#JongStemme: Versteekte, moderne superhelde

Edané Combrink. (Foto: Verskaf.)

Deur Edané Combrink

Nie alle superhelde dra mantels nie, maar dit weet ons veral in dié tyd. Ons het in een van die vorige meningstukke gelees dat onderwysers superhelde is. Geagte Adriaan en ander lesers, onderwysers ís superhelde, maar tydens die landwye grendeltyd het ons ons ware superkragte ontdek.

Op die 18de Maart 2020 het ons opgepak en die skole soos spookdorpe agtergelaat. Die gelag van spelende kinders het later ophou eggo in die gange. Die opgewonde gekwetter van onderwysers in die personeelkamer het ’n stille dood gesterf. Onderwysers en kinders kon mekaar skaars groet voordat die skool se hekke met slot en grendels moes gesluit het. Nie net het die skok van die skielike stilstand die harte van duisende onderwysers en kinders geruk nie, maar ook die onsekerheid van wanneer en óf ons ooit weer ’n normale skooldag sal hê.

Die wanpersepsie dat onderwysers ’n heerlike vakansie tydens die grendeltyd gehad het, is deesdae meer algemeen as die virus self. Ek kan, as eerstejaaronderwyser, van die volgende stelling getuig: onderwysers het in die laaste twee maande harder gewerk as ooit. Die hele jaar se kurrikulum moes van voor af beplan word om seker te maak dat die leerders wél deur die jaar se werk kom. Onderwysers moes skielik kenners word in die tegnologiese gebied en leer hoe om leerders wat uit verskillende agtergronde en sosio-ekonomiese statusse kom, op dieselfde bladsy te hou, en in baie gevalle, dít sonder ’n handboek. Zoom-klasse, YouTube-video’s om konsepte verduidelik, d6 School Communicator en Google Classroom het nie die klaskamer en onderwyser vervang nie, maar eerder ons hande kom sterker maak en ’n goeie opvoeding haalbaar gemaak vir elke een wat bereid is om die ekstra myl te loop.

Ek kan nie eens begin beskryf hoeveel slapelose nagte talle onderwysers tydens hierdie tyd gehad het nie. Slapelose nagte oor akademiese dae wat verlore gaan, maar nóg meer slapelose nagte oor die kinders in ons klasse wat ons wéét (en soms nie) vasgevang is in haglike omstandighede by die huis. Elke onderwyser weet tog dat die gesiggies wat voor jou sit, nie net nog ’n vreemdeling is wat jy net in die verbygaan groet nie. Elke liewe een van die kinders in jou klas word jóú kinders. As onderwyser voel jy tot ’n mate vir die kinders verantwoordelik en tydens hierdie grendeltyd is daar ’n leemte gelos in elke onderwyserhart.

Die bekende spreekwoord van oorlede oudpresident Nelson Mandela lui: “Opvoeding is die magtigste wapen wat ons kan gebruik om die wêreld te verander.” Die onderwysers van vandag het opvoeding vir leerders kom oopsluit en dié wapen selfs meer mag gegee. Onderwysers het vir die leerders kom wys dat die word “onmoontlik” nie in die woordeskat van dié staan wat werklik omgee nie.

Ek sluit graag af met die volgende gedagte:

Onderwysers en leerders het oornag opgepak en geskuif van kontak-onderwys na aanlyn-onderwys. As ons dit kon vermag wat in meeste gevalle feitlik onmoontlik is, wat sal ons nie verder kan vermag nie? As ’n onderwyser wat deel is van hierdie beproewende tydperk in die onderwys, is ek opgewonde om te sien wat die toekoms vir ons inhou!

  •  Edané Combrink is ’n oud-Puk-student en eerstejaar taalonderwyser. Sy is mal daaroor om stories en gedigte te skryf en het eens op ‘n tyd gereeld vir Foto Verhaal Vrydag geskryf. Deesdae het sy haar eie Instagram-blad waarvoor sy skryf. 

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Baie leerders maak matriek in gewone jare, sonder inperking, en dan kan hulle nog nie behoorlik lees en skryf nie. So die huidige bohaai oor leerders tydens inperking is eintlik onnodig. Standaarde is al lank baie laag. Sit almal net deur. Dít gebeur in elk geval lankal reeds.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.