#JongStemme: Verwoestende uitwerking van wanfunksionele munisipaliteite

Deur Carl Sebastian Steenekamp

Carl Sebastian Steenekamp.

“Een van die mees ongunstige faktore vir ekonomiese groei in hierdie land, is wanfunksionele munisipaliteite,” het Rashad Cassim, adjunkhoof van die Reserwebank, gesê.

ʼn Munisipaliteit wat die basiese beginsels regkry wanneer dit by dienslewering kom, is ʼn voorvereiste vir ekonomiese ontwikkeling. Die ekonomiese welstand van Suid-Afrikaners en doeltreffende munisipale dienslewering is intrinsiek met mekaar verbind. Funksionele munisipaliteite is fundamenteel in die bystand om ekonomiese welstand te verbreed en werkloosheid om te keer.

In Suid-Afrika steier te veel plaaslike munisipaliteite egter eerder die Suid-Afrikaanse ekonomie deur ʼn kombinasie van kragtoevoeronderbrekings, wateronderbrekings, onnodige rompslomp en slaggat-belaaide paaie.

Domino-effek van swak dienslewering

Vroeg in 2021 het een van Suid-Afrika se grootste suiwelmaatskappye, Clover, besluit om die land se grootste kaasfabriek, wat in die dorp Lichtenburg in die Ditsobotla-munisipaliteit geleë was, te sluit.

Die hoofrede vir die sluiting was weens die verskriklike wanfunksionele toestand van munisipale dienste in Ditsobotla. Voortdurende wateronderbrekings, kragonderbrekings, paaie wat nie onderhou word nie en vol slaggate is, het die maatskappy genoop om op te pak en na Durban te verhuis aangesien hierdie ontwrigtings hulle vermoë om hulle kernproduk te produseer geknou het, veral in die behandeling en pasteurisasie van melk.

Die sluiting van dié Clover-aanleg het die plaaslike ekonomie baie hard getref, aangesien dit plaaslike boere marktoegang vir hul produkte gegee het, en ʼn reeks besighede het produkte van die maatskappy gekoop en verkoop. Die inkomste uit hierdie aktiwiteite het baie ander besighede in die gemeenskap ook ondersteun, om nie eers te praat van die ontelbare plaaslike werksgeleenthede in hierdie waardeketting nie.

Nog ʼn voorbeeld is die langlopende saak van Astral Foods, ʼn pluimveeprodusent wat ook veevoer verskaf, in Standerton in die Lekwa-munisipaliteit. Astral het miljoene rande aan produksie verloor weens dié munisipaliteit wat versuim het om Astral-foods se pluimvee-aanleg van voldoende water en elektrisiteit te voorsien. Die kragonderbrekings alleen het die maatskappy tussen 2016 en 2021 R39 miljoen gekos.

In my eie munisipaliteit, die Merafong-munisipaliteit, was daar onophoudelike kragonderbrekings in die munisipaliteit wat verwoestende uitwerking op die plaaslike ekonomie het. Een van die dorpe in die munisipaliteit, Welverdiend, het in Februarie drie opeenvolgende weke sonder enige krag deurgebring, ondanks talle pogings wat aangewend is om die munisipaliteit en die provinsiale departement van samewerkende regering te versoek om in te gryp. Geen aksie is geneem nie en die gevolg van drie weke sonder krag, het plaaslike besighede en die lewensbestaan van inwoners verwoes.

Hierdie gevalle illustreer hoe doeltreffendheid en ekonomiese volhoubaarheid baie afhang van die lewering van basiese dienste. Daarsonder sal vlakke van belegging in die besighede in dorpe krimp – wat reeds die geval is in plekke soos Welverdiend, Standerton en Lichtenburg. Dit is belangrik om te besef dat dit die volhoubaarheid van besighede selfs meer kan beïnvloed, aangesien sommige meer koste kan aangaan as hulle self probeer om die dienste te lewer wat veronderstel was om deur plaaslike regerings gelewer te word.

Wat is die pad vorentoe?

Vir munisipaliteite om te funksioneer, soos hulle moet, om ʼn besigheidsvriendelike ekonomiese omgewing te bevorder, is daar ʼn paar nie-teoretiese maniere om dit te bereik: die versekering van bekwame bestuur, finansiële amptenare, gekwalifiseerde tegnici en die belangrikste, bekwame politieke leierskap wat regeer maar nie inmeng met administrasie nie.

Nog ʼn kritiese area vir hervorming sou wees dat munisipaliteite na hul loonrekeninge kyk om te verseker dat salarisse nie geld vir kritieke diensleweringsfunksies opslurp nie.

Ten slotte, vir ʼn gunstige beleggings- en ekonomiese klimaat om voort te gaan, moet munisipaliteite die infrastruktuur en basiese dienste verskaf om die grondslag daarvoor te verseker. Sonder hierdie basiese beginsels waaraan voldoen moet word, sal plaaslike besighede daaronder ly en sal werkloosheid en armoede verdiep. Dit het die verdere effek dat die plaaslike belastingbetalersbasis erodeer, munisipale afhanklikheid van fiskale oordragte verhoog en Suid-Afrika se reeds beperkte fiskale omgewing vererger.

  • Carl Sebastian Steenekamp is 21 jaar oud en ʼn DA-wyksraadslid in die Merafong-munisipaliteit. Hy is ook ʼn voormalige navorsingsassistent by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jr ·

Ek is ‘n inwoner van Carletonville en hierdie jong man en andere is rêrig staatmakers. Hy help met krag probleme party keer in die middle van die nag. Hy en ander hou ons op hoogte. U is n waardevolle lid van ons gemeenskap. Baie dankie

Tiaan ·

Carl dankie vir jou meningstuk, ek stem volhartig saam met jou. Die ANC doen egter weinig om die wanbestuur aan te spreek, dit is daarom dat burgurlike organisasies soos bv Afriforum self inspring om dienste te lewer, maar intussen moet ons steeds die munisipaliteit aanhou betaal. Daar moet egter ‘n ander manier wees om dienslewering te verseker sonder die insette van die munisipaliteit want hulle doen in elk geval byna niks. Wat is die oplossing indien daar GEEN of bitter min dienslewering vanaf die munisipaliteit is nie?

ABDP ·

Baie dankie, goeie artikel, maar ons weet en verstaan mooi hoe dit werk en hoe om daar uit gekom. Ongelukkig is dit om teen ‘n harde muur vas te praat. Ek is ‘n stads en streeksbeplanner werksaam in een van NW se grootste mislukte stadsrade. Van die mees basies professionele werks etiek verstaan en besef die amptenare in diens nie. Die POLITIEKE KULTUUR versmoor ekonomiese groei en ons hande is werklikwaar afgekap!

Charl ·

Carl, jy is ‘n man so na my hart ! Wens ons kan meer van jou kaliber he sodat julle jongmense hierdie pragtige land van ons uit die drek kan lig waarin hy nou is want waaragtig, enigiets waaraan hierdie kaders hulle kloutjies slaan verval todat niks oorbly !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.