#JongStemme: Verkiesingsapatie

michelle-oelofse

Michelle Oelofse is ʼn finalejaar-regstudent aan die Universiteit van Pretoria. Sy is voorsitter van die UP-debatsvereniging. Foto: Verskaf.

Deur Michelle Oelofse

Binnekort gaan Suid-Afrikaners stembusse toe, of minstens 57% van die land se stemgeregtigdes sal so maak, indien die 2014-tendens voortduur. Die oorblywende 43% is waarskynlik net te dankbaar vir die vakansiedag, maar min gepla met die trek van ʼn kruisie.

Nog meer angswekkend is die syfers van jong mense wat besluit om die stembus te boikot – slegs 58% van kiesers tussen 18 en 29 jaar het geregistreer om te stem in 2014, terwyl net 33% van 18- en 19-jariges geregistreer het.

Vandag se kinders kan nie net a-p-a-t-i-e spel nie (te danke aan die Polisiekarre), maar leef dit ook.

Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek definieer apatie as die afwesigheid van drif, hartstog of strewe en ook as lusteloosheid, gevoelloosheid, dooierigheid. My gunstelingdefinisie (is dit nie ʼn vreemde gunstelingding om te hê nie?) van die woord kom egter uit die Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe, naamlik: Gebrek aan emosie met gepaardgaande verlies van belangstelling of verwydering.

Die Instituut vir Sekerheidstudies het ondersoek ingestel na die kwelpunt van jeugdiges se stembus-afwesigheid (sien die verslag hier). Die gevolgtrekking is interessant: die jeug is nie apaties nie, maar hul (gebrek aan) deelname in politiek en verkiesings is gekoppel aan hul tevredenheidsbetuiging van die demokrasie.

Vreemd. Indien (volgens talle ATKV-skoledebatte) demokrasie die mag van die mense is, en die mense nie deelneem nie, is dit dan werklik demokrasie en het ons die reg om ongelukkig te wees oor hierdie “demokrasie” waaraan ons nie deel neem nie? Apatie blyk toe wel die regte beskrywing vir Suid-Afrikaanse jong mense te wees.

ʼn Gebrek aan emosie. Ongevoeligmaking blyk ʼn prominente tema te wees vir Suid-Afrikaners, maar ook veral in jong mense se lewens. Ons word daagliks blootgestel aan geweld, moord en onverdraagsaamheid op die radio, TV-nuus en by die skool. Ons moet noodgedwonge sien en kom klaar met beurtkrag op ʼn skoolaand (huiswerk by ʼn kers) en dinge soos die Zondo-kommissieverrigtinge (as die agbare regter eendag sy bevindinge bekendmaak) gaan by die een oor in en die ander uit, want ons weet daar sal waarskynlik dadels van kom. Jy keer, op ʼn baie letterlike manier, om nie van jou sinne beroof te word nie deur eenvoudig die ander wang te draai. “Koma” is meer as die naam van ʼn Spoegwolf-album, dis ʼn hanteringsmeganisme.

Verlies van belangstelling. Die lae registrasiekoers vir die komende verkiesing van jong mense illustreer hierdie aspek van apatie goed. Dis nie dat jong mense vreeslik bemoei was met studies of die bou van hul loopbane gedurende die Januarie-registrasienaweek nie, hier in Pretoria het talle geparkdraf en gefoodmarket en gebrunch vir Instagram-doeleindes, maar weinig het geregistreer. Waarom? Miskien omdat ons redenaarstoesprake dikwels ingelei is deur Einstein se definisie van waansin: Die doen van dieselfde ding oor en oor en om dan ander resultate te verwag. Êrens het ons besef dat die demokrasie van ons LO-handboeke nie so rooskleurig in die werklikheid is nie, waarom dan aksies oor en oor herhaal as jy reeds van die onaardige uitkoms kennis dra?

Verwydering. Geen emosionele konneksie of belangstelling nie, natuurlik sal onttrekking volg. Ons luister podsendings oor Amerikaanse politiek en kyk Netflix-reekse oor die verdwyning van Britse dogtertjies en drink Woollies-water in ons “paleisale Toskaanse tronke” of “op ʼn parkiebank”. Hoe bemoei jy jouself met ʼn land indien jy voordurend bekommerd is oor die kry van jou toekomstige werk, of erger nog, as jy nie weet of jy vanaand veilig tussen jou toetslokaal en koshuis sal kan stap nie? Kort antwoord: Jy doen nie. Daarom identifiseer ons jongmense hulle eerder met die kinders van “Kerkorrel se Snor City” as met die inwoners van Msimanga se Tshwane.

Lank voordat die Polisiekarre gesing het “brand Suid-Afrika” het Langenhoven geskryf “my land se voete brand”. Maar die jongmens van 2019 se vuur blyk geblus te wees deur apatie. Ons ouers was betower deur die krag van ʼn kruisie, maar by ons is die afwesigheid van hartstog teenoor die stembus duidelik.

Ons hoop maar, saam met Francois van Coke, “Dit raak beter as jy ouer raak”.

Verwys hierna vir konteks (chronologies soos in die meningstuk):

  • “Hemel op platteland” – Die Polisiekarre
  • “Koma” – Spoegwolf
  • “The Ben Shapiro Show” (ʼn podsending)
  • The Disappearance of Madeleine McCann (op Netflix)
  • Parkiebank, herfs 2017 – Die Polisiekarre
  • “A Tale of Three Cities” – Bittereinder
  • “Brand Suid-Afrika” – Die Polisiekarre
  • “My land” – CJ Langenhoven
  • “Dit raak beter”– Francois van Coke

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

  • Michelle Oelofse is ʼn finalejaar-regstudent aan die Universiteit van Pretoria. Sy is voorsitter van die UP-debatsvereniging, dien op die redaksie van die studente-inisiatief diskoers.com en is mede-aanbieder van huiDIG, ʼn gedigte podsending.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hans Richardt

Is dit apatie of logika?
Die tirannie van demokrasie is besig om onsinnige politieke korrektheid beleid van geforseerde etniese amalgamasie beleid af te forseer! Die konstante politieke korrekte retoriek in media het apatie gekweek, veral onder minderhede in SA.
Swartes vra dikwels, vir wie moet hul stem.. Hul kan sien hoe politiek slegs uitgesoektes te bevoordeel.
Die wegbly stem, moet ook as sosiale verset gesien te word, want om met emosionele plakkery opswepery mense te probeer dwing om te stem, gaan nie werk nie. Die huidige politieke korrektheid stelsel werk nie, kyk na professionele jong swartes wat SA verlaat en emmigreer.

Johanna Botha

Almal moet asb gaan stem …dis regtig belangrik vir ons almal !

Morrie

2 Kronieke 19:7b “Wees versigtig en doen julle plig. By die Here ons God is daar nie onreg en bevoordeling en korrupsie nie”
Vers 11b “Staan sterk en doen julle plig. Die here is aan die kant van die goeie.”
Ek glo dat een van ons pligte is om te stem. Ons kan nie armpies gevou sit en bid dat God moet ingryp nie, ons moet ons pligte nakom en gaan stem. Ons word ook gewaarsku om versigtig te wees. Besin mooi oor vir wie jy gaan stem, dis een van jou pligte as n burger van JOU land. Dink daaroor!

Annie Webb

Lanklaas so lekker gelees en só optimisties gevoel aan die einde. Dis te begrype dat jong mense lus voel om eerder emosioneel of fisiek weg te hardloop van probleme (baie mense doen dit lewenslank!) maar dis dié wat by die wêreld om hulle betrokke raak wat daai wêreld se wiele laat draai. Daar is sóveel positiewe jongmense van alle rasse in ons land, wat nie vasval in “ingedoen voel” nie, maar aanhou soek na raakpunte en maniere om sáám vooruit te gaan. Ambisieuse, realistiese, positiewe jong mense van alle rasse het dieselfde oogmerke: opleiding vir ‘n goeie werk; verkryging of… Lees meer »

Therese van Schalkwyk

Puik stuk, Michelle Oelofse!
Verkiesingsapatie onder die jeug blyk ongelukkig ‘n wêreldwye verskynsel te wees.
Kan ook ‘n bedekte seën wees in sommige gevalle …

Dit is egter ‘taalapatie’ onder die Afrikaanssprekende- en Afrikanerjeug wat bitter teleurstellend is. Behalwe vir die gebruiklike paar uitsonderings op die reël, het die Afrikaanse jeug sonder sprak of sprook, sonder om ‘n oog te knip, toegekyk hoe Afrikaans verdwyn by alle universiteite behalwe een. Glo nie die Duitse of Franse jeug sou ooit só apaties kon wees nie.
Onvergeeflik.