#JongStemme: Verdoemde generasie

Deur Japie Theron

Japie Theron.

Ons lewe in ʼn era vol seer en haat. As dit nie ons regering is wat ons kniehalter nie, is dit ʼn wêreldwye pandemie, en partymaal tref die twee ons sommer saam.

Ons loop in die strate rond. Oukei nee, ons doen dit ook nie meer nie. Elke keer as ons met iemand gesels, spreek ons haat en negatiewe energie uit oor hoekom ons swaarkry en wie se skuld dit dié keer is. Ek is self daaraan skuldig.

Ons is ʼn generasie wat wil kla oor hoe moeilik dit is om werk te kry, maar wil nie eens moeite doen om ervaring op te bou nie. Ons wil ongeduldig die werksmag betree en in ʼn hoë posisie inwals. Ons is ʼn generasie wat kla dat ons nie geld het nie en dat die kerk net altyd geld wil hê, maar ons gaan drink naweke als uit en dan kla ons verder as kroeë en restaurante toemaak.

Ons is reg om die regering kwalik te neem dat die ekonomie swak is, maar wanneer laas het jy werklik jou klein gemeenskapsrestaurant ondersteun in plaas daarvan om iets deur Uber Eats by ʼn groot kettingwinkel te bestel?

Ons hou daarvan om in oormaat te kla dat ons nie kan uitgaan nie, maar baie van ons gaan in elk geval nie uit nie en binge watch reekse asof dit ʼn dwelm is. Dit is vir ons meer belangrik om te weet wat volgende in die reeks gaan gebeur as om vir tien minute net na die maan te kyk en om dit wat ons het meer te waardeer.

ʼn Generasie vol verslawings. Dinge raak te gemaklik en dit is heeltemal te maklik om ander mense die blaam te gee.

Onderwysers is die probleem as jou tiener nie in wiskunde presteer nie. Dit is die dosent of Covid-19 se skuld as jou kind nie genoeg op universiteit leer of cum laude slaag nie. Die regering word eerste swart gesmeer indien jy nie jou droomwerk kry nie, want dit is makliker om te sê ek is té wit vir ʼn hoë pos as om te sê ek is dankbaar vir ʼn werk.

Ons is baie vinnig om te sê die regering maak die kerke toe en verhoed ons só om geestelik te groei, maar wees ʼn bietjie eerlik met jouself en sê my wanneer laas was jy vóór die pandemie in die kerk? Hoeveel aanlyn dienste het jy al bygewoon sonder dat jy eers jou bed hoef te verlaat?

Julle is reg. Die lewe is hard en die lewe is moeilik. Ons almal is gefrustreerd met wat om ons aangaan. Vandag wil ek wel vir jou vra om ʼn keer weer bietjie mooi te dink voor jy weer uitlatings maak oor hoe moeilik die lewe is. Ons sit in ʼn tyd waar ons net aan onsself dink en ons wil altyd die blaam aanskuif as dinge nie vir ons reg uitdraai nie. As iemand in my familie siek is, is dit die ergste ding wat kan gebeur, maar wanneer laas het jy jou buurman gevra oor sý gesin se seer?

Kom ons begin om ons medemens in ag te neem, vir mekaar te bid en ook sáám die uitdagings aan te pak. Kom ons word weer ʼn generasie wat ons naaste liefhet en hou net vir ʼn oomblik op met kla. Die lewe is wat jy daarvan maak!

  • Japie Theron is ‘n BCom (Bestuursrekeningkunde)-student aan Akademia en dien ook vanjaar op die studenteraad.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Uitstekende artikel en samevatting. Dis nie net die jonger generasies wat so optree nie. Dis duidelik hul het by hul ouers geleer slap wees. Kermende spul oor drankverbod, CV19 reëls, “armoede” – maar hul drink en rook asof daar nie ‘n more is nie, en dan die beste – hul weier om cv19 inentings te kry want dis “die merk van die dier”……… wat ‘n grap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.