#JongStemme: Wat as die drukkoker kraak?

Adriaan van Wyk. Foto: Verskaf.

Deur Adriaan van Wyk

Druk, te veel hooi op jou vurk, gebrek aan tydsbestuur, min slaap, baie werk, te veel ladingverspreiding, beplanning, wekkers, beraders, sielkundiges en uiteindelik uitbranding wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) onlangs as ʼn beroepsprobleem verklaar is, is alles terminologie waarmee ons samelewing van vandag al hoe meer te doen kry.

Veral hier in Suid-Afrika waar ons as die 106de gelukkigste land uit 156 lande gerangeer is – ʼn ietwat power uitslag in ʼn veronderstelde Reënboognasieland, het hierdie terme al diep spore gelaat.

Maar meer spesifiek is die jeug, en veral skoolgaande jeug, geweldig onder druk. As ons kyk na Finland, is dié land nommer een op die Gelukkigheidsindeks, asook die land wat beskou word as een met die beste onderwysstelsel ter wêreld. En dan natuurlik is die vraag wat in die lug bly hang, baie duidelik: Hoekom?

Een van Finland se hoekstene van onderwysbeginsels is “speel”. Leerders word langer pouses gegee, kry verskriklik min tot geen huiswerk, klasse word meer interaktief aangebied en leerders skryf slegs eenmaal ʼn toets aan die einde van hul sogenaamde matriekjaar. Die rede hiervoor is eenvoudig en logies: speel ontwikkel die kind natuurlik en sonder druk, wat uiteraard kinders en tieners meer gelukkig hou.

Die redenasiesprong hier is sekerlik al duidelik: ons jeug in Suid-Afrika ervaar te veel druk, hetsy as gevolg van ons akademiese vereistes, armoede, die bekommernis oor werkloosheid, groepsdruk of selfs druk vanaf meerderes om ʼn sukses te wees. Ons word so vasgevang in die kringloop van hard werk en min slaap, dat ons nie besef op watter ramp ons lewens kan afstuur nie. Volgens psigoterapeut, Amy Morin, kan te veel druk op kinders lei tot ʼn groter kans op geestesgesondheidsprobleme, veral depressie, en lei tot minder slaap.

Daarom is daar ʼn beroep op alle mense in Suid-Afrika wat op een of ander manier ʼn invloed op die jeug het, om om te sien na hulle. Om nie te veel druk op hulle te plaas nie, om hulle die geleentheid te gun om te speel – maak nie saak hoe oud hulle reeds is nie – om seker te maak hulle geniet nog die lewe en om seker te maak daar is ʼn helder toekoms vir ons land.

Dit is hoeka oudpresident Nelson Mandela wat gesê het dat opvoeding die kragtigste wapen is waarmee ons die wêreld kan verander. Hierdie wapen moet egter beter gebruik word, want te min mense besef dat hulle dié wapen gebruik en boonop verkeerd aangewend word, veral as daar terugverwys word na die Finland-voorbeeld.

Dus het ons ʼn gemengde, gesamentlike poging van die staat, maatskappye, ouers, skole en enige iemand anders wat kinders opvoed, nodig om die slegte gevolge van druk in ons land om te keer deur óf te help dra aan jeugdiges se swaar laste óf om dit doodeenvoudig minder te maak.

Dit is waar dat diamante onder geweldige druk gevorm word, maar dit is nie sommer net enige tipe materiaal wat omskep kan word in ʼn diamant nie. Verander jeugdiges met sorg in die regte materiaal sodat hulle dan ná hul jeugjare in diamante omskep kan word.

  • Adriaan van Wyk is tans ʼn gr. 11-leerder aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, en het in 2019 ʼn algehele derde plek behaal in die ATKV se Nasionale Debatkompetisie.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

WESKUS NOOI ·

So ‘n mond moet Jam kry!

Ons kinders word onder heeltemal te veel druk geplaas in SA!

Bid jou dit aan, graad 1’s skryf al toetse!

Ek het eers in Graad 4 (st 2) begin toetse skryf!

Kan ons nie Finland se stelsel aanvaar nie, ons sal baie meer gelukker en suksesvoller kinders kry!!!

Judge Dredd ·

Wel Finland het ‘n klein populasie 5.5 miljoen en groot reserwes olie/visbedryf en hoe taksasie, selfs onder die armer mense wat vir die groot sosialisties publieke spandering betaal. Min werloosheid as gevolg van groot staatsdiens en min onwettige/lae klas immigrante.

Kom ons sien wat gebeur as die oliereserwes/vis opraak ?

Sinies ·

Homogene bevolking, leer & lees kultuur, hoogs opgeleide ouerkorps vandag gelukkig, wat van die gevolge vir die volgende geslag.

Die resultate voorgehou is tot n mate onder verdenking in soverre: Verteenwoordig dit oral dieselfde maatstaf.

‘Te’ in enige vorm het nare nagevolge.

Klara ·

Té veel ouers plaas druk op hul kinders om aan ‘n magdom aktiwiteite deel te neem . Oormoeg kinders wat groot word onder die indruk jy is net belangrik indien jy presteer vir pa en ma.

Onnie ·

Adriaan, ek is ‘n onderwyser by ‘n top skool soos joune. Ek is elke dag dankbaar dat ek nie nou ‘n in die hoërskool is nie. Die druk is geweldig erg en ek hoor so gereeld van kinders wat selfmoord probeer pleeg en die psigiatriese hospitale is ook gereeld vol van leerders. Dis nie altyd agv druk by die skool nie, maar kan ander redes ook wees. Dit bly egter ongesond.

Jerry ·

Wanneer die drukkoker kraak is diegene wie se drukkoker kraak self nie eers bewus daarvan nie. Dit gebeur met jonk en oud. As dit nie met jou gebeur terwyl jy jonk is nie, dan haal dit jou in en gebeur dit op jou oudag. Fisies en geestelik knak jy en verval in demensia of altsheimers. Niemand is dus gewaarborg, dat die drukkoker nie sal kraak nie, jonk of oud. Om meer te speel terwyl jy jonk is en selfs oud is, help beslis om druk te verlig, daaroor bestaan daar geen twyfel nie, maar dat jou drukkoker een of ander tyd gaan kraak , dis gewaarborg, dis Virseker! Om te speel terwyl die kind leer is glad nie n nuwe idee nie, dit is net n bestaande idee wat in n onderrig konsep omskep is. Die oumense het geglo dat kinders leer terwyl hulle speel en dat die speel gedeelte kinders wegvoer op wonderlike verbeeldingsvlugte. Verbeeldingsvlugte word n roeping, wat in meeste gevalle later jare bewaarheid word. Alhoewel dissipline en roetine belangrik is, moet n kind wat speel se verbeeldingsvlugte nie onderbreek word nie, dit veroorsaak verwarring en kwade gevoelens by die kind, wees daarom geduldig en wag totdat hy of sy self klaar gespeel het voordat jy iets anders voorstel, soos dat dit dalk nou tyd is om te gaan bad en te gaan slaap. Identifiseer waarin kinders aangele is en laat hulle speel, speel daarin voorberei vir die grootmenswereld, dit verlig beslis die druk!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.