#JongStemme: Vee eers voor jou eie deur

Deur Mia Nolte

Mia Nolte.

Meneer en Mevrou, hoeveel maal verkondig jy luidkeels hoe korrup ons regering is? Hoe ons regering net in eie belang optree en hoe daar nie hoop vir hierdie land is nie? Maar, Meneer en Mevrou, het jy al vir ʼn oomblik gedink hoe jý in so ʼn bestuurs- of leiersposisie sou vaar?

Ek hoor nou die dag ʼn jeugdige hardop sê hoe skelm van die regeringsamptenare is – en ja, dit is ʼn feit – maar dit is ook geen geheim dat hierdie einste jeugdige sy leerlinglisensie onderdeur die tafel ontvang het nie. Verstaan my reg – elke persoon is verantwoordelik vir sy of haar keuses en sy doen en late gaan my beslis nie aan nie, maar voor ons klippe gooi, moet ons nie dalk net eers self voor ons eie deure vee voor ons die presidentswoning se vloere blink wil was nie?

Hierdie gedagte het twee jaar gelede by my posgevat toe ek myself vierkantig in die oë moes kyk en moes vra of ek nie maar presies dieselfde is as die leiers wat ek so kritiseer nie. Doen ek elke dag my werk met oorgawe, akkuraatheid en met die hoogste gehalte? Ontduik ek belasting? Of noem ek dit maar net belastingvermyding om myself te sus? Stap ek na die winkel toe terug wanneer ek R5 te veel kleingeld ontvang het om dit terug te gee, of hou ek dit maar, want dis mos darem nie my fout nie? Ek het myself geroskam en vasgestel dat ek beslis in ʼn glashuis woon – nou wel nie een wat deur ander se belastinggeld betaal word nie – maar steeds ʼn glashuis.

Daarby spreek ons onsself oor die “onopgevoedes” uit – maar Meneer, drink jy nie ook maar aan die einde van die maand op daardie jagtrippie hopeloos te veel nie? En tree jy nie dan ook maar soos hierdie “onopgevoedes” op nie? En weet jy Meneer – jy het dan nog sowaar ʼn ordentlike opvoeding ook ontvang (ten duurste), soos ek veronderstel. Die onopgevoedes kyk seker ook soms na ons en wonder wat óns dan nou soveel anders en “meer opgevoed” as hulle maak, gegewe hoe ons soms (al te dikwels) optree …

Ons leef in ʼn wêreld waar dit die spreekwoordelike “elkeen vir homself en die duiwel vir die res” is, en só word ons kinders ook dikwels opgevoed. Dit is eintlik op alle gebiede so, behalwe wanneer ons die toestand van ons land in oënskou neem. Dit is beslis nie ʼn kwessie van “elkeen vir homself” wanneer ons probeer om die land ʼn beter plek te maak nie; nee, dan is dit die sogenaamde leiers, en nét die leiers, se verantwoordelikheid.

Is dit nie tyd dat ons besef dat ons verantwoordelikheid net so ver soos die leiers s’n strek nie? Meneer en Mevrou – ek en jy sal nooit in ʼn bestuurs- of leiersposisie, met die groot verantwoordelikhede wat daarmee gepaardgaan, anders kan optree as ons nie eens die klein verantwoordelikhede kan nakom nie.

Deesdae moet jy dit wat jy doen rég doen wanneer iemand kyk – maar leierskap gaan juis daaroor dat jy dit wat jy doen rég doen wanneer niemand kyk nie – en dié leierskap begin by jou en my. Ware leiers kies altyd die swaarder “reg”, eerder as die makliker “verkeerd” – of so is dit veronderstel om te wees. Meneer en Mevrou – die dag wanneer ek en jy dit regkry – dáárdie dag kan ons die leiers onomwonde blameer. Tot dan, kom ons vee maar eers voor ons eie deur.

  • Mia Nolte is ‘n 26-jarige onderwyseres in Namibië.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieterbusa ·

Baie dankie vir die treffende direkte boodskap. Ek glo ons almal moet een of ander tyd ophou kla en ophou vingers wys. Kyk eers in die spieël

marius ·

Daar is derduisende wat in die voorste banke van die kerke sit en net so skelm is . Dit is die waarheid .

Snowball ·

Wonderlik! As daar iets is wat hulle kan red is dit daai tyd in die kerk. Dalk is die volgende preek of gebed die een wat hulle so sondeloos kry soos dié wat nie die kerk nodig het nie.

Jan Seerot ·

Goed Mia. Jou boodskap is duidelik. Maar wat as ons níks doen nie? Ons vee net heeltyd voor ons eie deure? Dan wat? Oordeel is nie jou plig of jou voorreg nie. God kom die wraak toe. Daar is ek dit met jou eens. Kan ek dan maar die spreekwoordelike fluitjie blaas nadat ek eers die besem vir ‘n wyle laat staan het?

Dries ·

Dit klink of Mia wil he ons moet ophou kritiseer en net aanvaar

Genis ·

Ek weet nie wat om hiervan te maak nie? Ons moet nou maar aanvaar? Dit klink nie reg nie?

Snowball ·

Om te hoop ‘n leeu vreet jou nie op nie, omdat jy hom nie eet nie, is ‘n wenresep vir die kwaad en bose om te oorwin. As ons enige toekoms vir die kinders van die wêreld wil los, moet ons die kwaad by die naam noem. Elke keer. Vir ons eie foute, maar veral vir dié wat mag misbruik en mense se lewens beïnvloed. Dis hoe boosheid wyk en mense nog kan hoop hê – dis hoe jy moreel verantwoordelik is en ‘n voorbeeld stel vir die geslagte wat kom. Die teendeel is boedel oorgee.

Louis ·

Dit klink goed, maar is ‘n wilde wye veralgemening. Ek, byvoorbeeld, jag glad nie — ek kan nie eens hoop om dit te bekostig nie. Ongelukkig moet ek maar vir myself sorg en met die beskikbare hulp oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.