#JongStemme: Verandering!

Deur Henning Noëth

Henning Noëth.

Ons lewens bestaan uit voortdurende verandering. Elke dag hou sy eie geluk en probleme in. Verandering is onvermydelik.

Daar gebeur soveel dinge, of eerder veranderinge, in ʼn mens se lewe, maar is dit nie juis hoe ons gevorm word nie? Ek hou nie van verandering nie, maar ek verstaan dat dit nodig is. Die Here bepaal ons pad, Hy bepaal hoe ons dit gaan stap en saam met wie.

Sekere veranderings is moeilik en uitdagend, ander is weer eenvoudig en vinnig. Beide maak ʼn mens sterker en vorm jou, jy het nie altyd ʼn keuse oor watter verandering jy sal moet deurgaan nie, maar jy het wel ʼn keuse oor hoe jy dit gaan hanteer en daardeur gaan kom.

Die mense rondom jou verander, ons omgewing waarin ons leef verander, ons land verander en ons wêreld verander. Die tegnologie verander, ons taal verander, ons skole en universiteite verander. Daar word nuwes gebou en daar word oues afgebreek. Daar is maatskappye wat vou, daar is organisasies wat groei. Daar is mense wat sterf en daar is babas wat gebore word. Die mense waarvoor jy lief is, is dalk ver, siek, moeg of dinge is net nie meer wat dit was nie. So kan die lys aangaan.

Presies ʼn jaar gelede het ek geweet my lewe gaan verander. Ek het net nie geweet hóé nie en ek het verseker nie verwag dat die dinge gaan verander soos wat dit het nie.

Dwarsdeur al hierdie veranderinge, is daar egter een ding wat ons verseker kan sê nié sal verander nie, wat deur die jare dieselfde was en ook tot in ewigheid dieselfde gaan bly: Ons Here en God.

In Openbaring 1:8 staan daar: “Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.”

Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat dit nie saak maak hoe rof of hoe stil en wonderlik die waters van jou lewe is nie; die Here is elke dag met ons – deur alles waardeur ons gaan, goed of sleg. Hy gee ons krag, Hy versterk ons, Hy gee ons hoop en stap saam met ons op hierdie pad wat elke dag verander.

In een dag is daar soveel dinge wat in jou lewe verander. So word dae maande, maande word jare en jare word jy! Begin elke dag met nuwe moed, nuwe krag en wees reg vir die volgende verandering. Verander die wêreld soos wat die wêreld jou verander. Verander jou probleme, verander jou siening, verander jou gesindheid, of verander dalk eers net ʼn traan in ʼn glimlag.

Wees die verandering in iemand se lewe en laat iemand die verandering in jóú lewe wees.

Moet net nooit jou vertroue in God verander nie. Ons weet Sy liefde en heerskappy verander nooit nie.

  • Henning Noëth is tans besig met sy honneursgraad in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ABDP ·

Dankie dat jy ons weer hieraan kom herhinner het. Ons het nodig om dit te hoor!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.