#JongStemme: Waarom in Afrikaans studeer? Want ons is sáám in dié ding!

Deur Frederik van Dyk

Frederik van Dyk.

Waarom in Engels studeer? “Dan is ek opgelei in die taal van die werkplek.”

Hoewel ek dikwels gefrustreerd met hierdie standaardantwoord raak, bly dit onder die omstandighede relatief rasioneel. Mense wil graag seker maak dat hulle met ʼn kompeterende voordeel in die werkplek kan instap, waar die flukse omgang met Engels ʼn bate word.

Hoeveel keer het jy al gestop en mooi nagedink oor die implikasie van hierdie taalkeuse? Wat veronderstel jou vanselfsprekende inkoop by die taal van die werksplek en die kommersiële omgewing? Is dit nie dalk ongesonde tonnelvisie om daardie antwoord so onkrities by ander oor te neem nie?

Wat Afrikaanstalige opleiding en Afrikaans in die akademie betref, moet ons dieper delf as net die wetenskaplik bewese feit dat moedertaalonderrig die beste metode van onderrig is.

By StudentePlein is dit ons oogmerk. Ons gaan vanuit die staanspoor dat ʼn teenwoordigheid van studie en navorsing in Afrikaans belangrik is omdat Afrikaans die gom van sy gemeenskap is. Die taal word deur sy sprekers geskep en ook deur hulle onderhou. Dit is nie net ʼn kommunikasiemiddel nie, soos ʼn heerlike gereg nie net voeding is nie: ʼn Taal, soos Afrikaans, is ʼn lewende argief van sy sprekers se beste, mees alledaagse en slegste oomblikke. Dit is ʼn tikmasjien wat gebruik word om nuwe kennis en ervarings te dokumenteer. Dit is die lens waardeur ons die wêreld elke dag leer ken; hoe die wêreld vir ons weerspieël word. Dit is die brug tussen my, ʼn noorderling, en jou, dalk ʼn Kapenaar, se geleefde ervarings.

Hierdie eienskappe toon aan dat jou moedertaal nie net oor jou gaan nie, maar oor jou medesprekers in jou taalgemeenskap. Iewers is ons geleer dat taal net ʼn lewelose, statiese middel is wat jy moet kan praat om jou sin te kry. Ons is geleer dat taal ʼn alledaagse bysaak is, soortgelyk aan eet en slaap. Hoekom anders spot ons oor jongmense wat BA Tale studeer, maar ons buig respekvol voor die dokters, ingenieurs en diegene wat ander sogenaamde “gesofistikeerde” beroepe beoefen?

Ons kyk neer op mense wat iets so skynbaar alledaags soos taal bestudeer. Ons dink standpunte oor taalbeleid is ʼn mors van tyd, want ons glo een oorheersende taal sal al die uitdagings wat taalverskeidenheid meebring, oplos. Dit is baie moontlik dat ʼn bepaalde dominante taal ʼn nuttige algemene gebruikstaal kan wees om kommunikasiegapings te oorkom in ʼn land wat steeds struikel weens die verdelende spook van apartheid. Het ons onsself al afgevra waarom Engels? Waarom is dit die oorheersende taal wat skynbaar alle probleme betreffende taalverskeidenheid sal “oplos”?

Die hegemonie van Engels is beslis nie ʼn toevalligheid van die geskiedenis nie. Inteendeel, soos vir baie dinge in hierdie land en wêreld geld, is Engels se oorheersing die gevolg van verowering deur ʼn koloniale ryk. Dit beteken nie dat ons ons Brits-Engelse nalatenskap histeries moet bestorm en met wortel en tak uitroei nie. Dit beteken wel dat Engels nie oorheers omdat dit inherent meerderwaardig of “beter” as ander tale of mense is nie.

Om die gesegde van Adam Small met aanpassing te leen: Toe die dice gerol is, het dit in Engels se guns geval. Hierdie geskiedkundige toeval het steeds gelei tot ongelykheid tussen tale in Suid-Afrika soos ons dit vandag ken, en dit is steeds die geval. Engels is steeds ʼn taal wat deur ʼn soetsuur erfenis van Britse innovasie én heerssug bevoorreg word. Om hierdie historiese realiteit te ignoreer, is gevaarlik vir die gesonde voortbestaan van veeltaligheid in ons land. Dit bedreig die volhoubaarheid van tale soos Afrikaans omdat die taal sy funksies en infrastruktuur teenoor Engelse oorheersing verloor: Op kommersiële, akademiese en opvoedingsvlak verloor Afrikaans stadig maar seker haar bevoegdhede. Onder die omstandighede van die Engelse hegemonie kan ons nie met opregtheid sê dat inheemse taalsprekers ʼn werklik vrye keuse het betreffende hul taal van opleiding nie.

Die domino-effek is ooglopend. Indien mense nie oor ʼn mate van kennisskepping, navorsing en onderrig in Afrikaans beskik nie, gaan ons al hoe minder gemeenskapsleiers soos onderwysers, joernaliste, akteurs, skrywers, sielkundiges en predikante in Afrikaans se toekoms sien. Onthou, ʼn taal is die gom van sy gemeenskap, nie slegs ʼn gebruiksmiddel nie.

By StudentePlein leef en werk ons met hierdie besef dat Afrikaans ʼn billiker plek verdien as wat dit tans toekom. Dit verwys nie na absolute gelyke aanwending ten alle tye nie. Inteendeel, die plek van Engels as lingua franca baken dit af en ken dit ʼn bevoorregte rol toe, maar dit beteken nie ander tale is nie geregtig op ’n plek in die openbare son nie. Engels mag nie alles uit die pad uit boender nie. Dit is aan die kern van ons waardigheid dat Afrikaans betekenisvol buite die braaiplek en huishouding kan floreer.

By StudentePlein help ons om hierdie veeltalige, grondwetlike droom te verwesenlik deur die Afrikaanse Matiestudent nie net met studiemateriaal te help nie, maar deur ʼn intellektuele ruimte te bied waar ons hierdie kwessie van die uiterste Engelse taaloorheersing in Suid-Afrika krities kan bevraagteken.

Sluit by ons droom aan en help ons om daaraan te bou!

  • Frederik van Dyk is ’n LLM-kandidaat en direksielid van StudentePlein NWO, ’n organisasie wat Afrikaanse akademiese ondersteuning aan Matiestudente bied.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.