#JongStemme: Waarheen nou met Eskom?

Deur Louis van Wyk 

Louis van Wyk

Eskom was die afgelope week weereens, en met goeie rede, die grootste onderwerp van debat gewees. Berigte het ʼn paar dae gelede daarop gedui dat Eskom besig is om homself te staal vir fase 8-beurtkrag, ten spyte van hul pogings om die land te oortuig dat die kanse vir só ʼn gebeurtenis so te sê onmoontlik is.

Op 20 Februarie 2023, tydens die stelselopdaterings, het die hoofuitvoerende beampte verklaar dat Eskom tans 23 877 MW se opwekking aanlyn het, wat ongeveer die helfte van die totale geïnstalleerde kapasiteit is. Twee dae later word berig dat André de Ruyter, na ʼn omstrede onderhoud waarin hy korrupte bedrywighede by Eskom deur senior politici openbaar het, onmiddellik sy pos by Eskom moes verlaat.

Dit sal nutteloos wees om vir die soveelste maal te skryf wát presies die probleme is wat binne Eskom heers, maar dit laat my met die vraag: “Waarheen nou?”.

Kan Eskom omgedraai word en kan hy met goeie en sterk politieke en burgerlike wil sy strukture ten goede hervorm? My eerlike en tog hartseer mening, is ʼn reguit nee! Onder ANC-bewind, is daar geen kans vir Eskom om die horlosie terug te draai na sy gloriejare nie. Waarom my siniese antwoord?

Die gebeure rondom De Ruyter het vir my bewys hoe diep gewortel die korrupsie en immorele politieke mag binne dié instansie gevestig het. Ons het by die punt gekom waar diegene wat fluitjie blaas se lewens op die spel geplaas word en ek glo nie die algemene mens besef op watter vlak van gevaar ons tans beweeg nie.

Dit bring ons natuurlik tot die besef dat daar ʼn totale nuwe rigting ingeslaan moet word: Sonder die ANC! Ja, dit is die oplossing, ʼn Eskom onder nuwe bewind en nuwe administrasie. Dit geld nie alleenlik vir Eskom nie, maar vir die hele Suid-Afrika. Om verder te wil glo dat daar ʼn “goeie ANC” nog iewers bestaan wat nog net na vore moet tree, is om na strooihalms te gryp. Daar bestaan nie so ʼn konsep soos ʼn “goeie ANC” nie, maar eerder ʼn slegte ANC en ʼn slegter ANC.

Daar is twee maniere waarop ʼn mens ontslae raak van ʼn ongunstige regering:

Polities deur jou kruisie te gaan trek langs ʼn party wat nie net goeie waardes en beginsels voorstaan nie, maar ook een wat konkrete, moderne en praktiese beleid sal kan toepas. En ja, die kruisie wat jy trek, maak wel ʼn verskil – die kiesstelsel is proporsioneel en dit beteken dat elke stem wel geld.

En dan natuurlik die burgerlike oplossing aan die ander kant. Suid-Afrika kan sonder om te skroom, spog met ʼn sterk burgerlike samelewing wat die perke soms baie duidelik aan die regering kan stel.

Dit behels bewegings, organisasies en vakbonde wat deur middel van hofsake, selfdoen waar moontlik en ander vorms van burgerlike verset die magte van die staat tot uiterstes kan teenstaan.

Met hierdie kombinasie moet ons kan sorg dat die ANC in 2024 hulleself in die geskiedenisboeke bevind.

  • Louis van Wyk studeer LLB aan die Universiteit van die Vrystaat en dien as jeugsekretaris van die VF Plus.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Heinrich ·

Sterkte om die massas onbeholpenes te kry om hulle ‘bevrydingsorganisasie’ te verloën.

Fluisterwind ·

Kom ons dink ook aan die realiteit. Sou die ANC die verkiesing verloor en daar ‘n ander politieke party aan bevind kom, sal die ANC alles in hul vermoë doen om die regerende party te ondermyn. Wat dan?

annie ·

Huh! Eskom hom staal teen… Woorde versigtiger kies! Eskom kan dít nie eers doen sonder dat iemand daai staal dringend nodig kry vir ‘n besoek aan ‘n vriend wat hom ietsie betaal vir sy moeite nie. Dalk is Eskom teen dié tyd al besig om met herwinne staal uit sy kraal, weer gesmelt en gevorm, herstelwerk te doen… spaarsamige skelms of iets in der voege…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.