#JongStemme: Vat jou nuus met ʼn knippie sout

Deur Lezahne Nel

Lezahne Nel.

Talle mediaorganisasies se fokus lê by winsgewendheid, gevolglik is die vertroue tussen die organisasies en die algemene publiek gebreek. Gevolge van hierdie geldgierigheid is fopnuus, subjektiewe- en onetiese beriggewing. Hierdie onbetroubare inligting skep die verwysingsraamwerk van die publiek en beïnvloed hul alledaagse persepsies, dus is dit uiters noodsaaklik om positiewe verandering te bemoedig.

Etiese beriggewing sluit, onder meer, die volgende in:

  1. Om nie doelbewus die waarheid te verdraai nie;
  2. Om deernis te toon aan diegene wat deur nuusdekking geraak word; en
  3. Om genoegsame konteks te voorsien en nie inligting verkeerdelik voor te stel nie.

Die dood van George Floyd is alombekend, daarom word dié voorval as verwysingspunt gebruik. Hoofstroommedia het onmiddellik die Floyd-voorval as ʼn rassekwessie geklassifiseer. Hierdie is altans ʼn subjektiewe opinie, wat talle individue blindelings gevolg het. Dit kon veel eerder as polisiebrutaliteit weergegee geword het, maar dit is nie.

Black man killed by white police officer”ʼn voorbeeld van ʼn gewilde hoofnuusopskrif ná die Floyd-voorval. Hoe is dit eties geregverdig om ras in hierdie nuusopskrif te plaas, of die klem daarop te lê? As dit belangrik is om ras deel te maak van die kwessie van moord, hoekom behels alle moordopskrifte nie rasseverwysings nie? Hierdie sal altans geensins enigiets wegvat van wat gebeur het nie, maar tog eerder by die algehele prent van die publiek bylas. Dit word nie gedoen nie, want die hoofstroommedia kies vir die publiek wat ʼn rassekwessie behoort te wees en wat nie.

Daar was en sal nooit plek wees vir die hoofstroommedia om vir die algemene publiek voor te sê oor hoe om sake te sien nie. Daar is eerder plek om feite op ʼn objektiewe-, etiese wyse deur te gee. Die enigste manier hoe die gebroke vertroue tussen die hoofstroommedia en die algemene publiek herstel kan word, is deur die waarheid. Die waarheid sal die publiek steun om ingeligte opinies te kan vorm en die wêreld te kan ervaar vir wat dit werklik is.

Hier volg verskillende maniere oor hoe elkeen van ons ʼn beter “redakteur” kan word:

  1. Volg verskillende nuusbronne met teenstrydige sienings al is dit nie lekker nie. Besef dat meeste individue artikels skryf soos wat hulle dit sien. Stel ondersoek in oor die geloofwaardigheid en reputasie van bronne. Vind ʼn middelpunt oor al die feite wat aan jou gegee word;
  2. Alhoewel logies, moet nie toelaat dat jou grootste bron van nuus vanaf ʼn komediant af kom nie; en
  3. Soek na bronne wat langer is van aard – komplekse situasies kan nie in 30 sekondes verduidelik word nie.

Wanneer joernaliste daarvan vrygelaat gaan word om ons aandag te moet hou, sal die kwaliteit van nuus aansienlik verbeter. Natuurlik is en sal politiese agendas steeds ʼn faktor bly. Dit is tyd dat joernaliste se opinies in die nuuskantoor die opinies van die betrokke land begin reflekteer. Dit is tyd om ons vertroue in die hoofstroommedia te herstel deur hulle te help om gevolglik onsself te help. Ons verdien nuus wat tot ons lewens gaan bylas, nie vir sensasie doeleindes nie.

Koop vandag ʼn koerant ten einde ʼn verbetering in kwaliteit van ons nuus, ondersteun organisasies wat na objektiwiteit streef. Volgende keer as jy ʼn subjektiewe berig lees, vat dit met ʼn knippie sout.

  • Lezahne Nel (22) is ʼn honneursstudent in Frans aan die NWU se Potchefstroom-kampus. Sy dien as bemarkingsbestuurder vir PUKfm en as joernalis vir Wapad.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vrijburger ·

Soos Mark Twain gese het: “If you don’t read the newspaper, you are uninformed. If you do read the newspaper, you are misinformed.”

Dit is die elke persoon se verantwoordelikheid om so wyd en divers as moontlik te lees, te luister en te kyk – met ‘n uiterse kritiese ingesteldheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.