#JongStemme: Verkiesingsapatie

michelle-oelofse

Michelle Oelofse is ʼn finalejaar-regstudent aan die Universiteit van Pretoria. Sy is voorsitter van die UP-debatsvereniging. Foto: Verskaf.

Deur Michelle Oelofse

Binnekort gaan Suid-Afrikaners stembusse toe, of minstens 57% van die land se stemgeregtigdes sal so maak, indien die 2014-tendens voortduur. Die oorblywende 43% is waarskynlik net te dankbaar vir die vakansiedag, maar min gepla met die trek van ʼn kruisie.

Nog meer angswekkend is die syfers van jong mense wat besluit om die stembus te boikot – slegs 58% van kiesers tussen 18 en 29 jaar het geregistreer om te stem in 2014, terwyl net 33% van 18- en 19-jariges geregistreer het.

Vandag se kinders kan nie net a-p-a-t-i-e spel nie (te danke aan die Polisiekarre), maar leef dit ook.

Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek definieer apatie as die afwesigheid van drif, hartstog of strewe en ook as lusteloosheid, gevoelloosheid, dooierigheid. My gunstelingdefinisie (is dit nie ʼn vreemde gunstelingding om te hê nie?) van die woord kom egter uit die Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe, naamlik: Gebrek aan emosie met gepaardgaande verlies van belangstelling of verwydering.

Die Instituut vir Sekerheidstudies het ondersoek ingestel na die kwelpunt van jeugdiges se stembus-afwesigheid (sien die verslag hier). Die gevolgtrekking is interessant: die jeug is nie apaties nie, maar hul (gebrek aan) deelname in politiek en verkiesings is gekoppel aan hul tevredenheidsbetuiging van die demokrasie.

Vreemd. Indien (volgens talle ATKV-skoledebatte) demokrasie die mag van die mense is, en die mense nie deelneem nie, is dit dan werklik demokrasie en het ons die reg om ongelukkig te wees oor hierdie “demokrasie” waaraan ons nie deel neem nie? Apatie blyk toe wel die regte beskrywing vir Suid-Afrikaanse jong mense te wees.

ʼn Gebrek aan emosie. Ongevoeligmaking blyk ʼn prominente tema te wees vir Suid-Afrikaners, maar ook veral in jong mense se lewens. Ons word daagliks blootgestel aan geweld, moord en onverdraagsaamheid op die radio, TV-nuus en by die skool. Ons moet noodgedwonge sien en kom klaar met beurtkrag op ʼn skoolaand (huiswerk by ʼn kers) en dinge soos die Zondo-kommissieverrigtinge (as die agbare regter eendag sy bevindinge bekendmaak) gaan by die een oor in en die ander uit, want ons weet daar sal waarskynlik dadels van kom. Jy keer, op ʼn baie letterlike manier, om nie van jou sinne beroof te word nie deur eenvoudig die ander wang te draai. “Koma” is meer as die naam van ʼn Spoegwolf-album, dis ʼn hanteringsmeganisme.

Verlies van belangstelling. Die lae registrasiekoers vir die komende verkiesing van jong mense illustreer hierdie aspek van apatie goed. Dis nie dat jong mense vreeslik bemoei was met studies of die bou van hul loopbane gedurende die Januarie-registrasienaweek nie, hier in Pretoria het talle geparkdraf en gefoodmarket en gebrunch vir Instagram-doeleindes, maar weinig het geregistreer. Waarom? Miskien omdat ons redenaarstoesprake dikwels ingelei is deur Einstein se definisie van waansin: Die doen van dieselfde ding oor en oor en om dan ander resultate te verwag. Êrens het ons besef dat die demokrasie van ons LO-handboeke nie so rooskleurig in die werklikheid is nie, waarom dan aksies oor en oor herhaal as jy reeds van die onaardige uitkoms kennis dra?

Verwydering. Geen emosionele konneksie of belangstelling nie, natuurlik sal onttrekking volg. Ons luister podsendings oor Amerikaanse politiek en kyk Netflix-reekse oor die verdwyning van Britse dogtertjies en drink Woollies-water in ons “paleisale Toskaanse tronke” of “op ʼn parkiebank”. Hoe bemoei jy jouself met ʼn land indien jy voordurend bekommerd is oor die kry van jou toekomstige werk, of erger nog, as jy nie weet of jy vanaand veilig tussen jou toetslokaal en koshuis sal kan stap nie? Kort antwoord: Jy doen nie. Daarom identifiseer ons jongmense hulle eerder met die kinders van “Kerkorrel se Snor City” as met die inwoners van Msimanga se Tshwane.

Lank voordat die Polisiekarre gesing het “brand Suid-Afrika” het Langenhoven geskryf “my land se voete brand”. Maar die jongmens van 2019 se vuur blyk geblus te wees deur apatie. Ons ouers was betower deur die krag van ʼn kruisie, maar by ons is die afwesigheid van hartstog teenoor die stembus duidelik.

Ons hoop maar, saam met Francois van Coke, “Dit raak beter as jy ouer raak”.

Verwys hierna vir konteks (chronologies soos in die meningstuk):

  • “Hemel op platteland” – Die Polisiekarre
  • “Koma” – Spoegwolf
  • “The Ben Shapiro Show” (ʼn podsending)
  • The Disappearance of Madeleine McCann (op Netflix)
  • Parkiebank, herfs 2017 – Die Polisiekarre
  • “A Tale of Three Cities” – Bittereinder
  • “Brand Suid-Afrika” – Die Polisiekarre
  • “My land” – CJ Langenhoven
  • “Dit raak beter”– Francois van Coke

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

  • Michelle Oelofse is ʼn finalejaar-regstudent aan die Universiteit van Pretoria. Sy is voorsitter van die UP-debatsvereniging, dien op die redaksie van die studente-inisiatief diskoers.com en is mede-aanbieder van huiDIG, ʼn gedigte podsending.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hans Richardt ·

Is dit apatie of logika?
Die tirannie van demokrasie is besig om onsinnige politieke korrektheid beleid van geforseerde etniese amalgamasie beleid af te forseer! Die konstante politieke korrekte retoriek in media het apatie gekweek, veral onder minderhede in SA.
Swartes vra dikwels, vir wie moet hul stem.. Hul kan sien hoe politiek slegs uitgesoektes te bevoordeel.
Die wegbly stem, moet ook as sosiale verset gesien te word, want om met emosionele plakkery opswepery mense te probeer dwing om te stem, gaan nie werk nie. Die huidige politieke korrektheid stelsel werk nie, kyk na professionele jong swartes wat SA verlaat en emmigreer.

Hendrik ·

As jy nie gaan stem nie, stem jy by implikasie vir die ANC. Elke verteenwoordiger wat die ANC / EFF / BLF koalisie in die parlement kry, maak hulle getalle meer in elke subkomitee waar nuwe wette geskryf word. Nie-stemmers is na my mening net so aandadig aan ons ellende in SA as die ANC / EFF / BLF. As alle Afrikaners sou gaan stem en die res van die land het ‘n 60% stempertasie, sou ons saak baie sterker gewees het.

Johanna Botha ·

Almal moet asb gaan stem …dis regtig belangrik vir ons almal !

Eben ·

@Johanna Botha: As jy sê “almal” dan bedoel jy seker alle blankes. Indien *almal* wat *mag* stem gaan stem, nie slegs alle blankes nie maar almal, is ons probleme nog erger aangesien ons slegs ~8% van die stem sal hê indien ons nou almal vir 1 politieke party sou stem. En presies daar is ons probleem. Ons het nie die getalle nie. Effektief het ons *geen* sê in die politiek van hierdie land nie. Zero. Kyk maar hoe word die VF+ eenvoudig geignoreer in die parlement. Hulle het baie goeie planne maar dit maak glad nie saak nie.

Sonder selfbeskikking beteken ons stem niks. 8% is net so goed soos 0%. In Engels sê ons: “A miss is as good as a mile!”

Gys ·

Demokrasie is waar jy elke 5 jaar vir n nuwe diktator kan stem. Ek vat eerder 4 dae vakansie, en doen n lekker 9 dag motorfietstoer deur die Baviaans, Moordenaars Karoo, Tankwa Karoo en Sederberge. En nee, ek het nie kinders aan wie ek eendag kamstig iets hoef te verduidelik nie.

Blaarman ·

@Gys

Klink soos ‘n plan. Werklike vryheid bo die illusie van vryheid.

Kom ons skop stof op die horison terwyl die skape hulle kruisies by die slagpale gaan trek.

Morrie ·

2 Kronieke 19:7b “Wees versigtig en doen julle plig. By die Here ons God is daar nie onreg en bevoordeling en korrupsie nie”
Vers 11b “Staan sterk en doen julle plig. Die here is aan die kant van die goeie.”
Ek glo dat een van ons pligte is om te stem. Ons kan nie armpies gevou sit en bid dat God moet ingryp nie, ons moet ons pligte nakom en gaan stem. Ons word ook gewaarsku om versigtig te wees. Besin mooi oor vir wie jy gaan stem, dis een van jou pligte as n burger van JOU land. Dink daaroor!

Annie Webb ·

Lanklaas so lekker gelees en só optimisties gevoel aan die einde. Dis te begrype dat jong mense lus voel om eerder emosioneel of fisiek weg te hardloop van probleme (baie mense doen dit lewenslank!) maar dis dié wat by die wêreld om hulle betrokke raak wat daai wêreld se wiele laat draai. Daar is sóveel positiewe jongmense van alle rasse in ons land, wat nie vasval in “ingedoen voel” nie, maar aanhou soek na raakpunte en maniere om sáám vooruit te gaan. Ambisieuse, realistiese, positiewe jong mense van alle rasse het dieselfde oogmerke: opleiding vir ‘n goeie werk; verkryging of skepping van so ‘n werk; en dan ‘n eie, goedbeplande gesin. Niemand kan die hele wêreld red nie en niemand hoef nie; maar jy kan vir jouself verantwoordelikheid aanvaar. En betrokkenheid is die begin.

Therese van Schalkwyk ·

Puik stuk, Michelle Oelofse!
Verkiesingsapatie onder die jeug blyk ongelukkig ‘n wêreldwye verskynsel te wees.
Kan ook ‘n bedekte seën wees in sommige gevalle …

Dit is egter ‘taalapatie’ onder die Afrikaanssprekende- en Afrikanerjeug wat bitter teleurstellend is. Behalwe vir die gebruiklike paar uitsonderings op die reël, het die Afrikaanse jeug sonder sprak of sprook, sonder om ‘n oog te knip, toegekyk hoe Afrikaans verdwyn by alle universiteite behalwe een. Glo nie die Duitse of Franse jeug sou ooit só apaties kon wees nie.
Onvergeeflik.

Andrea ·

Ek wonder hoeveel Afrikaanse studente kon iets doen daaraan? As jy opstaan vir jou eie word jy n rassis. Jy word gebrandmerk in die departement waar jy werk of studeer. Die transformasiekomittee noem jou as n voorbeeld van n Afrikaner wat nie wil transformeer nie. Dis nou as jy Afrikaans praat met jou klasmaats of n vraag in Afrikaans vra.

IK ·

Vir my Michelle, is die logiese uiteensetting van jou boodskap in ons moedertaal Afrikaans. Spelfoutloos geskryf deur ‘n jongeling soos jy gee my moed dat daar steeds ‘n toekoms deur mense soos jy in SA is. ‘n MOOI toekoms word jou en ander soos jy toegewens wat ‘n verskil sal en gaan maak in hierdie land.

Jerry ·

Die jeug wat apaties staan teenoor nie net stem nie, maar teenoor n toekoms in SA gaan bitter moeilik enige noemenswaardige waardevolle bydrae maak. Stuur die jeug oorsee daar waar hulle weer veilig, opgewonde, uitgesproke en jonk mag wees. Ek vra met trane in my oe, hoekom moet die jeug in SA gehou word, hoekom? Hoe kan dit tot voordeel van enige jongmens wees om in SA te bly wat reeds verval het in n totale gekkeparadys waar lewens minder werd is as n “bicycle” en grond, waar kerke geplunder en gebrand word! Julle jongmense wat oorsee kan gaan, moet gaan of SA julle nodig het of nie, julle het SA nie nodig in julle lewens nie! Julle kan eendag wanneer al die gemors uit gesorteer is weer terugkeer indien julle sou wou! Die mense wat die jeug hier wil hou het sakeryke vir hulself gebou, nie vir die jeug nie. Hulle klou verbete was aan hulle grond en aardse besittings met die wete dat jongmense hulle fight vir hulle gaan fight! Gaan fight die goeie fight oorsee! Laat die wat skoor gesoek het en die wat wil bly hulle eie fight, fight!

Snowball ·

Vir ‘n verandering stem ek saam met jou Jerry. Afrikaners se kinders se stemme is soveel werd soos om daai kruise te trek op ‘n opgewasemde badkamerspieël. Vat die pad, hierdie misdaadhool is nie ‘n plek vir beskaafdes nie. Jy kan netsowel probeer om van leeus vegetariërs te maak as om hier te skree teen ‘n oormag . Ons voorouers het pad gevat vir ‘n beter lewe, doen dieselfde en gaan floreer waar jy as mens waarde het.

Annie Webb ·

Jerry, ek stem beslis nie altyd met jou saam nie maar jy laat mens áltyd dink. Ek hóór wat jy hier sê en ja, baie van my vriende se kinders het vir hulself en hul kinders ‘n goeie lewe in die buiteland gaan skep. En selfs ‘n alleenouer agterna laat kom en by hulle aansluit. Jong mense kán aanpas, mits hulle ten minste ‘n gesin rondom hulle kan vergader EN volkome by die nuwe vaderland aanpas. Taal en al. Om ‘n Afrikaanse expat daar te gaan bly vir die res van jou lewe gaan nooit werk nie. As jy dus Afrikaans is, gaan jy altyd meer moet prysgee as iemand wat bv reeds van huis uit Engels is. Hier in die Kaap, wat dusver puik deur die DA bestuur word, is ek steeds optimisties dat ons tog ‘n multikulturele toekoms het. Ons sal steeds ons taal kan praat en steeds ons kulturele ruimte hê, binne die groter multikulturele Engelse hoofstroom; en as daar genoeg mense van alle rasse is wat kan stem vir ‘n party wat wegbeweeg van sosialisme kan ons ekonomie dalk ook herstel. Maar aandrang op die ou spesiale behandeling vir Afrikaans en, erger nog, selfbeskikking, gaan ons nóóit op ‘n beter plek bring nie. Dit is en bly Afrika dié. Minderhede oorleef oral mits hulle inpas en aanpas.

Therese van Schalkwyk ·

Annie Webb

Te oordeel aan vele interessante kommentare is daar geen twyfel oor jou ingeligtheid op verskeie gebiede nie. Intensiewe leeswerk oor die onskatbare voordele van moedertaalonderrig, en spesifiek die noodsaaklikheid van die akademiese en wetenskaplike gebruik om ‘n reeds ten volle ontwikkelde taal relevant en lewend te hou, kan egter aanbeveel word.

Alana Bailey (AfriForum, Maroela) het talle insiggewende artikels geskryf oor hierdie onderwerp.
Om te staan vir jou reg op moedertaalonderrig is geensins “om aan te dring op die ou spesiale behandeling van Afrikaans”, soos impliseer word nie.

Terloops, koalisievorming is nog ‘n interessante onderwerp, verál in ‘n multikulturele land soos SA.

Hendrik ·

Hierdie mense wat so propageer om nie te gaan stem nie, is die grootste klomp sl@pg@tte wat daar is. Gaan doen julle plig en gaan stem! Ek en my vrou gaan 5 ure Chicago toe ry en weer terug ook om te gaan stem. As ons daardie moeite kan doen, kan julle ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.