Mei het ek en my oom ons gewone Saterdagoggend 20 km-langafstandroete gehardloop. Dit was bibberkoud en in mistige weer by die 10 km-merk, het die onverwagse gebeur.

‘n Taxi tref my van agter. My oom wat voor my gehardloop het, het hom half simpel geskrik, want toe hy weer sien, toe kom ek en die taxi verby hom deur die lug gevlieg. Hy het benoud op sy knieë gesak en na my begin soek – hy het gedink dat ek dalk onder die wiele beland het. Die Here het egter sy hand die hele tyd op my gehad. Toe die taxi my tref, het ek in die lug opgespring, die taxi het my verder in die lug opgeskiet en ek glo die Here het vir my, vir ‘n kort rukkie, sy engelvlerke geleen. Hy het my saggies op ‘n stuk omgeploegde grond tot ruste laat kom.

Die taxibestuurder was baie geskok; sy passasiers het by die deure uitgepeul en alle rigtings ingehardloop. My oom het besef hy dadelik iets sou moet doen. Ek was so uit soos ‘n kers, daar was nie tyd om te wag vir ‘n ambulans nie en ek is in die stukkende taxi gelaai. Ek het my bewussyn in die Robertson-hospitaal herwin en dadelik gedink dit is ‘n droom. Dr. Prentice, die dokter by ongevalle, het mooi met my gepraat en my verseker dat my ongeluk ernstig, maar nie lewensgevaarlik was nie. Dit was ‘n wonderwerk. Ek ken myself, ek is maar baie stadig as ek vinnig moet reageer, ek sal eerder vries.

“Dankie Here, U het vir my gesê om te spring en ek het gevolg.”

Ek het ‘n harde stamp teen my agterkop gekry tydens die ongeluk. Ek het morfien binneaars ontvang, wat sou help vir die pyn en sodat my lyf nie in ‘n skoktoestand ingaan nie. Ek was geweldig naar en dit het my dokter bekommerd gemaak. Sy het vir my ‘n MRI-skandering gereël by Mediclinic Paarl.

Die taxibestuurder was nog in ‘n toestand van skok en trane het by sy wange afgerol. Ek het hom verseker dat daar geen kwade gevoelens is nie, dit was ‘n blote ongeluk. Ek het ‘n nuwe vriend gemaak.

By Mediclinic Paarl moes ek ‘n Covid-19-toets laat doen en dit was nog in die tyd toe ons nog nie na ander dorpe mag gereis het nie. Gelukkig het ek negatief getoets en my MRI-skandering het gewys dat ek geen bloeding op my brein het nie. Ek het ‘n hele paar skrape op my bene gehad, maar niks wat my ma en huisdokter nie kon gesond dokter nie.

Ek kon vir drie weke geen oefening doen nie as gevolg van my kopbesering, maar dit het my nie gekeer om ‘n maand later die 21 km van die Comrades-marathon se virtuele wedloop te hardloop nie.

Ek hoop my storie kan ander inspireer om nooit tou op te gooi nie. 2020 is ‘n jaar waar ons val opstaan en weer probeer.

  • Ela Meiring is ‘n matriekleerder aan die Robertson Logos Christian School, en ʼn kranige langafstandatleet.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cheryl ·

Ela jy is ‘n yster(es). Wat ‘n getuienis het jy nie om te vertel nie! Die Here het altyd Sy hand op Sy kinders. Ek bid dat jy sommer weer vinnig op altwee jou bene sal wees. Baie sterkte en mag die Here jou 100 voudig seën.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.